Totale aantal besoeke

vrijdag 16 maart 2012

Die geskiedenis van die Departement Afrikaans aan RAU: "Ek tik hom en hy klink"





































’n Wiel binne ’n wiel – Narratiewe van ’n Departement

F.I.J. VAN RENSBURG

Hoe dit begin het

Om die geskiedenis van ’n departement te verstaan, moet twee belangrike faktore eers in berekening gebring word.

Die eerste is vanselfsprekend die totstandkoming van die Randse Afrikaanse Universiteit. Met dié nie-konvensionele naam in sy blasoen wou die grondleggers iets wesenliks proklameer, naamlik dat ’n departement van Afrikaans ’n integrale deel van die Universiteit se akademiese en administratieve toerusting sal uitmaak solank as wat dit dié oorkoepelende naam dra. Die voertaal van alle kursusse sou Afrikaans wees. Daarbenewens was ’n kursus in Afrikaans verpligtenl vir verskillende leergange, veral in die Geesteswetenskappe. Die Departement Afrikaans-Nederlands was as gevolg van dit alles een van die grootste departemente van die Universiteit.

Die tweede faktor was egter nie voorsienbaar nie. Die Tweede Wêreldoorlog het ’n groot deel van die wêreld in konseptuele opsig radikaal anders as voorheen agtergelaat. Een slagoffer daarvan was die universiteitswese. Waar universiteitstudie voorheen basies in die teken gestaan het van agting vir geleerdheid as ’n waarde in eie reg, het ’n nuwe generasie studente hul opwagting voor die poorte van die universiteite gemaak met ’n nuwe waardekode: praktikaliteit, ’n eis om vir ’n beroep opgelei te word. Die gees was: Weg met die akademiese ancien régime met sy mummelende Gemaliëls wat hul filosofieë aan die uitspin was vir bewonderende studenteskares aan hul voete en wat frenetiek probeer om die mummelinge in aantekeninge om te sit. Daar was ook ’n fisiese rede vir hul onbehae. Deurdat klasruimtes deur die nuwe tipe student oorstroom is, moes baie van hulle op vensterbanke of waarop ook al, selfs op die vloer, sit.

Dit alles was ’n resep vir opstand. En soos dit meermale in die geskiedenis van soortgelyke situasies die geval was, het Franse studente die agitasie begin. Botsings tussen stakende studente en die polisie was aan die orde van die dag. Akademiese owerhede moes in dié harwar haastig planne beraam om kompromieë van een of ander aard aan te gaan.

Die rebelse gees het spoedig ook na ander dele van die wêreld gesprei. Ook na Suid-Afrika, met studente van die Universiteit van die Witwatersrand aan die voorpunt. Daar was byna daagliks optogte van stakende studente en konfrontaties met owerhede. Dit alles ten aanskoue van die studente van die jong Randse Afrikaanse Universiteit net oorkant die straat, waar hulle hul tydelike domisilie gehad het totdat hul permanente tuiste in Aucklandpark voltooi sou wees.

Die inisiatiefnemers vir ’n Afrikaanse universiteit aan die Witwatersrand was op daardie tydstip reeds tien jaar besig met omvangryke beplanning vir die verwesenliking van ’n ideaal: ’n universiteit wat nie die soveelste sou wees nie, maar ’n wesenlik nuwe, paslik vir ’n na-oorlogse wêreld.

Vir so ’n projek, het hulle besef, moes daar uitgekyk word vir jong, goed-toegeruste akademiese en administratiewe personeel, byvoorbeeld individue wat hul potensialiteite reeds aan hul onderskeie universiteite getoon het maar wat dalk nog vir jare sou moes wag tot hul seniors afgetree het. Jonges, want vir die vernuwende sisteme wat tot stand gebring moes word, was geestesstamina nodig. Die beplanningsessies sou lank en intens wees, en hulle het net sewe maande – van 1 Julie 1967 tot 24 Februarie 1968 – tot hul beskikking gehad om dit te bewerkstellig. Die inisiatiefnemers was egter gerus: as Rektor en leier van die span het hulle een van die knapste academici in die land gewerf: prof. Gerrit Viljoen, voorheen professor in Antieke Tale aan UNISA. Toe die amptelike opening van die Universiteit op laasgenoemde datum aangebreek het, was alles dan ook stewig in plek.

Jare later was lede van daardie beplanningsproses nog daarvan oortuig dat dit die hardste was wat hulle nog in hul hele akademiese lewe gewerk het.

Die RAU as vernuwer

Wat was die vernuwende elemente wat uit die beplanningsproses voortgekom het?

·     ’n Seminale besluit was die verlenging van die tradisionele akademiese jaar met ses weke. Die motivering hiervoor was die besef van die kosbare fasiliteite van universiteite wat vir maande na die afsluiting van ’n akademiese jaar agter slot en grendel is tot ’n nuwe weer begin.

·     Uit hierdie besluit het ’n tweede gevloei: die segmentering van die verlengde akademiese jaar in drie eenhede: ’n somertermyn van ses weke gevolg deur twee semesters, elkeen van die drie met ’n outonome kern, en noodsaaklik opeenvolgend. Dus ’n trimesterstelsel.

·     ’n Derde segmentering was dié van die akademiese week in twee komponente: drie van die vier beskikbare periodes gereserveer vir volklas-ontmoetings, die vierde vir ’n groepklas. Vir laasgenoemde is ’n departement se studente in groepe van vyftien, hoogstens twintig, verdeel. Die doel daarvan was om studente die geleentheid te gee om saam met die dosent gesprek te voer oor materiaal wat in die volklas aan die orde was; ook oor stof wat vraenderwys in kernaantekeninge aan die orde gestel is en waarvoor voorbereiding bedoen moes word en wel omdat vrae gestel kon word. Die doel van die groepklasse was die teenwerking van massafikasie – die verwyning van die individu in die massa – asook skoling in akademiese gesprekvoering. In die loop van die tyd is op inter-universitêre studentebyeenkomste na Raukie-verteenwoordigers verwys as “bekkig”. As hulle gevra is wat “die resep'” is, het hulle geantwoord: “Ons groepklas-ervaring.”

·     Die volklasbyeenkoms is bestee aan ’n ontplooiing en ontginning van ’n bundel kernaantekeninge wat elke student voor hom of haar gehad het. ’n Koorsagtige gejaag om aantekeninge te maak, was dus nie meer nodig nie. Die geleentheid was daar om eie aantekeninge by die kernaantekeninge te maak aan die hand van die dosent se ontplooiing van die materiaal.

·     Studierekenskap was in die vorm van twee of drie kort toetse in die loop van ’n semester en ’n finale eksamen aan die einde daarvan. Aan elk van die rekenskappe was ’n bepaalde persentasiepunt gekoppel. Hierdie reëling het ’n lang bloktyd oorbodig gemaak. Dis gevolglik drasties verkort.

·     Eksterne moderering het vir alle eindkursusse gegeld met die oog op portuur- evaluering.

Die somtotaal van hierdie veranderings was dat die voorgraadse akademiese jaar ’n heel ander profiel gekry het as dié van die konvensionele patroon, In die plek van die lanterfanterende vat van die pad hier teen eind-Februarie, begin Maart, en wat in die buurt van laat-September, vroeg-Oktober ’n “onverklaarbare” gevoel van onrus met hom meegebring het, het iets anders in plek geval: ’n akademiese jaar bestaande uit drie dinamiese eenhede, afgesluit met ’n redelik panieklose eindeksamen.

·     Nagraadse studie het harmonies aangesluit by die voorgraadse skoling. Omdat ’n voorgraadse studiepakket nie ’n los samevoeging van uiteenlopende vakke was nie, was ’n aansluitingsvermoë ten opsigte van nagraadse studie dus potensieel aanwesig.

Die drie vlakke van nagraadse studie – Honneurs, Magister en Doktoraal – is deeglik van mekaar onderskei. Elkeen was ’n trapklip in ’n stygende proses, met op eindvlak die verskaffinf van ’n oplossing van ’n vak-probleem, of op die minste ’n gemotiveerde aanduiding van die rigting waarin ’n oplossing gesoek sou kon word. Dus beslis nie blote kompilasie van bestaande kennis nie, maar die blootlegging van nuwe kennis en benaderingsmoontlikhede.

·     Die saak van gevorderde studie was ’n belangrike prioriteit vir die Universiteit. Voorbereiding vir ’n simposium oor dié aangeleentheid was ’n breinstormsessie gedurende ’n naweek op die Universiteit se eiland in die Vaalrivier. ’n Groep kundige dosente en deskundiges van buite die universiteitstad het gedagtes en moontlikhede rondgegooi en uitgetoets. Die resultaat hiervan is later op ’n goedgestruktureerde simposium aan die hele doserende personeel voorgelê vir moontlike verdere verfyning daarvan. Vier referate, elkeen gelewer deur referente wat die stormsessie meegemaak het, het ’n bepaalde aspek van die onderwerp uiteengesit: “Didaktiese doelwitte met nagraadse opleiding” (prof. J.R.Pauw, Fakulteit Opvoedkunde), “Die struktuur van nagraadse kursusse” (prof. D.H.Wiid, Fakulteit Natuurwetenskappe), “Die metode van leiding aan nagraadse studente” (ekself, Fakulteit Geesteswetenskappe) en “Die keuse van navorsingstemas vir M- en D-studies” (prof. J.G. Garbers, Fakulteit Opvoedkunde). Die referate is in een van die Universiteit se publikasiereekse, Intreeredes en lesings, gepubliseer onder die titel Die Universiteit en die nagraadse student (A 94). Die publikasie het as ’t ware as norm gefunksioneer wanneer nagraadse studie oorweeg is.

·     ’n Belangrike faset van vernuwing het verband gehou met die aanstelling van dosente en hul departementale funksies.

Soos aan die meeste ander universiteite is dosente vir ’n proefperiode aangestel. In die geval van die RAU was dit twee jaar. ’n Dosent wat in sy proefperiode nie die mas na behore kon opkom nie, was egter nie aan sy eie lot oorgelaat en aan die einde van sy proefperiode laat gaan nie. Vir probleem soos dié was ’n Buro vir Hoër Onderwys beskikbaar. Die Buro se basiese funksie was navorsing oor nuwe ontwikkelinge op onderwysgebied . Aan die hand van proeflesse in die taallabaratorium wat op band en video opgeneem is, kon die dosent self die aard van sy tekort waarneem en kon ’n didaktikus die probleem met hom/haar deurwerk.

·     Die dosent wat as departementele leier benoem is, se ampsbenaming en funksie was nie meer Departementshoof nie, maar Departementele Voorsitter.  Daarmee is as ’t ware te kenne gegee dat daar voortaan ’n meer demokratiese verhouding tussen die lede van die departement sal wees. Die verandering was ’n reaksie op die tradisionele bestuurstyl, waarvolgens ’n departementshoof sy gesag op die personeel kon afdruk omdat daar aanvaar is dat hy oor al die wysheid, inligting en bestuursvermoë beskik. Ook was dit nie nodig dat die departementele voorsitter noodwendig ’n professor moes wees nie. ’n Kundige senior lektor sou ook as voorsitter aangestel kon word.

Dié stelsel het ’n verskeidenheid bates ingehou. ’n Departementele voorsitter kon byvoorbeeld na afloop van sy administratiewe termyn weer voortgaan met navorsing, publikasie of watter ander akademiese aktiwiteit dit ook al behels het. In die geval van ’n groot departement met meer as een professor kon dit die vorm van ’n roterende voorsitterskap aanneem. Veranderinge soos dié het ook die moontlikheid ingehad dat jong kollegas geskool kon word vir latere “hoër diens”. Ook het dit gestrook met die akademiese strewe van die Universiteit om tonnelvisie te bekamp. ’n Goeie dosent moes so ver moontlik oor veelsydigheid beskik, sonder dat dit sy of haar spesifieke deskundigheid moes kortwiek.

Reaksie op vernuwings

Na gelang die Universiteit gegroei het, het sommige van die vernuwings in die knel geraak. Dit het veral die groepklasstelsel gegeld. Om deurgevoer te word, sou personeeluitbreiding noodsaaklik wees. Die Nasionale Departement van Onderwys het egter nie sy weg oopgesien vir die koste wat daaraan verbonde sou wees nie, met die gevolg dat die groepklasstelsel geleidelik afgeskaal is, en uiteindelik uitgefaseer moes word. Die volledigheid om gesprek in lesingtyd te voer, het egter gebly.

Dieselfde lot het die verlengde jaar getref, onder meer omdat die ander universiteite nie hul weg oopgesien het om “dosente se studie- en navorsingstyd in te kort” nie. Iemand het skertsend na dié argument verwys as tyd om vas te stel hoe lank dit ’n akademikus neem om langs die somersee van akademiese bleekheid tot blakende bruinheid te verander.

Tog het verskillende ouer universiteite wat langs die weg van die openbare media van die vernuwende dinge wat die jong Universiteit in werking gestel het, verneem het, verteenwoordigers van die Universiteit genooi om hulle nader in te lig daaroor. Op dié manier het van die vernuwings standaardtoerusting van hul inrigtings geword. Dit geld veral die semesterstelsel en alles wat daarmee saamgaan.

Inisiatiewe van die Departement

Die Departement Afrikaans-Nederlands het ’n wesenlike aandeel gehad aan verskillende veranderinge van die tradisionele akademiese opset, onder meer in daardie eerste sewe maande toe die Universiteit in wese tot stand gekom het.

·     In my hoedanigheid as Voorsitter van die Onderrigkomitee het ek ’n gereelde beplanningsessie vir die hele akademiese personeel ingestel en gelei. Die uitkoms daarvan was die eerste boekpublikasie van die Universiteit: Universiteit en onderrig (1968).

·     Nou verwant daaraan was my deelname aan die simposiumreeks oor nagraadse studie waarna reeds verwys is. Die insigte wat daaruit uitgekristalliseer het, het nie by teorie gebly nie, maar ook praktyk geword. In die twintig jaar dat ek aan die Universiteit verbonde was, het agtien Magisterkandidate en veertien Doktorstudente hul studies onder my leiding voltooi, afgesien van ses M’s en drie D’s vir wie ek mede-studieleier was. Ses van die proefskrifte is gepubliseer.

·     As voorsitter van die Leerganggroep Tale het ek ’n simposiumreeks vir die taaldepartemente ingestel. In oorleg met my kollega prof. Francois Odendal is op die tema Gesag en norm in die taal- en letterkunde besluit, ’n tema wat in verskillende opsigte op daardie tydstip baie relevant was. Alle kolleagas van die leerganggroep is genooi om op te tree, maar deelname was vrywillig. Elke referent het sy eie faset van die onderwerp gekies. Belangstelling in die simposium het nie net taalkundiges en letterkundiges getrek nie, maar ook ’n aantal lede van ander leerganggroepe. Die vyftien referate is deur prof. Odendal en ’n klein redaksiekomitee in twee bande byeengebring en hulle as C18 en C19 van een van die Universiteit se publikasiekategorieë, Monografiese reeks, gepubliseer. Ons twee het elkeen ook ’n referaat gelewer, hy oor die gesag van die woordeboek, ek oor die verhouding van letterkunde en pornografie.

·     Geïnspireer deur my bewoning van prof. Anton Reichling aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam se kursus in Algemene Taalwetenskap, het ek my later in my hoedanigheid as Voorsitter van die Leerganggroep Tale aan die RAU en in oorleg met prof. Odendal beywer vir die instelling van ’n leerstoel in ATW. Dit het baie optuiging gekos om daarin te slaag, maar uiteindelik het ons dit reggekry. Dat dit die moeite meer as werd was, het daaruit geblyk dat ons daarin geslaag het om twee eersterangse studente van Reichling aan te stel: E.B. (Diek) van Wyk as professor en J.C. (Jaap) Steyn as senior lektor.

My kontak met Jaap het oor heelwat jare gestrek. Toe ek as lektor in Taalkunde aan die Universiteitskollege van die Oranje Vrystaat aangestel is (1954), was Jaap ’n eerstejaarstudent in Afrikaans-Nederlands. Na sy BA was een van sy Honneurskursusse by my Strukturele Taalkunde. Sy MA onder my leiding het daarop gevolg oor die verhouding van woord en sin onder die opsig van Reichling se seminale en formidabele werk: Het Woord: een studie omtrent de grondslag van Taal en Taalgebruik (1935). Hy het vir die doktorsgraad onder my ingeskryf vir verdere ontginning van dié veld. Ek het hom egter aangeraai om eers Nederland toe te gaan vir studie onder Reichling. Reichling was bale beïndruk met dié student uit Afrika. Dit blyk uit studieverslae wat hy aan die Suid-Afrikaanse beurstoekenners gestuur het. Kort daarna het twee dinge gebeur: my leeropdrag is verskuif na letterkunde (onder andere na die Stilistiek op linguistiese grondslag), terwyl hy by die Universiteit van Port Elisabeth as dosent in Algemene Taalwetenskap aangestel is, waar Diek van Wyk sy Departementshoof was. In dié omstandigheid het ek hom aangeraai om liewers van promotor te verander, gesien die feit dat hy daaglikse kontak sou hê met ’n eersterangse taalkundige, en letterkunde my eerste liefde was. Daar is ooreengekom dat ek as eksterne eksaminator sou funksioneer. Hy het ’n goeie graad verwerf. Later is hy en prof. Van Wyk by die RAU aangestel as die eerste bekleders van die twee poste in ATW. Die verhouding tussen die Departemente AFN en ATW was steeds ’n hegte en ’n vrugbare.

’n Tersyde in dié verband: Terwyl ek vir die doel van my relaas oor my tyd by die RAU die stukke deurlees wat daarop betrekking het, kom ek onder meer af op die brief wat Jaap vir my geskryf het na sy ontvangs van die nuus dat sy proefskrif aanvaar is. Dit het so geopen: “Baie dankie vir u brief en telegram. U woorde waardeer ek baie. Soms verwonder ek my daaraan dat ek die voorreg gehad het om veral dié drie – u, proff. Van Wyk en Reichling – te gekon leer ken en in taamlik noue kontak met hulle te kon gewerk het. Daaroor is ek baie dankbaar. Voor in een van haar werke het M.E.R. die teks geplaas: ‘Yster slyp yster, so slyp die een mens die persoon van ’n ander.’” Dit het my soos min dinge in my lewe geroer.

Vir die instelling van ’n departement Algemene Litteratuurwetenskap het die Universiteitsbestuur egter nie kans genien nie, behalwe vir ’n voorgraadse kursus in Literatuurwetenskap, bedien deur een dosent. Ook hier was ’n knap-toegeruste bekleder beskikbaar. H.C.T. (Harri) Müller was vir ’n kort tydjie ’n student van my aan die Vrystaatse Universiteit. Na sy Magisterstudie in Engels, is hy as Rhodes-student na Oxford. Terug in Suid-Afrika het hy aansoek gedoen vir die ALW-pos en dit gekry. Hy was ’n buitengewoon briljante dosent met ’n ensiklopediese verwysingsraamwerk – eienskappe wat ook die kenmerk van sy proefskrif onder my leiding was. Hy was my laaste doktorale student. My kommendasie by sy promosieplegtigheid het ek soos volg afgestuit: “Meneer die Kanselier, veroorloof my om dit aan u te stel dat in al my jare van studieleiding dit die knapste student is wat dit my voorreg was om te begelei. Sy proefskrif is gepubliseer onder die titel Teks en taal mimesis, ’n buitengewoon belangrike werk.

·     Van heel vroeg is die behoefte aan ’n meningblad vir die Universiteit uitgespreek. Die Universiteitsbestuur was die gedagte goedgesind, en ’n redaksie is aangestel. Ek was lid daarvan. Daar is besluit op die naam Aambeeld, gesien die feit dat die kwartaalblad ’n forum vir openhartige gesprek tussen akademie en die wyer gemeenskap waarin dit gesetel was, wou wees. Ek was vir baie jare redakteur van die blad, selfs nog vir vyf jaar na my aftrede as spesiale professor totdat ’n geskikte redakteur gevind kon word, altesaam vyftien jaar. Dit het nogal heelwat gevra om saam met ’n swaar akademiese drag vier maal per jaar te sorg dat die blad verskyn. Die beloning vir die moeite was egter dat die pers kennis geneem het van aktuele artikels daarin wat gereeld verskyn het. In later jare het een van my afgestudeerde doktorstudente, Ronèl Johl, die leisels van die blad oorgeneem. In die loop van die tyd is die naam verander na Diskoers, wat as gepaster beskou is vir ’n nuwe bedeling.

·     Die twee Johls, Johann en Ronèl, het bykomend die behoefte gevoel aan ’n “little magazine”, die soort blad wat in die jare 70-80 soos paddastoele opgeskiet en gefloreer het. Die beoogde naam Spits wat aanduidend van die karakter en aanslag wat gevisualiseer is. Die blad het goede reaksie ontvang van die kant van onderskeidende lesers, maar ’n gebrek aan noodsaaklike fasiliteite (druk- en versendingskoste), asook die feit dat dit nie vir subsidie-akkreditering gekwalifiseer het nie, het groei gekortwiek. Tog het dit ’n merkwaardige lang leeftyd gehad. Maar daaroor later.

Die doserende personeel

Behalwe vir ’n enkele onaangename ervaring vroeg in die geskiedenis van die Departement het die personeel iets van die geaardheid van ’n gesin gehad. Dit is onder meer gestimuleer deur die weeklikse departementale vergadering op Vrydae. Hier het ons mekaar aan die hand van bespreking van dringende sake van die Departement beter leer ken. Elkeen het die vryheid gehad om insigte vir diskussie aan die orde te stel, of byvoordeeld oor die stand van hul individuele studieprojekte te rapporteer. Uit laasgenoemde het soms samewerkingsprojekte voortgespruit.

’n Lang ry van dosente wat aan die Departement verbonde was in die twintig jaar wat ek lid daarvan was, gaan voor my oog verby. Almal akademies goed onderleg, sommige ook bedeel met skeppende gawes op literatuurgebied. Vooraan my taalkundekollega Francois Odendal en vervolgens in alfabetiese orde: Pirow Bekker (plaasvervangend), Hannes Beneke, Johan Botha, Willem Botha, Rika Cilliers (Preller), Jac Conradie, Hans du Plessis, Johann Johl, Ronèl Johl, J.C. Kannemeyer, Dorothea Labuschagne (Van ZyI), Harri Müller, Karel Prinsloo, Jan Spies, Chris van der Merwe, Rhoda van Schalkwyk (Venter) en Victor Webb. Ses van hulle het onder my gepromoveer: Hannes Beneke, Johann Johl, Ronèl Johl, Harri Müller, Jan Spies en Chris van der Merwe. En nie te vergeet nie: ons bekwame en steeds vriendelike depadementele sekretaresses: Magriet Williams, Monica Botha en Trudie Strauss.

Die eerste doktorsgraad

’n Pikante episode hang met my eerste doktorstudent saam. Die eerste dosente van die Universiteit het op 1 Julie 1967 diens aanvaar, sonder dat daar nog ’n enkele student ingeskryf was. Die amptelike opening van die Universiteit was op 24 Februarie 1968. ’n Jaar later (Maart 1969) het die Universiteit sy eerste gradeplegtigheid gehad. By dié geleentheid is onder meer drie doktorsgrade toegeken. Die reaksie van die buitewêreld was iets van stomme verbasing dat ’n doktorsgraad blykbaar binne ’n jaar aan dié nuwe Universiteit behaal kan word, en dit nadat daar in voorafgaande maande so hoog opgegee is oor die hoë standaarde waartoe die nuwe Universiteit hom verbind het. Dit is egter gou tot bedaring gebring toe die volle verhaal bekend geword het. Die eerste dosente is vanuit ’n hele aantal Suid-Afrikaanse universiteite betrek. Daar was ’n ooreenkoms tussen die RAU en ’n paar van hulle dat doktorale studente wat aan hul alma maters reeds ver gevorder was met hul proefskrifte, saam met hul promotors kon oorgaan na die RAU. Dis in dié omstandigheid dat my Bloemfonteinse doktorstudent, Pirow Bekker, wat al ’n lang tyd benig was met sy proefskrif, een van die drie eerste ontvangers van RAU-doktorsgrade was. Sy studie, Die titel in die poësie, het later in boekvorm verskyn. Die twee ander gedoktoreerdes was terloops ook afkomstig van die Vrystaatse Universiteit en wel onder leiding van prof. Louw Alberts.

Personalia

Eerste intreerede

Die amptelike opening van die nuwe Universiteit was, soos reeds gesê, op 24 Februarie 1968. Êrens in Maart vra die Rektor my of ek die eerste intreerede sal lewer en wel voor die einde van die eerste semester, dit wil sê voor eind-Junie. Ek het geantwoord dat ek dit ongelukkig nie sal kan bolwerk nie. My situatie was taamlik benard. In die eerste week van Januarie van dié jaar het ek ’n operasie ondergaan wat sewe en ’n half uur geduur het. Daarbenewens het ek as Voorsitter van die Leerganggroep Tale ’n kwaai vuurdoop gehad met die inskrywing van die eerste studente aan die einde van Februarie. Dit het baie inligtingverskaffing behels – dit was immers ’n totaal nuwe sisteem waarbinne studente ingepas moes word. Ek het prof. Viljoen gevra om my dinktyd te gee. Wat hy bedoen het. Ek het besef wat sy moontlike oorweging was: dat dit gepas sal wees as die professor in Afrikaans die eerste intreerede lewer aan ’n Universiteit wat die naam “Afrikaans” in sy banier het. Na ’n paar dae het ek geantwoord dat ek sal probeer. Die datum is bepaal vir die aand van 13 Junie. Ek het hom gevra watter van die twee temas wat ek oorweeg het, hy as die mees gepaste vir die geleentheid sou beskou: die verhouding van ’n individuele teks tot die genre waartoe dit behoort, of een wat met die nuwe universiteit in verband staan: “Letterkunde en moderne tyd”. Hy het laasgenoemde verkies.

Dit het bars gegaan om dit betyds te voltooi.

Aangesien die Universiteit vir sy eerste paar jaar gehuisves was in ’n ontruimde bierbrouery, was akkomodasiefasiliteite vir iets soos ’n intreerede maar taamlik primitief, selfs half bisar. ’n Groot opkoms was uit die aard van die saak nie verwag die. Maar namate die antwoord op die uitnodigings ingekom het, het dit duidelik geword dat die Senaatsaal te klein sou wees. ’n Groter ruimte was nodig. Uiteindelik het die keuse geval op die voormalige pakhuis van die brouery – ’n enorme kasarm van ’n ruimte, maar wat tog funksioneel omskep is. Alles was dus gereed vir die gebeurtenis.

En toe besluit die weer om sy deel tot die probleem by te dra. Vroeg op die dertiende tref ’n kouegolf uit die Suide die Rand met wat as ’n meteorologiese tsoenami beskryf kan word. Haastige aksie was gebiedend. Ek moes byvoorbeeld inderdaad vir my ’n warm jas gaan koop!

Toe die akademiese prosessie vanaf die restaurant, waar die geselligheid na die seremonie sou plaasvind, die deur van die pakhuis bereik, word ons getref deur ... ’n hitte-temperatuur wat jou byna laat terugsteier het. Al wat ’n warmtebron was waaroor die Universiteit beskik het, is naamlik die middag haastig van oral af aangedra. Dat die jong RAU en ’n groot deel van sy dosente nie daardie aand hetsy met longontsteking of floute betref is nie, was iets om nie te glo nie.

Omdat die rede die toon moes aangee vir latere intreeredes, het ek besluit om die klassieke patroon te volg, maar dit terselfdertyd ook te wysig. Met verwysing na René Wellek en Austin Warren se seminale werk Theory of Literature het ek daarom soos volg geëindig: “Vir ’n onbevooroordeelde waarnemer is dit duidelik dat letterkundestudie op die oomblik moeilik by ’n skerpgerig van die ander wetenskappe sal kan verbykom ... Die broodnodige regenerasie van die literatuurstudie kan myns insiens alleen kom as letterkundestudie uitgroei tot literatuurwetenskap, en as hy, met inagneming van die besondere aard van sy ondersoekobjek, die volle konsekwensies hieruit vir hom trek. Om daartoe mee te werk, om die kragte te ondersteun en te help saamsnoer wat reeds in dié rigting werk, sal vir ’n belangrike deel die doel van my arbeid as wetenskaplike in hierdie Departement wees.”

Daarna het die personalia gevolg:

Meneer die Voorsitter en lede van die Raad, dat u my geroep het om hierdie leerstoel te beset, was vir my ’n oorsaak van diepe voldoening. Ek het u beroep as ’n roeping aangevoel. Ek dank u vir die vertroue wat u in my gestel het.

Meneer die Rektor, die tema van my rede het by my opgekom na aanleiding van u siening van ons Universiteit en sy plek in die moderne samelewing. Ek dank u vir die akademiese perspektiewe wat u so telkens losmaak en vir die integrerende wyse waarop U u personeel meevoer om die besondere taak van hierdie Universiteit te identifiseer en te verwesenlik. Ek beskou dit as een van die voorregte van my akademiese lewe om onder u leiding mee te werk aan hierbij taak.

Geagte kollegas, in die kort tydjie dat ons reeds kon saamwerk, kon ek telkens die weldadigheid van omgang met u ervaar. ’n Ideaal in verband met die werking en dinamiek van ’n universiteit het vir my reeds gedeeltelik in vervulling gegaan: die noodsaaklikheid van interdissiplinêre kontak, van vrugbare wisselwerking van fakulteite, leerganggroepe en departemente by alle behoud van outonomie. Mag hierdie openheid van akademiese gee en neem wat op die oomblik bestaan, ’n durende tradisie van ons jong Universiteit word.

Seer gewaardeerde kollega Odendal, in die paar maande wat ons naas mekaar in die departement gestaan het, kon ek reeds ruimskoots steun op u samewerking en lojaliteit, en geniet van u vriendskap en vakkundigheid. Ek sien saam met U uit na die komende jare se prikkelende uitdaging: die uitbou van ’n waardevolle departement op grondslag van die sistematiese, een waarin letterkunde en taalkunde mekaar op harmoniese wyse sal vind en mekaar tot nuwe bereikinge sal prikkel.

Dames en here studente, met u sal my kontak uit die aard van die saak die intiemste wees. Ek sien dit as een van die heerlikste beroepstake wat vir die mens weggelê is: om jongmense te vorm en in die proses self gevorm te raak. Ek sien uit na die jare waarin dit my deel van die kontrak sal wees om aan u die weelde van die Afrikaanse en Nederlandse letterkundes te bring en die dissipline wat daaruit vir die lewe kan voortkom.

Ek het gesê.”

Die intreerede is op band opgeneem en die volgende aand volledig oor die radio in ’n akademiese tydgleuf uitgesaai. Dit is gepubliseer in die Publikasiereeks van die Randse Afrikaanse Universiteit as nommer A2.

Dekaanskap

Iets verwants aan die intreerede het in verband met die dekaanskap van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte gebeur, maar met ’n ander afloop.

Omdat ek as Voorsitter van die departement Afrikaans-Nederlands wou sorg dat die departement deeglik gevestig is, het ek my langverlof uitgestel en die ander dosente die verlof waarop hulle geregtig was, laat neem voor myne. Ek het dit so gedoen omdat ek tydens my verlof Van Wyk Louw se hele oeuvre wou deurwerk met die oog op ’n publikasie. Dit het onder andere beteken dat ek na Amsterdam moes gaan met die oog op die agtjarige periode wat hy aan die Gemeentelijke Universiteit verbonde was.

Dit was pure plesier, en die studie het goed gevorder – tot daar op ’n dag ’n brief uit Suid-Afrika op my lessenaar beland met as inhoud die nuus dat “U op die pas-afgelope vergadering van die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte tot Dekaan van die Fakulteit met ingang 1973 verkies is.” Dit was of ’n pyl my in my rug getref het. Ek het nog nooit die geringste ambisie gehad om ’n administratieve funksie te beklee nie. My passie was Om ’n akademikus te wees, om ’n goeie departement te fundeer en op te bou. Ek het dit as lafhartigheid beskou dat die besluit geneem is terwyl ek nie teenwoordig was om te sê dat ek nie beskikbaar is nie. Ek het dadelik ’n brief begin skryf om te sê dat ek dit nie aanvaar nie en my redes verskaf waarom nie. My vrou het my egter gewys op die dilemma waarin dit die Fakulteit sal plaas. Dis teen die einde van die jaar, met ander woorde dit was waarskynlik die laaste Fakulteitsvergadering van die jaar.

Die gevolg van dit alles was dat ek na ’n hoër rat moes oorskakel met my studies om, terug in Suid-Afrika, vir die twee maande voor die begin van die nuwe akademiese jaar die studie in eerste konsep te voltooi. Die finale manuskrip is gedurende die vakansies van die volgende jaar afgehandel. Die materiaal was van so ’n omvang dat dit in twee bande verdeel moes word en dan ook so verskyn het: Sublieme ambag. Beskouings oor die werk van N.P. van Wyk Louw I en Swewende ewewig. Beskouings oor die werk van N.P. van Wyk Louw II.

Geen wonder dat toe my twee jaar as dekaan verby was, en ek weer voorgestel is vir ’n tweede termyn, ek dit met die grootste denkbare genoeë van die hand kon wys.

Fokus op Van ook Louw

Sedert my studiejare aan die Vrystaatse Universiteit (1939-1943), in die tyd van die deurbraak van die Dertigers, het Van Wyk Louw en sy werk my geboei. Later, tydens my studie aan die Universiteit van Amsterdam (1948-1951), het ek sy klasse bygewoon, nie met die oog daarop om onder hom te promoveer nie, maar om een van sy werke te toets aan die hand van die Stilistiek op linguistiese grondslag, die jong dissipline waarin letterkunde en taalkunde by mekaar uitgekom het.

Terug in Suid-Afrika het ek aan my oud-alma mater gedoktoreer op grond van ’n proefskrif met as titel Skering en inslag: ’n Stilistiese analise van Ballade van die Bose.

Na my aanstelling aan die RAU in 1967 en hy terug in Suid-Afrika, was ons vir drie jaar oorbure – soos vroeër gesê: net ’n straat het Wits en die RAU van mekaar geskei. So was dit byvoordeeld by geleentheid vir die Honneursstudente van albei Universiteite moontlik om bymekaar te kom vir ’n seminaar oor “Klipwerk” in Nuwe Verse waaroor daar heelwat verskille tussen literatore bestaan het. Ek het hom gevra om die bespreking te lei, maar veral om as leser van sy gedig deel te neem. Dit het hy op sy fynsinnige manier gedoen.

’n Gevolg van die seminaar was ’n uitnodiging deur die SAUK aan hom om vir hulle ’n reeks van nege praatjies oor “sy werk en onderwerpe wat daaruit voortspruit” te lewer. Waartoe hy ingewillig het. Dit was die eerste keer dat hy bereid was om in die openbaar oor werk van hom te praat. Die nege praatjies, wat in die periode Februarie, Maart en April van 1970 uitgesaai is, is op plate opgeneem en in ’n beperkte oplaag in ’n keurige houer verpak met as titel N.P. van Wyk Louw aan die woord.

Die SAUK het vir hom ’n paar van die bundels gegee om te skenk aan wie hy dit graag sou wou doen. Na sy dood op 18 Junie 1970, twee maande na die laaste praatjies gelewer is, het sy vrou op ’n papiertje afgekom waarop staan: “Aan wie gestuur moet word.” Daarop het net twee name gestaan: dié van sy broer Gladstone, die ander myne.

Na sy dood het ek twee inisiatiewe geloods.

Die eerste was in verband met sy boekery. Hy het ’n besonder waardevolle biblioteek gehad, verteenwoordigend van die meeste van die groot impulse van sy skeppende en denkende lewe. Aangesien daar vir die jong RAU (pas twee jaar oud) ’n lang pad van biblioteekbou voorgelê het, het ek met mev. Louw gaan praat om te hoor of hy dalk enige bepaling in verband met sy boekery gemaak het. Haar antwoord was dat hy aangedui het dat hy graag sou wou sien dat die boekery as ’n geheel behoue moet bly, en dat as die familie sou besluit dat dit verkoop moet word, die RAU die eerste opsie daarop moet hê, aangesien sy eie universiteit (Wits) reeds oor ’n enorme biblioteek beskik het. Ek het die boodskap aan die Hoofbibliotekaris en die Rektor oorgedra, en daar is besluit om die eersterangse boekkenner Gerrit Bakker, wat self groot agting vir Van Wyk Louw se werk gehad het, te vra om die boeke te evalueer. Die bedrag, ’n baie billike, was binne die Universiteit se vermoë, en dit kon dus aangeskaf word. Dit is opgeneem in die Biblioteek se afdeling Spesiale Versamelings. Afgesien van die gehalte van die boek, is daar die ekstra waarde verbonde aan die kant-aantekeninge wat hy tydens sy lees daarin aangebring het. Meer as een studie het daaruit voortgespruit, onder meer ’n proefskrif onder my leiding: Van Wyk Louw as literêre kanttekenaar deur W.J.A. van Tonder.

Die tweede saak wat ek aangevoer het, was een met ’n veel wyer impak. Reeds in die jaar van sy dood het ek die Universiteitsbestuur versoek om ’n jaarlikse Van Wyk Louw-gedenklesing in te stel. My motivering was dat so ’n lesingreeks ’n vaste basis kan skep vir ’n deurlopende studie van die werk van Afrikaans se belangrikste skrywer en ’n ontginning van onverwerklikte inisiatiewe daarvan. Die lesingreeks moes nie ’n verheerlikende inslag hê nie (iets waarvan hy grondig afkerig was; inteendeel: dit moet ’n gesprek met Van Wyk Louw se werk wees, in die gunstigste geval ’n openhartige kritieke konfrontasie daarmee. Langs dié weg sou sy oeuvre steeds deel van ’n lewende tradisie kan bly, soos byvoorbeeld dié van Dante, Shakespeare en Goethe in hul onderskeie literature en denkwêrelde. Van Wyk Louw se werk het nie net vir sy eie mense iets te sê nie, maar ook vir andere in die land, selfs in die buiteland waar Afrikaans bekend is, asook in vertalings daarvan. Daarom moet die referente uit ’n wye verskeidenheid gebiede kom.

Die voorstel is met geesdrif aanvaar. Die eerste lesing is deur sy broer, W.E.G. Louw, gelewer. Die jongste tot op datum (2007) deur prof. Louise Viljoen van Stellenbosch.

Vroeër in die reeks het ek ’n lesing gelewer met as tema Van Wyk Louw se intellektuele houding (1974) en prof. Odendal oor ’n Kort taalkundige reis deur Van Wyk Louw (1987). Die eerste elf lesings se publikasie is deur my gebundel, met as titel Oopgelate kring (1982); die daaropvolgende drie en twintig deur prof. Willie Burger onder die titel Die oop gesprek (2006). Een lesing (Van Wyk Louw se poësie in die musiek) kon nie gepubliseer word nie omrede dit vir ’n groot gedeelte plaat-geïllustreer was.

Die periode van vyf en dertig jaar dat die reeks bestaan, is ongeëwenaard vir ’n literêre huldigingsreeks in Suid-Afrika, maar ook in meer as een ander land. En nog is die einde daarvan nie te voorsien nie, gesien die universele appél daarvan.

Afskeidsfunksie

Vir ’n ander inisiatief van die Departement was die twee Johls, Johann en Ronèl, verantwoordelik. Dit was die tydskrif Spits. Na hul Magisterstudies aan die Vrystaatse Universiteit het hulle onder my leiding aan die RAU gestudeer en hul doktorsgrade by geleentheid van dieselfde gradeplegtigheid ontvang – iets uitsonderlijk vir ’n egpaar.

Met die ervaring van die joernalistiek – as gereelde resensente – wat hulle in Bloemfontein opgedoen het, onder leiding van ’n oud-student van my, Anna van Zyl, Boekeredakteur van Die Volksblad, het hulle teenoor my die gedagte van ’n tydskrif geopper. Die resultaat van die gedagtewisseling was Spits, met hulle, Jaap Steyn en ek as redaksie. Dit het ’n skerpsinnige inslag gehad, en was op ’n ontwikkelde leserspubliek gerig.

My verpligte aftrede op vyf en sestig jaar was eind-1987. ’n Afskeidsfunksie vir die Universiteit se eerste professor in Afrikaans is vir 28 Oktober van dié jaar bepaal. Die seremoniemeester sou Johann Johl wees wat pas as my opvolger aangewys is.

Toe my vrou en ek die lokaal binnekom, was ek verwonderd oor wie almal daar is. Onder andere val my oog op minister Gerrit Viljoen, eerste Rektor en op daardie tydstip Kanselier van die Universiteit, en mev. Viljoen. Ook baie ander wat ek nie vanuit die akademiese sfeer kon eien nie. Iets in die atmosfeer was vir my egter half vreemd: die gesprekke is so gedemp.

Johann het die verrigtinge op sy gewone netjiese manier begin. Die punte van sy betoog spel hy netjies uit: “Een van die grondleggers van die Stilistiek op linguistiese grondslae”, “Voorstander en bevorderaar van suiwer literêre maatstawwe by die toekenning van literêre pryse”, “Die gelykberegtiging van taalkunde en letterkunde”, “Taalpolitieke aktiwiteit”, “Belangwekkende Van Wyk Louw-studies”, “Bydraer tot die Leroux-kritiek”, selfs: “Pornografie/sensuur”. Dis of ek my nie herken nie.

Toe hy klaar is, voel ek my geroepe om te bedank. Ek doen dit, en was op die punt om na my plek terug te loop, toe hy sê: “Professor, dis nog nie die einde van die seremonie nie.” Van die lessenaar haal hy ’n boek af en oorhandig dit aan my. Vir ’n oomblik glo ek nie wat ek sien nie. Op die titelblad: F.I. J. van Rensburg 65. Ronèl Johl/Johann Johl, bo in die regterhoek: Spits. Jy kon my met die spreekwoordelike veertjie omtik. So iets het ek hoegenaamd nie verwag nie.

Geleidelik word die komplot waarvan ek vooraf niks moes weet nie, duidelik. Die Johls het die bestuurder van Rapport, mnr. Fanie Jordaan, genader vir ’n huldigingsbundel by geleentheid van my aftrede. Ek het in die loop van jare heelwat artikels vir die koerant gelewer. Jordaan was heerhartig daarvoor te vinde. Die Johls het ’n aantal oud-studente van my en van my oud-kollegas van die Vrystaatse Universiteit en ’n paar ander universiteite asook van die RAU uitgenooi om bydraes te lewer. Dit moes egter geskied sonder dat ek op enige manier daarvan bewus moes wees. Ook uitgenooides na die oorhandigingsfunksie moes die swye oor die boek bewaar. My vrou moes net bevestig dat ons op die aand van 24 Oktober beskikbaar sal wees vir ’n afskeidsgeselligheid.

Ek het nooit besef watter bedrewe konkelaars ek onder my vriende en kennisse getel het nie. Maar ek was beïndruk deur die feit dat die pluimsaad van Spits nog so lank en so ver gewaai het ...

Na my aftrede is ek aangestel as Spesiale Professor sodat ek met my studies en publikasies kon voortgaan sonder bekommernis oor ’n faktor soos publikasiekoste.

Later is ek tot lid van die Raad van die Universiteit verkies, wat ek gebly het tot die RAU oorgegaan het tot die Universiteit van Johannesburg.

Verhouding met my collega proximus

As ek twintig jaar na my aftrede terugkyk op my twintig jaar van verbintenis met die Departement Afrikaans-Nederlands, staan daar vir my veral een groot baken uit. Dis die verhouding wat daar tussen my en my kollega Taalkunde, Francois Odendal, bestaan het en tot vandag toe nog bestaan.

Toe ons aangestel is, het meer as een hom en haar afgevra hoe dit moontlik sal wees vir twee individue wat in geaardheid so baie van mekaar verskil (“elkeen ’n hardekop van sy eie”) om harmonies saam te werk. Die antwoord is eenvoudig: omdat ons agting vir mekaar se akademiese deskundigheid gehad het en van mekaar se integriteit verseker was. Maar ook buite die direk akademiese kader was daar oorvleuelende belangstellings: in sy geval as taalkundige in die letterkunde, in myne as literator in die taalkunde. Daarom byvoorbeeld dat hy in sy Van Wyk Louw-gedenklesing so kundig oor Van Wyk Louw se taal kon praat, nes vroeër oor Peter Blum s’n; en dat ’n groot deel van my publikasies berus het op die Stilistiek op taalkundige grondslag. Letterkunde en taalkunde het in so ’n situatie steeds dieselfde onderriggewig en personeelvoorsiening geniet.

Met ’n deurblaai van sy publikasies hier in my studeerkamer met die oog op dié artikel kom ek weer af op twee inskripsies wat my weer met nostalgie na ’n verbye stuk lewe laat terugkyk. Die een kom voor in sy gepubliseerde Van Wyk Louw-gedenklesing, met as opdrag: “Opgedra aan prof. F.I.J. van Rensburg, jarelange vriend en gewaardeerde kollega, inisieerder van die N.P. van Wyk Louw-gedenklesingreeks.” In sy eie handskrif skryf hy: “Vir Frans, jy weet wel waarom hierdie stukkie aan jou opgedra is en daarvoor sê ék dankie. Wat jou natuurlik nie daarvan ontslaan om so krities nodig te wees nie. Dankbaar, Francois.”

Die tweede is sy geskenk van ’n eksemplaar van die Derde hersiene uitgebreide uitgawe van sy HAT: Verklarende handwoordeboek van die Afrikaanse taal met dié inskripsie: “Vir Frans. Dankie vir ons vriendskap en kollegialiteit deur die jare. Francois. 15/2/94.” Ek gebruik daardie boek vandag nog, elke dag – as ek my daaglikse blokkiesraaisel pak! Dit het my nog selde in die steek gelaat.

As ek terugdink aan dinge soos hierdie, kom dié reël uit die Middelnederlandse Egidiuslied by my op: “Dat was gheselscap goet ende fijn”. Dankie, kollega en vriend!

’n Taalkundige in die eerste jare van die RAU

F.F. ODENDAL

Wie sou kon dink dat ek in die eerste semester van 1967 sou aansoek doen vir ’n pos by die pas gestigte RAU nadat ek slegs in die tweede semester van 1966 by die UWK as professor begin het?  Nie dat ek ongelukkig was by die UWK met briljante studente soos Jakes Gerwel, Franklin Sonn, Tony Links en Ikey van der Rheede nie.  Maar die RAU (waarvoor so lank geveg is, o.a. deur my skoonouers, die Terburghs) het tog so aanloklik gelyk.  Ek het nie aansoek gedoen toe ’n eerste advertensie vir professor in Afrikaans verskyn het nie.  Toe daar egter kort daarna ’n tweede advertensie verskyn, het ek dit as ’n vingerwysing gesien en dié keer wel aansoek gedoen.  Ek is genooi na ’n onderhoud op ’n Saterdagmiddag wat plaasgevind het in die rektor se kantoor in die ou brouery in Braamfontein.  Daar was agt kandidate teenwoordig, vier vir ’n pos as senior lektor, indien ’n professor nie sou aangestel word nie, en vier vir die pos van professor:  naas my, Louis Eksteen, C van Heerden en Jan Senekal.  Die keurkomitee het bestaan uit die Rektor, prof. FIJ van Rensburg (wat toe reeds aangestel is na die eerste advertensie), en prof. HJJM van der Merwe (vir wie Gerrit Viljoen ’n groot bewondering gekoester het).  Die pos is my aangebied, maar ek kon eers in 1968 begin aangesien my kontrak ’n semester kennisgewing vereis het.

Geld was nog relatief “volop”, en ek het ’n keer of drie-vier na Johannesburg gevlieg vir samesprekings met die personeellede wat reeds in die tweede semester van 1967 kon begin.  Hierdie groep kon hulle tyd volledig aan beplanning bestee, en dit het my opgeval hoe toegewyd hulle was.  Voordat ek die pos aanvaar het, het ek eers met Frans van Rensburg (wat die eerste drie jaar voorsitter van die departement sou wees) ’n gesprek gevoer om vas te stel hoe ons teenoor mekaar sou staan:  hy het my belowe dat hy hoegenaamd nie sou inmeng in die taalkundeafdeling nie ― ’n belofte wat hy, integer mens wat hy was, volledig nagekom het.  In die 20 jaar wat ons saam gewerk het, het daar ook nooit ’n harde woord tussen ons geval nie.

Die uitslag van die bespreking van 1967 was dat alles de novo bekyk moes word en waar nodig gewysig sou (moes) word:  kursusse almal in beginsel seminaarsgewys aangebied;  groepklasse van nie groter as 20;  studiehandleidings in alle vakke vir alle voorgraadse kursusse,  ens., ens.  Maar daaroor sal ander kollegas sekerlik in besonderhede getuig.  Gerrit Viljoen was in elke voorstel duidelik sigbaar, en dit is dan ook hier die plek om sy lof te besing as leier:  hy het sy standpunt sterk verdedig, maar nie ander se opinies onderdruk nie.  Maar jy moes jou ken as jy jou teenoor hom wou opstel.

Begin 1968 het ons dus begin klas gee, in primitiewe maar funksionele omstandighede.  Ook ons kantoorruimtes was toereikend, veral dié vir senior personeellede.  Ons gesin was gehuisves in ’n woning teen Kingsway, vir tydelike verblyf voldoende.  Ek het dadelik begin soek na ’n erf en het ’n behoorlike plek aan die suidekant van Aasvoëlkop gekry.  Ek het Hannes Meiring genader as argitek:  hy het my die dienste van Jackie van der Lecq aangebied, ’n junior lid van sy personeel.  Jackie het hom uitmuntend van sy taak gekwyt.

Wat die doseerkant betref:  ons het net ’n eerstejaarskursus in alle vakke aangebied (waar toepaslik herhaal saans)  en ’n gedeeltelike Honneurs.  Dit het goed verloop (vir Honneurs het ek Morfologie gekies), behalwe dat die studente nie voorbereid daarop was dat hulle aan die einde van die eerste semester op grond van onvoldoende prestasies die universiteit moes verlaat nie.  Dit het nóg studente, nóg ouers verwag en daar moes vure doodgeslaan word.

My eerste twee jaar by die RAU was baie moeilik:  nuwe leerplanne opstel, nuwe huis bou, intreerede lewer, skielik aan die begin van die tweede jaar tot dekaan verkies (omdat die eerste dekaan sy eie lewe geneem het), die tweede jaar voorsitter van die departement word terwyl Frans langverlof geneem het.  In 1972 kon ek ’n jaar langverlof neem, wat ek meestal gebruik het om iets van die TGG wys te word, sonder noemenswaardige sukses.  Ek het intussen ’n boekie Aspekte van taal  gepubliseer, bedoel om eerstejaars in te lig oor aspekte van die Algemene Taalwetenskap.  Dit het nogal heelwat sukses gehad, veral ook by kollegas.

Ek is einde 1972 op eie koste na Europa om kollegas te ontmoet en meer te wete te kom oor die stand van die vak.  Dit was net nadat apartheid die wêreld geslaan het, en ek het baie vyandskap verwag, maar ek is kollegiaal ontvang.  Ek het veral aanklank gevind by Schultink in Utrecht en Bakker by die Vrije Universiteit van Amsterdam.  In 1980 kon ek ’n referaat lewer by die sesde Internasionale Germanistekongres in Brussel en enkele weke toevoeg aan my besoeke aan Nederland in 1972.  Ek het ook ’n draai by Leuven in België kon maak.  Oral hartlik ontvang.

Intussen het sake rustig verloop by die RAU.  Ons eerste aanstelling was Karel Prinsloo vir die doseer hoofsaaklik van Praktiese Afrikaans.  Hy het slegs een jaar gebly, opgevolg deur Jan Spies en Victor Webb.  Toe laasgenoemde besluit om te skuif na Algemene Taalwetenskap, het ek dit kon bewerkstellig om ’n gesoute historikus in die persoon van Jac Conradie aan te stel.  Dit was altyd my opvatting dat ’n taalkundeleerplan so wyd moontlik moes wees, soos ek later uiteengesit het in ’n referaat “Inhoud van ’n taalkundeleerplan”.  Met Jac wat die historiese taalkunde vir sy verantwoordelikheid kon neem, en later Hans du Plessis en Willem Botha as repektiewelik sintaktikus en semantikus, het ek gevoel ons departement was minstens gelykstaande aan elke ander departement in die land op die gebied van die taalkunde.  Die samewerking in die departement was dwarsdeur die jare hartlik.  ’n Mens kan altyd ellelank uitwy oor verhoudings tussen kollegas.  Voordat ek hierin verval,  moet ek ’n woord sê  oor my en Frans van Rensburg.  Die stelsel by die RAU was dat senior kollegas mekaar “aflos”  al om die twee-drie jaar as voorsitter.  Ek en Frans het dit sonder enige haakplekke telkens kon doen, en dit kon net geskied omdat ons, ten spyte van sterk uiteenlopende geaardhede, mekaar vertrou en gerespekteer het.  Ek kon nie ’n beter en meer toegewyde kollega gekies het nie:  en “dat is ook geen klein ding in een mens z’n leven”,  en daarvoor sê ek hier dankie.

Spesifieke insidente en situasies tydens my dienstyd, sluit in: 

·     inisiëring van ’n reeks referate  “Gesag en norm in die taalkunde”  gedurende my voorsitterskap van die leerganggroep Tale, deur die universiteit uitgegee in twee bundeltjies;

·     twee termyne as verteenwoordiger van die senaat in die uitvoerende komitee;

·     lewering van ’n referaat “Kort taalkundige reis deur N.P. van Wyk Louw”  in die reeks Van Wyk Louw-gedenklesings;

·     voorsitter van die Linguistevereniging van Suider-Afrika (7 jaar) en die toekenning van die erelidmaatskap van die vereniging met my uittrede as voorsitter.

’n Enkele woord oor nagraadse leiding:  ek was nie ’n goeie studieleier nie, maar kon darem so ’n dosyn M’s aflewer en drie D’s.  Sommige van die M’s was goed en het neerslag gevind in vaktydskrifte.  Ek is in elk geval trots op elk van die drie D’s:  Dirk van Schalkwyk, Anna Coetzee en Livingstone Nkatini.

Ter afsluiting ’n enkele woord oor aktiwiteite buite die departement, wat myns insiens tog positief op die departement gereflekteer het.  Ek het reeds my voorsitterskap van die LVSA genoem.  Verder, ek was reeds lid van die Taalkommissie van die S.A. Akademie toe ek by die RAU aangesluit het en het in totaal 30 jaar daarin gedien, die laaste 14 jaar as voorsitter.  Dit was ’n tyd toe die Taalkommissie nog hoë aansien gehad het.  Ek was ook bevoorreg om 20+ jaar lid van die Komitee vir Taaladvies van die SAUK te wees.  Die werksaamheid waarvoor ek moontlik die beste onthou sal word, is die bewerking van die tweede tot die vyfde uitgawe van die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT), wat vir hom ’n unieke plek onder moedertaalsprekers van Afrikaans verwerf het.

Eerbewyse wat aan my gekom het, en dus ook positief op die departement moes reflekteer, was die toekenning van die CJ Langenhovenprys vir taalkunde, ’n goue JBM Hertzogpenning vir diens aan die Akademie en ’n vergulde pen- en potloodstel, met inskripsie, van die SAUK.  Ook twee huldigingsbundels by my uittrede, nl. Leksikografie in Leksikologie, bydraes deur vakgenote, en ’n aflewering van die departementele meningsblad Spits, met die titel Onomheinde sin.  Maar genoeg hiervan.

Ek was 21 jaar aan die RAU verbonde.  Dit was 21 goeie jare.

Herinneringe

J.J.P. (Hannes) BENEKE

My betrokkenheid by die Randse Afrikaanse Universiteit het begin in 1957 toe ek uit die bloute verkies is tot sekretaris van die Skakelkomitee van Johannesburgse kultuurorganisasies en verenigings. As spreekbuis van plaaslike kultuurinstansies het die Skakelkomitee onder die uiters bekwame leiding van wyle Hennie Roux, hom sterk beywer vir die stigting van ’n Afrikaanse universiteit in Johannesburg, en dit het my as sekretaris nogal aan die gang gehou. Dit was Hennie Roux egter nie beskore om die vrug op sy arbeid te geniet nie. Een Vrydagmiddag was ek en hy tot skemeraand in sy kantoor besig met sake van die Skakelkomitee. Ons het saam na ons motors gestap, mekaar gegroet en elkeen sy koers gegaan. Minder as ’n uur later is Hennie Roux dood aan hartversaking.

Die Johannesburgse Skakelkomitee het die skok van Hennie Roux se skielike dood nie oorleef nie; ’n paar bittereinders het vergeefs probeer om wiele weer aan die rol te kry, maar uiteindelik tou opgegooi. Dit was dan ook die einde van my betrokkenheid by die voorgeskiedenis van die RAU.

Ek het onder andere my Magister- en Doktorsgraad, albei onder leiding van prof. FIJ van Rensburg, aan die RAU behaal en was vanaf Januarie 1976 tot Desember 1990 lid van die Departement Afrikaans en Nederlands. Toe ek diens aanvaar het, was die lede van die Departement prof. FIJ van Rensburg, prof. FF Odendal, dr. Jan Spies. dr. Jac Conradie, mnr. (later dr.) HCT Müller. Rika Cilliers (later Preller) het saam met my diens in die Departement aanvaar. Sedert my aftrede is Jan Spies, Harri Müller en Rika Preller oorlede.

Die Universiteit het baie vinniger gegroei as wat verwag is. Die oorspronklike kampus in Auckland Park was beplan vir 6000 studente en daar is bereken dat die totaal teen 2006 bereik sal word. Die studentetal het egter so vinnig gegroei dat daar binne enkele jare nadat die kampus in gebruik geneem is, koorsagtig begin bou moes word om die steeds stygende aantal studente te akkommodeer. Die toedrag het egter ook tot gevolg gehad dat die Universiteit die groepklasstelsel moes afskaf.

Sedert die stigting van die Universiteit is Afrikaans en Nederlands as gelykwaardige komponente van die vak Afrikaans-Nederlands aangebied, ook wat onderrigtyd betref. Mettertyd het dit egter al duideliker geword dat albei tale te groot geword het om saam as een vak te onderrig en die Departement het besluit dat die Nederlands-komponent weggelaat word en die vakbenaming gewysig word na Afrikaans.

As dosent was ek op alle vlakke vanaf eerstejaar tot doktoraal aktief. My publikasies het grotendeels bestaan uit artikels en resensies en ’n paar bydraes in huldigingsbundels. Verder was ek medewerker aan Cloete, TT (red.), Literêre terme en teorieë, HAUM-Literêr, 1992, en Van der Elst, J (red.), Momente in die Nederlandse Letterkunde, Academica, 1988.

Feite en anekdotes –  uit die geskiedenis van die Departement Afrikaans aan die RAU en UJ

WILLEM BOTHA

Die volgende relaas is ’n baie persoonlike interpretasie van eie ervaringe vanaf die sewentigerjare tot aan die einde van 2007 – toe ek afgetree het.

Oor enkele afgestorwe kollegas sal ek ook enkele persoonlike indrukke weergee.

Eerste kennismaking

My eerste kennismaking met die “jong” RAU was in die sewentigs toe ek deur die Fakulteit Opvoedkunde genader is om hulle op ’n deeltydse basis behulpsaam te wees met die evaluering van mikrolesse in hulle destydse mikroles-laboratorium. As vise-hoof van ’n plaaslike hoërskool sou ek na hulle oordeel oor genoeg ervaring beskik het om ook ’n praktykgerigte inset te kon lewer.

Aanstelling binne die Departement Afrikaans-Nederlands – en kollegas …

Op 1 Januarie 1981 aanvaar ek diens aan die Randse Afrikaanse Universiteit as taalkunde-lektor in die Departement Afrikaans. Ek sou verantwoordelik wees vir die voorgraadse en nagraadse sintaksiskursusse asook die taalkunde-afdeling van Praktiese Afrikaans. Daarnaas sou ek op tweedejaarsvlak semantiek aanbied en ’n bietjie later ook ’n semesterkursus semantiek op honneursvlak. Die ander semesterdeel van die betrokke honneurskursus sou leksikografie wees, aangebied deur prof. FF Odendal.

Op dieselfde dag het Johann Johl ook diens aanvaar as letterkunde-dosent, primêr verantwoordelik vir prosa-onderrig. Ons het vanuit die staanspoor ’n uitstekende werkverhouding gehad – ’n verhouding wat later neerslag gevind het in studieleiding aan verskeie magisterstudente wat sowel die taalkunde as letterkunde binne hulle navorsing geïntegreer het.

Met my aanstelling in 1981 het die Departement uit sewe lede bestaan. Aan taalkunde-kant was daar prof. FF Odendal (hoof van taalkunde), kollega Jac Conradie (’n veelsydige taalkundige wat veral die historiese taalkunde onder sy vleuels geneem het en wat vir sy navorsing binne die betrokke dissipline later nasionaal en internasionaal groot erkenning gekry het) en ek self. Die letterkunde-afdeling het onder leiding van prof. FIJ van Rensburg gestaan (in daardie stadium ook die departementele voorsitter), Hannes Beneke (my oud-Aardrykskunde-onderwyser) Rika Preller en Johann Johl. Later jare het Harri Müller as letterkundige (vanuit die Literatuurwetenskap-buurdepartement) hom by ons aangesluit.

Gedurende hierdie tyd was Monica Botha ons sekretaresse. Sy is later opgevolg deur mev. Braun. Nog enkele sekretaresses het na haar vertrek vir korter periodes diens gedoen, waarna Trudie Strauss aangestel is – wat tot op hede nog die sekretaresse is. Haar toewyding, lojaliteit en ywer het tot op datum grootliks bygedra tot ’n atmosfeer waarbinne elke departementslid optimaal kon funksioneer.

Nog enkele kollegas wat deur die jare daarna by ons aangesluit het, maar weer die diens verlaat het, was Irene Coetzer (taalkundige), Rhoda van Schalkwyk, née Venter (taalkundige, wat haar navorsing vir haar magistergraad in Argentinië gaan doen het oor die reste van Afrikaans aldaar), Ina Vos en Libbie Pretorius (letterkundige). Regina Malan en Marianne Pauw, onderskeidelik letterkundige en taalkundige, het by verskeie geleenthede afgelos in kollegas se plekke wat met lang-en-studieverlof afwesig was.

Vir ’n hele aantal jare het die personeelsamestelling van die Departement redelik stabiel gebly. Mettertyd het kollegas afgetree; eers prof. FIJ van Rensburg en daarna prof. FF Odendal en prof. JJP Beneke. Na prof. Van Rensburg se aftrede is Johann Johl bevorder tot vol professor en kort daarna het hy die voorsitterskap van die Departement by prof. Odendal oorgeneem. Met prof. Odendal se aftrede is Anna Coetzee (vanaf die Universiteit van die Witwatersrand) as taalkundige aangestel. Sy tree aan die einde van 2005 af.

In ’n bepaalde stadium het die Departement deur ’n moeilike tyd gegaan toe hy binne enkele jare drie kollegas aan die dood moes afstaan.

Met ingang 1 Januarie 1992 word ek vir ’n termyn van drie jaar aangestel as voorsitter van die Departement Afrikaans[1] (die eerste van drie termyne). In dieselfde jaar staan ons Harri Müller aan die dood af toe hy net buite die ingang tot die Departement ’n hartaanval kry. Ek was ten tye van dié gebeurtenis tuis besig met navorsing toe Trudie my skakel en daarvan in kennis stel. Ek het my onmiddellik na die destydse JG Strijdom-hospitaal gehaas waarheen die nooddienste Harri geneem het. Daar het ek vir Saar (Harri se suster wat self by geleentheid binne ons Departement as taalkundige afgelos het) en vir Rika gekry. Toe hulle ons binne die vertrek toelaat waar Harri gelê het, was hy reeds dood. Dit het gebeur ’n kort rukkie voor sy vyftigste verjaarsdag.

Tussen my ou dokumentasie kry ek ’n handgeskrewe brief wat Harri nog dieselfde jaar aan die Departement gerig het na ’n hospitaalbesoek waartydens hy spatare laat verwyder het. Ek haal aan:

Maandag, 8 Junie 1992.

“Beste Willem,

D.m.v. jou as Voorsitter ’n hartlike dankie aan almal in die Departement vir die meelewing die afgelope week. In die besonder dan

·       die vrugtemandjie in die hospitaal wat welkome aanvulling by die daaglikse rantsoen was;

·       Trudie vir die leen van die televisie;

·       die besoek van Jac, met die twyfelagtige voorreg om ’n kollega in ’n onpaar pajamas te aanskou.

Ek het alles besonder waardeer.

Hartlik,

Harri”

Van Harri onthou ek sy besondere belesenheid, sy skerp intellek, sy passie vir Afrikaans – en somtyds ’n vinnige humeur. Desnieteenstaande was hy altyd die welopgevoede en fynbesnaarde heer. In sy laaste jare het hy ’n belangstelling in die kognitiewe linguistiek ontwikkel en dikwels by my in die kantoor kom sit en daaroor gesels om sekere sake te verifieer, maar meer dikwels om my te verstom oor die aspekte van die betrokke dissipline waarvan hy ’n indiepte-kennis gehad het.

Marthinus Beukes is as letterkundige aangestel om die leemte te vul wat deur Harri Müller se afsterwe ontstaan het.

Met Johann Johl se siekte moes ek nie–amptelik die voorsitterskap van die Departement oorneem nadat my voorsitterstermyn die vorige jaar verstryk het. Na sy afsterwe is ek feitlik onmiddellik weer vir ’n termyn van drie jaar as voorsitter aangestel. In hierdie tyd moes ons toe ’n senior letterkundige aanstel terwyl die letterkunde-onderrig tussentyds geheel deur Rika Preller en Marthinus Beukes behartig is.

Ons was gelukkig om vir Willie Burger te kon aanstel. Hy is op die vlak van medeprofessor aangestel maar is nie lank daarna nie tot vol professor bevorder. Tans is hy die departementshoof. Willie was nie net vir die letterkunde-afdeling ’n buitengewone aanwins nie, maar ook vir die Departement en die Universiteit as sodanig. Ek onthou dat tydens die onderhoud vir sy aanstelling die toenmalige rektor (prof. JC van der Walt)  in die bespreking na die onderhoud die opmerking gemaak het dat ons hier met ’n ware “scholar” te doen het. Willie het dít – en veel meer – in sy tyd alhier gestand gedoen.

Oor elke kollega sou ’n mens baie kon skryf, maar die ruimte daarvoor ontbreek. Tog wil ’n mens ter gedagtenis iets oor die afgestorwe kollegas sê. Oor Harri Müller en Johann Johl is daar ander persone wat ’n bydrae lewer. Oor Rika sou ’n mens baie kon skryf – haar skerp intellek, haar deernis, haar sensitiwiteit, haar literêre en haar akademiese ingesteldheid, en baie meer. Ek wil egter volstaan met ’n eie beskeie huldeblyk wat ek destyds na haar dood vir ’n plaaslike koerant geskryf het – hier effens aangepas:

Sy is weg!

Sy was ’n weggaan-mens.

Sy was altyd op weg ... in die woord!

Sy het ook baie oor weggaan gepraat. Sy het dikwels vir my gesê sy wil net nie weggaan as dit winter is nie – miskien omdat sy ’n Novembermens was. Novembermense is mos nou maar somermense. En toe het sy weggegaan toe dit herfs word ...

Sy was ’n woordmens. Haar ervaringswêreld was in die woord. Sy het in die woord, van die woord, deur die woord en vir die woord gelewe. Sy het die woord se kleinste en mees verskuilde betekenishoekies ontgin, geken en benut. Deur die woord het sy haar lewe en dié van ander sin laat maak. Deur haar kon die suiwerheid van die woord getoets word.

Maar haar woordwêreld was ook haar menswêreld! En sy was gevoelvol oor gevoeligheid – iets wat sy per geleentheid só geformuleer het: “in erkenning van jou woord- en MÉNSgevoeligheid.” Sy het “MÉNS” geaksentueer en met ’n hoofletter geskryf, want sy het ’n deernis met mense gehad – ’n  deernis wat in baie opsigte die self geoffer het: ’n beskeidenheid wanneer haar aandeel aan ander se prestasies te noem was; ’n  onvoorwaardelike oorgawe wanneer sy die werk van ’n siek kollega oorgeneem het; die gee wanneer sy net kon gee om iemand beter te laat voel. En uiteindelik … die gee van herinneringe van die mooi dinge van haar lewe vir dié wat haar langer geken het!

Sy het weggegaan in die oggend van die nag waarin die laaste reën van April geval het. Daarom groet ek haar met haar eie reënversie:

“dit reën dit reën!

toe gaan die reën af

toe huil die wolke

die wolke huil toe

hoee”

Na Rika se afsterwe is Thys Human, een van die Departement se voortreflike oud-studente, as letterkundige aangestel. Ook hierdie aanstelling het besondere kwaliteit toegevoeg tot ’n departement wat weer in ’n opwaartse ontwikkelingsfase was.

Organisasie en strukture

In die tyd van my aanstelling was die algemene organisasiestruktuur van die Universiteit – en die Departement se posisie daarin – relatief eenvoudig. ’n Rektor is bygestaan deur twee vise-rektore, terwyl daar ook twee registrateurs was, een verantwoordelik vir die sentrale administrasie en die ander vir finansies. Dekaanskap en voorsitterskap van departemente het op ’n roterende basis plaasgevind – ’n stelsel wat net bevordelik was vir demokrasie en demokratiese inspraak. Verder het elke fakulteit oor ’n fakulteitsraad en ’n leerganggroep beskik. Binne die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte was daar byvoorbeeld twee leergangroepe: Tale en Geesteswetenskappe. Binne die leerganggroepe is nuwe regulasievoorstelle en –wysigings gedebatteer en magister- en doktorale voorleggings aan kritiese ondersoek onderwerp voordat dit aan die fakulteitsraad en later die senaat voorgelê is. Lidmaatskap van die Fakulteitsraad was aanvanklik ook nie outomaties nie. Akademici vanaf die vlak van senior lektor en hoër het aanvanklik sitting gehad. Later is lektore toegelaat en nog later, onder die dekaanskap van prof. Paul von Staden, junior lektore – op my voorstel en aandrang nadat studenteleiers sitting toegelaat is en ek van oordeel was dat dit dan diskriminerend teenoor junior lektore sou wees.

Binne sodanige strukture het ’n mens nooit die indruk gekry dat jy van oral af “bestuur” word nie, ook omdat alle akademici nie blootgestel was aan eindelose vergaderings waarop dieselfde agendapunte net elke keer op ’n hoër vlak aan die orde was nie. Dit was inderdaad bevordelik vir ’n “akademiese klimaat”.

Organisasie binne die Departement

Tydens my aanstelling was prof. FIJ van Rensburg die voorsitter en ook hoof van die letterkunde-afdeling. Prof. FF Odendal was hoof van die taalkunde-afdeling.

Organisasiestruktuur

Die organisasiestruktuur van die voorgraadse kursusse het berus op ’n dag- en ’n aandmodel. Binne die dagmodel het elke voorgraadse afdeling (taalkunde en letterkunde) een-en-’n-half onderrigperiode per week gehad. Die halwe periode is bereken op grond van ’n wisselperiode wat een week aan taalkunde gewy is en die daaropvolgende week aan letterkunde. Die voorgenoemde lesingperiodes is egter aangevul met groepklasperiodes. In die vroeë tagtigs is daar – op grond van die aantal ingeskrewe studente vir elke kursus – die volgende aantal groepklasperiodes per week geskeduleer, verdeel tussen die taalkunde- en letterkunde-afdelings: eerstejaarskursus – 17; tweedejaarskursus – 7; derdejaarskursus – 4. Uit my 1982-punteboek blyk die volgende inskrywingsgetalle vir elke kursus: Afrikaans-Nederlands 1A – 344; Afrikaans-Nederlands 2B – 132; Afrikaans-Nederlands 3B – 51; Praktiese Afrikaans – 50. Praktiese Afrikaans is egter uitsluitlik in die aandmodel aangebied en is hoofsaaklik deur die studente in die regte gevolg.

Binne die aandmodel is Praktiese Afrikaans op Maandae-aande binne die tydgleuf 18:30 – 19:40 aangebied. Die aand-tydgleuwe vir die ander voorgraadse kursusse was onderskeidelik soos volg: Afrikaans-Nederlands 1: Maandae, 17:15 – 18:25; Afrikaans-Nederlands 2: Dinsdae, 17:15 – 18:55; Afrikaans-Nederlands 3: Dinsdae, 19:00 – 20:40. Die reëling was sodanig dat taalkunde en letterkunde al om die ander week aan die beurt was.

Die honneurskursusse is feitlik uitsluitlik bine die tydsgleuwe 15:30 – 16:30 en 16:30 – 17:30 vanaf Maandae tot Donderdae aangebied. Hierdie reëling was nodig omdat die meeste honneursstudente deeltydse studente was, veral onderwysers.

Rekenarisering

Omdat die tagtigerjare die oorgangsfase van ’n nie-gerekenariseerde na ’n gerekenariseerde tydvak was, behoort enkele aspekte wat hiermee verband gehou het, vermeld te word.

In die vroeë tagtigs was ons bevoorreg om na die tydperk van Olivetti’s ’n IMB-gholfbaltikmasjien binne die sekretaresse se kantoor tot ons beskikking te hê. Die genoemde tiksmasjien was egter vir haar uitsluitlike gebruik. Hierop het sy dan die redelik min administratiewe tikwerk gedoen, maar hoofsaaklik studiehandleidings, aantekeninge en ons handgeskrewe artikels getik. Veral vir die taalkundiges was hierdie tikmasjien baie nuttig omdat dit met die ruil van ’n lettertipe-golfbal redaksionele afronding vergemaklik het.

Masjiene vir syferberekeninge was beperk tot enkele optelmasjientjies waaroor enkeles van ons beskik het. Die langste departementele vergadering van elke semester het plaasgevind net voordat die klasse vir die eksamen afgesluit het en ons vir elke student sy/haar semesterpunt moes bereken, saamgestel uit die punte behaal vir taalkunde- en letterkundetoetse, maar ook krediete verwerf tydens groepklasse. Elke personeellid was dus, gesamentlik, betrokke by die berekening van élke student se semesterpunt. Ek herinner my goed hoedat prof. Van Rensburg en Rika Preller die vinnigste hoofrekene kon doen – later sodanig dat dit amper na ’n kompetisie begin lyk het. Hulle het hulle berekeninge gewoonlik nog vinniger gedoen as wat ek dit op die optelmasjientjie kon doen – en die ander op papier.

Toe iewers in die middel-tagtigs nader die Sperry-rekenaarmaatskappy ons departement met ’n aanbod om vir ons ’n tweedehandse Sperry en ’n tweedehandse drukker te skenk as ons hulle tegniese handboeke in Afrikaans sou vertaal. In daardie stadium was hulle van oordeel dat sou hulle die betrokke boeke in Afrikaans publiseer, dit hulle ’n voorsprong sou besorg ten opsigte van die Afrikaanse mark.

So het ons departement dan een van die eerste departemente binne die Universiteit geword wat oor ’n eie rekenaar en drukker beskik het. Die rekenaar was stadig en soms hortend, maar ons destydse sekretaresse het dikwels met ’n klap die wiele van die rekenaar weer aan die rol gekry. Dit moes dus seker maar meganiese probleme gewees het wat gelol het.

Omdat programmatuur baie duur was en ons nie eintlik daaroor bekik het nie, het ek ingespring en die rekenaartaal Basic aangeleer en vir ons ’n primitiewe Lotus/Excel-programmetjie geskryf waarmee ons die punte kon verwerk.

Toe kom Lotus, Microsoft Office, lessenaarrekenaars en drukkers vir elke dosent – en vandag is dit ondenkbaar dat ’n dosent nie oor ’n draagbare rekenaar beskik nie, dat ’n sekretaresse ’n artikel sal tik en dat kommunikasie nie elektronies sal geskied nie – onder andere ook die gevolg van desentralisasie en die uitleef van die metafoor: die universiteit is ’n sakeonderneming.

Fragmente uit agendas en notules van departementele vergaderings

Die Departement Afrikaans het deur al die jare baie toegewyd en gereeld departementele vergaderings gehou. Die uitgangspunt was altyd dat dít die nuttigste bestuurs-, organisatoriese en administratiewe instument was vir die ordelike funksionering van die Departement. Dit het ook die geleentheid gebied om op ’n persoonliker vlak kollegas se wel en weë meelewend te ervaar.

Talle interessanthede sou uit die agendas en notules tot my beskikking aangehaal kon word, soos byvoorbeeld:

·     “Die voorsitter wens prof. Conradie geluk met sy referaat gelewer by die Nederlandistiek-kongres. Binne ’n tydperk van minder as ’n jaar het prof. Conradie vier referate by internasionale kongresse gelewer” (notule, 28 Januarie 1992).

·     “Prof. Conradie het ’n radio- en TV-onderhoud gehad met die BBC” (notule, 21 Februarie 1992).

·     “’n Gedeelte van mev. Preller se lesing (IA, Woensdag 19 Februarie) is deur die BBC verfilm” (notule, 21 Februarie 1992).

·     “Die totale honneursstudentetal is veertien” (notule, 21 Februarie 1992).

·     “Die dekaan het ’n onderhoud met die twee Russiese studente gehad. Hulle mondelinge eksamen het goed afgeloop” (notule, 15 Junie 1992).

·      “Prof. Robert Kirsner (Universiteit van Kalifornië) besoek die Departement op 18 Augustus” (notule, 31 Julie 1992).

·     “Mev. Preller sal namens die Departement ’n gelukwensingskaartjie aan prof. Odendal stuur betreffende die toekenning van die J.B.M Hertzog-penning” (notule, 31 Julie 1992).

·     “Die dekaan het ’n brief aan die Russiese Akademie gestuur waarin bevestig word dat die Departement graag met hulle wil saamwerk” (notule, 31 Julie 1992).

·      “Prof. Coetzee word gelukgewens met die sukses van haar referate in die buiteland, asook met die plasing van haar artikel in Tydskrif vir taalkunde” (notule, 18 September 1992).

·     “Mev. Vos is – na aanleding van haar verhandeling – deur die hoofredakteur van die WAT genader tot samewerking” (notule, 18 September 1992).

·     “Kollegas se onderskeie voorstelle met betrekking tot interdissiplinêre honneurskursusse sal deur die voorsitter saamgestel word en aan die dekaanskomitee deurgegee word” (notule, 25 September 1992).

·      “Die voorsitter wens mev. Preller geluk met haar debuut as kortverhaalskrywer” (notule, 2 Oktober 1992).

En so sou ’n mens kon voortgaan.

Op 15 Mei 1992 vind daar egter ’n baie belangrike departementele vergadering plaas wat die toekoms van die Departement ingrypend sou raak. Hierdie vergadering volg op ’n dekaanskomiteevergadering wat op Donderdag 7 Mei 1992 gehou is en ’n voorsittersgesprek met die dekaan op Woensdag 13 Mei 1992 waartydens die toekoms van die Departement bespreek is teen die agtergrond van die Universiteit se noodgedwonge rasionalisasieproses.

Tydens die dekaanskomiteevergadering word onder andere die volgende inligting oor die Universiteit se finansiële posisie rugbaar gemaak, soos in die agenda van die betrokke vergadering vervat:

·     Regeringsubsidie aan die Universiteit is agtereenvolgens besnoei met R 3 miljoen (1984), R 36 miljoen (1991) en meer as R 46 miljoen (1992).

·     ’n Lewensvatbaarheidstudie deur die Manskommissie stel ’n lewensvatbaarheidsindeks vir elke fakulteit en departement daar op grond van inkomste-uitgawe-kriteria. Die Departement Afrikaans se syfer is 89%, wat die Departement negende plaas op ’n rangordeskaal vir die Fakulteit wat uit een-en-twintig departemente bestaan.

·     Die Fakulteit  ontvang ’n kruissubsidie van 10% en moet dus met 16 indekspunte rasionaliseer.

Tydens my gesprek met die dekaan oor die toekoms van die Departement word die volgende sake te berde gebring, soos ook vervat in die betrokke agenda en tydens die betrokke departementele vergadering bespreek:

·     Departemente moet teen die voorgenoemde finansiële agtergrond ’n motiveringsverslag opstel ten opsigte van hulle postestruktuur, die relevansie van hulle besondere dissiplines, navorsingsingesteldheid en navorsingsuitsette, toekomsvooruitsigte – en hoedat dit alles vertaal kan word na rand en sent.

·     Die aard en omvang van rasionalisasie binne die Fakulteit, wat sowel poste-afskaffing oor ’n wye spektrum as die sluit van bepaalde departemente insluit.

·     Indien ’n betrokke departement deur die voorgestelde rasionalisasie geraak sou word, sou die departement self moes besluit wie se pos afgeskaf moet word, óf vrywilligers vra om aan te bied om ’n oortolligverklaringspakket te aanvaar. Die vergadering besluit dat die Departement nie bereid sou wees om iemand te nomineer nie, en dat die bestuur self sou moes besluit indien hulle iemand binne die Departement oortollig sou wou verklaar.

Die Departement  het uiteindelik voor die einde van die betrokke jaar op ’n natuurlike wyse bygedra tot die rasionalisasieproses toe mev. Libbie Pretorius bedank het om na Port Elizabeth te verhuis. Haar pos is toe afgeskaf.

Hierna sou die Departement pal onder die wolk van lewensvatbaarheid leef. Dit het aanleiding gegee tot verskeie nuwe inisiatiewe binne die Departement om groei te stimuleer en finansieel te oorleef. Die departementele navorsingsuitset het ook noodwendig hierby gebaat.

Nuwe kursusstrukture binne die Departement

Daar is in die vorige afdeling daarop gewys dat die Departement as gevolg van die noodsaaklikheid van lewensvatbaarheidsgroei  genoodsaak was om kreatief nuwe ontwikkelinge binne die Departement te bedink – aanvullend tot die verhoging van navorsingsuitsette.

 Die besonderhede word nie uitgespel nie, maar die volgende diagram – in Augustus 2000 opgestel – gee ’n oorsig van die mate waarin die Departement gediversifiseer het ooreenkomstig vasgestelde behoeftebepalings:

KURSUSSE

Teoretiese en toegepaste kursusse

Gebruiksafrikaans

Kurrikulêre kursusse

Buitekurrikulêre kursusse

Kurrikulêre kursusse

Buitekurrikulêre kursusse

Afrikaans 1A/B

Afrikaans in die wending

Afrikaans A/B

Sake-Afrikaans

Afrikaans 2A/B

Literatuur en lewensin

Afrikaans 1C

Afrikaanse taal- en teksversorging

Afrikaans 3A/B

Kreatiewe Afrikaans

Sakekommunikasie

Aanbieding van vakkundige inligting

Honneurs

 

Magister

Doktersgraad

’n Ommekeer

In September 1999, met vyf jaar se ‘lewensvatbaarheid-indekssyfers’ tot my beskikking, trek ek die volgende grafiek wat aandui dat daar tog ’n ommekeer plaasgevind het met betrekking tot die Departement se oorlewingsmoontlikheid. Die verskynsel dat daar twee lesings vir 1993 is, berus op die feit dat die oorspronliklike A-waarde (die pro rata-vermindering van die staatsubsidie ten opsigte van die verwagte subsidie) later in die jaar verminder het.




Die jaar 2005

Aan die begin van 2005 smelt die toenmalige Randse Afrikaanse Universiteit saam met onder andere die Technikon Witwatersrand om die huidige Universiteit van Johannesburg te vorm. Tans is daar ongeveer tien programme wat nog deur medium van Afrikaans aangebied word – al die ander deur medium van Engels. Dit sal waarskynlik in die toekoms die aard van die bestaan van die Departement Afrikaans ingrypend raak!

Persoonlike aktiwiteite

In die sewe-en-twintig jaar wat ek voltyds aan die Departement verbonde was, het die Departement vir my die ruimte en geleentheid gebied om by ’n aantal aktiwiteite aktief betrokke te kon wees – aktiwiteite wat vir my persoonlike vervulling gebring het. Ek noem ’n paar:

·     Ek was vir nege jaar voorsitter van die Departement Afrikaans.

·     Ek was vir vyf jaar redakteur van die Universiteit se meningsblad, Aambeeld.

·     Ek was vir drie jaar koshuisvader by ’n daghuis.

·     Verskeie van my nagraadse studente het die kanseliersmedalje vir voortreflike verhandelings verower.

·     Ek was vir ’n semester (in 2001) gasprofessor aan die Universiteit Leiden (Faculteit der Letteren) Nederland.

·       In 2007 bied ek en kollega Hein Grebe van UP die Seminarie Afrikaanse Taalkunde aan die Limburgs Universitair Centrum in Diepenbeek, België aan.

·     By twaalf geleenthede kon ek by internasionale kongresse in Europa, die VSA en Kanada optree. By ’n internasionale kongres in Pietermaritzburg het ek ook die voorreg gehad om ’n hoofreferaat te lewer.

·     Dertien van my artikels is internasionaal gepubliseer.

·     Met my aftrede word ’n huldigingsbundel aan my opgedra, onder redakteurskap van kollega Jac Conradie, waarin ondere andere vyf buitelandse kollegas bydra.

·     In 2009 lewer ek die jaarlikse N.P. van Wyk Louw-gedenklesing oor die onderwerp Krag, mag, moraliteit – en die daad.

’n Storie van twee universiteite (en een departement): Departement Afrikaans, RAU en UJ – Jan 1998 - Des 2009

WILLIE BURGER

“Lees net gou die eerste paragraaf hardop.”

Ek hou die student se bekrapte opdrag na haar toe uit. My onderstrepings en opmerkings in die kantlyn is vir haar half onverstaanbaar. Dalk is my handskrif net onleesbaar. Maar hééltemal onverstaanbaar vir haar is die punt wat ek aan die werkstuk toegeken het.

Op die buiteblad van haar opdrag is ’n foto van die skrywer en ’n kleurafdruk van die stofomslag van die roman wat sy moes bespreek. Die hele opdrag is met ’n laserdrukker gedruk. Die woorde is netjies geblok en die "running header" met die opdragtitel bo-aan elke gelyke bladsy en haar eie naam bo aan die bladsye met ongelyke nommers skep die indruk van ’n luukse boek.

“Ek het nog nooit so swak gedoen nie.”

Sy kyk nie na my nie. Sy kyk daar oorkant na die Westdene-koppies. Haar stem bewe toe sy die opdrag met ’n reguit arm na my toe uithou, asof ek dit heeltemal besoedel het met my krapmerke op die duursame, ligpienk papier.

Die groot, haastige “30%”, onmiskenbaar in my eie handskrif maak my vir ’n oomblik benoud. Sê nou ek het ’n fout gemaak? ’n Mens sien so baie opdragte na en dalk was my oordeel verkeerd? Die taak is immers so netjies. Noudat ek haar hier voor my sien en die opdrag aan ’n mens van vlees en bloed en trane koppel, lyk die "30%" baie kras. Sy sit altyd voor in die klas en neem entoesiasties aan besprekings deel. Dalk was dit al laat in die nag en ek was dalk oorhaastig toe…?

Ek ontwyk haar betraande blik en my oë gly oor die eerste paragraaf van haar opdrag. Die eerste sin is werkwoordloos. Die tweede sin bevat twee keer die woord “egter”, sonder dat daar van enige teenstellings sprake is. Die derde sin begin met “Dit” maar daar is geen aanduiding waarna daardie “dit” verwys nie.

Teen die middel van die tweede bladsy van haar opdrag het ek opgehou om elke sin te probeer korrigeer. Ek het ook nie meer pyltjies met vraagtekens tussen die sinne gemaak om aan te dui dat daar nie ’n logiese verband tussen die sinne is nie.

Verlig gee ek die opdrag terug met die versoek dat sy dit hardop moet lees. Dit is ’n beproefde metode. Ek gebruik dit al sedert ek in 1998 by die destydse RAU begin werk het: Die student lees sy of haar woorde hardop. Die eerste sin word gewoonlik met baie selfvertroue en ’n taamlik luide stemtoon gelees. Maar wanneer die studente hulle eie sinne so hardop hoor, kom hulle agter dat die sinne nie sin maak nie, dat die tweede sin nie logies op die eerste een volg nie, dat derde sin nie ’n sin is nie… Gewoonlik raak die stem sagter en die gesig rooier. Die woorde kom al hoe onsekerder uit en teen die helfte van die volgende sin bly die student gewoonlik verleë stil, mompel ’n verskoning en vlug so vinnig moontlik uit die kantoor.

Maar hierdie student léés. Woord vir woord. By die eerste punt kyk sy op, ’n vraagteken op haar gesig.

“Lees verder”, moedig ek haar aan. Dis nie asof ek my verlekker in haar verleentheid wat spoedig sal toeslaan nie, maar ek weet dat sy binnekort sal besef dat sy glad niks sinvols kwytgeraak het nie, dat daar nie twee grammatikale sinne op mekaar volg nie.

Na die eerste paragraaf kyk sy weer op. Beskuldigend. Sy het gekom om te hoor waarom haar punt so swak is en nou laat ek haar lees.

Ek slaan my oë op na die Westdenekoppies.

Die twaalf jaar wat ek aan die Departement Afrikaans by RAU en UJ verbonde was, was ’n tyd van merkwaardige verandering. Die woord “transformasie” was in dié tydperk een van die mees gebruikte woorde in die woordeskat van die universiteitsbestuur. Hoewel die woord dikwels net een van die “regte” woorde was om saam met ander soortgelyke woorde soos “deursigtigheid”, “volhoubaarheid” en “korporatiewe beeld” te gebruik, was die eerste dekade van die 21ste eeu inderdaad ’n tyd van transformasie.

Een van die opvallendste veranderings was te merk by die studente. My student se onvermoë om te besef dat haar eie taalvermoë tekortskiet is ’n aanduiding van een van die veranderings by studente. Ja, ek weet dat elke generasie kla oor die verval en verswakking van die volgende generasie, en dat die ervaring dalk meer sê oor my ouerwordproses as oor die studente. Ek sou bereid wees om hierdie argument te aanvaar, as dit nie was dat dit ’n veel wyer fenomeen blyk te wees nie. My kollega in die Engels-departement, Craig Mackenzie, het trouens sy hele intreerede aan hierdie probleem gewy. En dit is nie slegs ’n verskynsel aan hierdie universiteit of net in ons land nie. Wêreldwyd word hieroor gekla. Dit is wel waar dat die verskynsel besonder sterk was in die eerste dekade van die 21ste eeu.

Uitkomsgebaseerde onderrig kry dikwels die skuld daarvoor dat studente beswaarlik kan onderskei tussen ’n sin en ’n groep woorde wat met ’n hoofletter begin en met ’n punt eindig. Die feit dat dieselfde verskynsel ook in ander wêrelddele voorkom laat mens besef dat die veranderde skoolcurricula nie al die skuld daarvoor kan kry dat ’n student vol afwagting na my kyk en wag dat ek moet verduidelik hoekom haar mooi opdrag slegs 40% werd is nie. TV, videospeletjies, selfone en internet kry ook dikwels die skuld vir ’n nuwe generasie studente wat akademies funksioneel ongeletterd is.

Waar daar in 1998 nog ’n beduidende deel van ’n eerstejaarsklas hande opgesteek het as mens vra wie van hulle al meer as tien romans gelees het en die oorblywende klompie half skuldig gevoel het oor hulle onbelesenheid, word die vraag teen 2009 openlik met ’n gelag begroet asof dit ’n poging is om vas te stel wie in die klas ’n frats is.

Die idee dat ’n universiteit ’n plek is waar krities met idees omgegaan word, waar ’n  mens blootgestel word aan ander maniere van dink, is een van die opvattings wat geleidelik in die tydperk wat ek aan die departement verbonde was, bykans onder studente verdwyn het.

In 2006 het ’n honneursstudent my verras met besonder deeglike werkstukke. Haar werkstukke getuig van baie leeswerk, van nadenke oor dit wat gelees is en haar formulering is noukeurig. Op my vraag waarom sy nie voorgraads reeds werk van hierdie gehalte gelewer het nie, is die antwoord: “Ek was bang ek lyk intellektueel”.

’n Universiteit het ’n plek geword waar mense opgelei word om ’n beroep te volg, eerder as wat dit ’n intellektuele ruimte is waar krities met idees omgegaan word, waar ’n strewe na kennis die handelinge onderlê. Verset teen die toenemende kommersialisering van die universiteit is toenemend as misplaas beskou: ’n teken daarvan dat jy outyds is en nie die huidige wêreld verstaan nie, dat jy in die pad staan van ontwikkeling.

Die belang van letterkunde, wat eens as vanselfsprekend aanvaar is as sentrale deel van enige universiteit se aanbod, het uit daardie posisie verdwyn. Studente leef in ’n wêreld waarin weinig waarde geheg word aan die tradisioneel gekoesterde “waarde” van letterkunde. Waar ’n kennis van die sogenaamde hoë kultuur (en dus ook letterkunde) in die ontstaansjare van die RAU tot in die 1980’s nog met groot eerbied bejeën is, het die kulturele landskap oor die afgelope twee dekades in Suid-Afrika heeltemal verander. Daar kan nie meer aanvaar word dat blootstelling aan die kunste vir almal noodsaaklik en goed en “beskawend”, opbouend is nie. Hierdie 19de eeuse ideale wat nog deur Matthew Arnold gekoester is en wat ’n beduidende rol gespeel het in dei vestiging van die RAU, het grootliks plek gemaak vir ’n kulturele relativisme, die nivellering van grense tussen hoë en lae kultuur en die klem op die “kultuurindustrie” en massavermaak. (Natuurlik beweer ek nie hiermee dat daar voorheen nie massavermaak bestaan het of dast die sogenaamde hoë letterkunde voorheen deur die ganse publiek gelees is nie – dit is bloot dat die waarde wat daaraan geheg is – ookdeur nie-lesende publiek – verdwyn het voor die golf van demokratisering en anti intellektualisme.)

Dit het ’n groot groot impak op die Departement Afrikaans gehad. Daar is kennelik min beroepe wat direk gekoppel word aan taalstudie en dit help nie juis om ’n BA-Tale of selfs BA-Taalpraktisyns aan te bied met die hoop om studente te lok wat die verwagting het om vir ’n beroep opgelei te word (waar hulle groot geld gaan verdien) nie. Die ontwikkeling van beroepsgerigte graadpakkette het ook al minder ruimte gelaat vir breë vormende vakke.

Die transformasie van die studente – weg van (modernistiese) mense met ’n belangstelling in die hoë literatuur en ’n bewustheid van al die nuanses van taal na (postmodernistiese) studente wat gelyke waarde heg aan Van Wyk Louw en realiteits-TV – het die vakgebied wat tradisioneel binne ’n taal aangebied is onder verdenking geplaas.

Nie net die studente het verander nie. Hierdie veranderings is ook op teoretiese gebied binne die studieterrein van die tale en letterkunde gesien. Die opkoms van “Teorie” sedert die sewentigerjare van die vorige eeu het daartoe bygedra dat alle aannames oor wat letterkunde is en wat dit bied, toenemend bevraagteken is. Die bewustheid van literêre norme as gekonstrueerde norme, eerder as ewige, universele waardes, het daartoe gelei dat anders oor die studieterrein gedink moes word en die gevolge van die dekonstruksie en postmodernisme het al meer ’n nuwe benadering van letterkunde in die klas genoodsaak.

Benewens die transformasie van die studentekorps en die vakgebied, het die instelling natuurlik enweneens ’n radikale verandering ondergaan. Die relatief klein, Afrikaanse RAU het uitgegroei tot een van die grootste residensiële universiteite in die land – veral as gevolg van die samesmeltingsproses tussen die RAU en die Witwatersrand Technikon. Hoewel daar uiteindelik ook voordele uit die samesmelting voorgevloei het en daar byna geen effek op die graadprogramme en navorsing in die Fakulteit Geesteswetenskappe was nie, het die samesmelting nietemin daartoe gelei dat die aantal Afrikaanssprekende studente in die Fakulteit verminder het. Die Universiteit se taalbeleid maak wel voorsiening vir veeltaligheid maar in die praktyk was dit moontlik vir die Fakulteit om heeltemal te verengels.

Ongelukkig het die departement nooit daarin geslaag om werklik nie-moedertaalsprekers te lok nie. Deels te wyte aan negatiewe persepsies oor Afrikaans weens die politieke verlede, maar veel meer nog die algemene gebrek aan belangstelling in die bestudering van tale, het veroorsaak dat kursusse in Afrikaans byna uitsluitlik deur Afrikaanssprekers gevolg is. Omdat hierdie studente steeds kwynend in die fakulteit is, het die studentegetalle in die departement afgeneem.

Die gevolg van die Regsfakulteit se besluit om die vereiste dat regstudente twee tale op eerstejaarsvlak moet neem te laat vaar, het ook die departement kwaai geknou. Die byna 70-100 nie-moedertaalsprekers wat jaarliks die Afrikaans AB kursus gevolg het, het reeds die eerste jaar na die Regsfakulteit se besluit na 23 gedaal. Die dekaan se beleid is dat eerstejaarskursusse met minder as 20 studente nie aangebied word nie en daarom is die toekoms van hierdie kursus in die weegskaal. Die Afrikaanssprekende regstudente verkies ook meestal om Engels te loop aangesien hulle voorsien dat hulle hoofsaaklik in Engels sal werk en daarom eerder hulle vaardigheid in dié taal wil verbeter.

Al hierdie sake het daartoe bygedra dat die departement van tien lede toe ek my in 1998 by departement gevoeg het, gekrimp het tot vier lede toe ek aan die einde van 2009 daar weg is. Belangrik is egter dat wat oënskynlik ’n baie groot terugkrimping van die departement was, nie regtig so groot impak gehad het op die sentrale werk van die departement nie. Studente wat Afrikaanse taal- en letterkunde bestudeer in die tradisionele Afrikaans 1, 2 en 3 het in hierdie tydperk nie regtig baie minder geword nie. Trouens in sommige jare het die die getalle selfs groei getoon.

Alles in die departement het darem nie verander nie. Die kantore het steeds op B-Ring 5 gebly, en Trudie het dieselfde gebly. Sy was die moeder van al die studente en assistente en het oor al die jare gesorg dat al die adminstrasie bly vlot – veral in die tydperk waarin die papieroorlog as gevolg van die talle "eweknie-evaluerings" toegeneem het, het sy gesorg dat daar ’n papierspoor van elke gebeurtenis agtergelaat word.

Wat my egter die langste sal bybly van die twaalf jaar aan die departement Afrikaans by UJ, is nie die grys gebou en die blou matte wat dieselfde gebly het nie, maar die mense saam met wie ek die voorreg gehad het om te werk. Drie gevestigde taalkundiges, Anna Coetzee, Jac Conradie en Willem Botha was in die departement toe ek daar begin werk het. Al drie van hulle het egter ook in dié tydperk afgetree. By elk van hulle het ek veel geleer. Vandag nog mis ek steeds die gesprekke wat ek en Willem telkens op ’n Vrydagoggend gehad het: gesprekke wat soms begin het by sintaksis of kognitiewe linguistiek of metafore en ’n draai gemaak het deur politiek en ekonomie tot by ons eie ervarings en emosies en geaardhede. Ek sou byna ’n boek soos Tuesdays with Morrie kon skryf oor die Vrydagoggende saam met Willem.

En nooit vóór my werk by UJ of daarna het ek die voorreg gehad om ’n wandelende ensiklopedie in die kantoor oorkant my te hê nie. Ek is seker Jac het dikwels geïrriteerd geraak met al die vrae waarmee ek hom gepeper het, maar omdat hy so ongelooflike “gentleman” is, het hy nooit iets daarvan laat blyk nie.

Die entoesiasme en vrolikheid van ’n kollega soos Anna wat steeds die energie kon vind om kongresse te reël en ’n tydskrif uit te gee tot op die dag van haar aftrede was altyd inspirerend.

Gelukkig kon ek ook ervaar, ten spyte van die een generasie taalkundiges wat geleidelik moes verdwyn, hoedat ’n volgende generasie kon oorneem. Marné Pienaar se entoesiasme en ywer het ’n nuwe dinamika na die departement gebring, ’n nuwe benadering wat op die regte tyd na die departement gekom het.

Waar dit oor die afgelope twee dekades mode geword het om in die taalkundestudie al meer weg te stuur van “harde taalkunde” na die meer aanloklikklinkende toegepaste taalkundeterreine, het hierdie departement steeds ’n stewige basis, gegrond in die studie van die sintaksis, semantiek en historiese taalkunde behou, met die oog daarop dat spesialisering in toegepaste rigtings later op senior vlak kan plaasvind. Ek dink dat dit die regte koers was om te hou – veral as mens nou toenemend merk hoe skaars taalkundiges met so ’n onderbou in die hele land is.

Die letterkundekant van die departement was veel meer stabiel aangesien die letterkundiges van ’n jonger garde was wat nie deur aftredes geraak is nie. Ongelukkig moes ons kort na my aankoms by die departement ons afskeid neem van Rika Celliers na haar voortydige dood. Maar saam met Marthinus P. Beukes en Thys Human kon ons die letterkundekant van die departement se aanbod volhou. Die uiteenlopende aard van ons literatuurbeskouings – van die stipleesvermoëns en sterker “humanistiese” benadering van Marthinus tot die meer “postmodernistiese, teoretiese benadering” van Thys – het meegewerk om vir studente ook ’n blik te bied op die wye moontlikhede wat literatuurstudie bied en juis van die veranderinge wat in die vakgebied plaasgevind het. Die ontwikkeling van Thys van ’n ietwat onseker M-student tot ’n professor in die twaalf jaar was ’n merkwaardige belewenis wat ek kon meemaak en my jonger kollega se fenomenale groei en werkywer het my bewondering afgedwing.

Dit was ’n groot voorreg om vir twaalf jaar van my lewe aan hierdie departement verbonde te wees.

Herinneringe

ANNA COETZEE

My verbintenis met die Departement Afrikaans van RAU/UJ het vroeg begin. Hierdie band loop soos ’n goue draad vanaf ’n onbeplande honneurs in 1969, deur ’n magister in Taalkunde en ’n doktorsgraad in Sosiolinguistiek tot by ’n professoraat – alles in dié departement. In die vroeë jare, vanaf 1974-1976, het ek ook ’n groot deel van die sintaksis-ontleding van die Afrikaanse taalkorpus van prof. Henk Kroes by RAU se Taaldiens gedoen, wat in later jare ook ’n belangrike rol in navorsing binne die Departement Afrikaans speel.

Dié onbeplande honneurs het ’n aanvang geneem toe ek aan Jan Spies gemeld het dat ek meen om by UNISA vir Sielkunde in te skryf. Nee, meen hý toe, waarom nie liewer ’n Afrikaans Honneurs by die nuwe RAU op die bierbrouery-kampus nie. Daar is professore Frans van Rensburg en François Odendal, en bowendien kom prof. Diek van Wyk ook nog later in die jaar vir Linguistiek. Hy skakel toe onverwyld die professore vir afsprake vir dieselfde middag. By die huis gekom, vertel ek vir my stom-verbaasde eggenoot Kobie dat ek nou vir Afrikaans Honneurs ingeskryf is. Terloops: inskryf was darem goedkoop en pynloos in daardie vroeë dae.

Honneurs was ’n ervaring met Stilistiek en Poësie by prof. Frans van Rensburg, Morfologie en Fonologie by prof. François Odendal, Drama by dr. John Kannemeyer, en Linguistiek by prof. Diek van Wyk. My magister “Nasalering in Afrikaans”, binne die raamwerk van die Transformasioneel Generatiewe Fonologie, was onder die studieleiding van prof. Francois Odendal en prof. Diek van Wyk. Dit was in in 1975 een van die eerste twee taalkunde-magisters wat by RAU toegeken is.

RAU het van die begin af uitnemendheid voor oë gehad. Vir ’n D.Litt. et Phil. moes daarom eers vier seminare oor bepaalde onderwerpe voor ’n gehoor gelewer word. Voor die tesis sy loop kon neem, was daar nog ’n mondelinge eksamen by die promotor, ’n ander interne eksaminator en ’n eksterne eksaminator. My eie tesis onder die promotorskap van prof. François Odendal was “Uitspraakvariasie in die taalgebruik van die Johannesburgse bruin gemeenskappe: ’n vergelykende studie”. Dis in 1989 toegeken en was toe die derde taalkunde-tesis van die Departement Afrikaans.

Na twaalf jaar in hoëronderwys, en dertien jaar as taalkundedosent in die Departement Afrikaans en Nederlands by Wits, is ek in 1990 as medeprofessor in die Departement Afrikaans by RAU aangestel. In 2000 het ek volprofessor geword. Ná my aftrede in 2005 beklee ek die posisie van spesiale professor van die Departement Afrikaans.

In die sestien jaar as dosent by RAU/UJ was ek op voorgraadse en nagraadse vlak in hoofsaak verantwoordelik vir Klankleer, Woordbou en Sosiolinguistiek. Gedurende dié tydperk is vyf doktorale proefskrifte onder my studieleiding voltooi, asook dertien magisters, waarvan ses met lof behaal is en met gesogte pryse bekroon is. ’n Hele aantal publikasies het ook uit die magisters en doktorale proefskrifte voortgevloei. Ek was ook eksterne eksaminator vir ses tersiêre instellings se honneurskursusse asook vir agt magisterverhandelings en agt doktorale proefskrifte in dié tyd.

Daar is een ongewone kursus wat vir agt jaar vanuit die Departement Afrikaans aangebied is en waarvoor ek aan die stuur was, wat spesiale vermelding verdien. Dit is die indiensopleidingskursus vir onderwysers van Afrikaans as tweede of addisionele taal. Hierdie kursus het in 1995 in aanvang geneem as ’n hulpkursus vir nie-Afrikaanssprekendes wat Afrikaans onderrig het. In 1996 is die kursus deur die Departement van Onderwys geakkrediteer as ’n Verdere Diploma in Onderwys. Daar was sommige jare meer as sestig kursusgangers, waarvan ongeveer die helfte later Afrikaanssprekend was. Die aanbieders was hand-uitgesoektes uit ’n verskeidenheid instellings. Honderde matriekleerders het ook by geleentheid hulplesings van dié aanbieders by die universiteit gekry. Feitlik al die Afrikaanse koerante en tydskrifte van destyds, asook ander instansies, het verdienstelike kursusgangers graag met pryse beloon. Die Fakulteit Opvoedkunde het hierdie kursus egter vanaf 2004 opgeëis, maar dit toe ongelukkig nie van die grond af gekry nie.

In die periode wat ek by die Departement Afrikaans was, was ek aktief betrokke by redaksionele werk. In 1998 word ek redakteur van Tydskrif vir Taalonderrig / Journal for Language Teaching, wat daarna ’n tydskrif met internetversies op Sabinet Online en INASP se African Journals Online (AJOL) geword het, en lesers oor die wêreld verkry het. Ek was ’n keurder vir vier geakkrediteerde tydskrifte en onder andere ’n voltydse medewerker van Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Vanaf 2003 was ek op die “Board of Advisors of the Botswana Journal of Applied Linguistics” en in 2005 is ek genooi om saam met topakademici op die redaksionele paneel van ’n nuwe internasionale tydskrif, Multilingual Matters, te dien.

Op die gebied van akademiese publikasies het ek my deel in die Departement probeer doen. Sedert 1990 het ek 33 artikels vir vaktydskrifte en -boeke geskryf – nege daarvan in internasionale publikasies – asook sowat ’n dosyn resensies. In 1992 beleef my boek Fonetiek ’n derde druk en sesde hersiene uitgawe, in 1993 was ek op die redaksionele komitee vir ’n huldigingsbundel aan prof. EB van Wyk en in 1994 die mederedakteur van die bundel opgedra aan prof. EH Raidt. Saam met die ander lede van die Taalkommmisie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ek die Langenhovenprys ontvang vir die herbewerkte uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls (AWS) van 2002.

Ek was in dié tyd ook aktief betrokke by ’n hele aantal binnelandse en buitelandse taalverenigings en -organisasies. Benewens lidmaatskap aan verskeie binnelandse en buitelandse vakverenigings, was ek op die FAK se Taalkomitee en vanaf 1998 tot 2004 lid van die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, asook lid van die Nasionale PANSAT-Raad vir Afrikaans (NTLA) vanaf 2001 tot 2004. Ek het die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Taalonderrig / South African Association for Language Teaching (SAVTO/SAALT) vir ses jaar op die World Council van die World Federation of Modern Language Associations / Fédération Internationale des professeurs de Langues Vivantes (FIPLV) verteenwoordig. Vir hierdie internasionale organisasie het ek in 2003 sy 21st World Congress by RAU gereël, waar daar 210 voordragte deur deelnemers van oor die wêreld gelewer is. Al die lede van die Departement Afrikaans was op een of ander manier daarby betrokke.

Dit was altyd my oortuiging dat die lewer van referate by vakkongresse baie belangrik is. Gedurende die tyd by RAU/UJ het ek, benewens praatjies oor die radio, televisie-optredes, voordragte by ander organisasies en gaslesing by oorsese universiteite, 22 referate by vakkonferensies gelewer waarvan tien by internasionale kongresse was. Ná ’n referaat by die Staatsuniversiteit van Moskou, was ek ’n spesiale gas was, het ek ’n uitnodiging ontvang het om ’n hoofrede by die universiteit van Tomsk in Siberië te lewer – wat vir my ’n baie spesiale ervaring was.

In retrospek sien ek die jare by Wits as my silwer akademiese jare en dié by die Departement Afrikaans by RAU/UJ as my goue jare. Ek wens dié departement en almal wat daar betrokke is, nog baie goue jare toe.

Uit en tuis in die Departement Afrikaans

JAC CONRADIE

Een nieuwe lente, een nieuw geluid

Toe ek my begin Januarie 1975 na die kraaknuwe kampus van die Randse Afrikaanse Universiteit begewe het, was dit nie alleen vir my ’n grondverskuiwing vanaf Utrecht in Nederland, waar ek toe vyf jaar lank gestudeer het, terug na Suid-Afrika en vanaf die Kaap na die berugte Johannesburg nie, maar ook vir die Universiteit ’n skuif vanaf die Braamfonteinse bierbrouery na die Aucklandparkse woonbuurt en gholfbaan. My eerste kennismaking met die RAU was op 6 Januarie, toe ek prof. François Odendal voor die universiteit ontmoet en ons ons weg tussen hope  bouersrommel moes baan. Personeellede probeer desperaat hulle nuwe kantore vind. Ek word aan ’n duisternis mense bekend gestel ― daar was kennelik reeds sprake van ’n universitêre gemeenskap ―  en my kantoor met ’n uitsig op die Melvillekoppie gewys.

My leeropdrag sou veral Sintaksis, Fonetiek en die historiese taalkunde wees. Taalgeskiedenis het geblý; Fonetiek is later deur Anna Coetzee oorgeneem en Sintaksis deur Hans du Plessis en na sy vertrek deur Willem Botha. In latere jare was ek weer vir die Sintaksis en Fonetiek verantwoordelik. Taalgeskiedenis is jare lank in al drie voorgraadse jare aangebied, met kursusse spesifiek vir Middelnederlands en 17de-eeuse Nederlands; later word dit geteleskopeer in een derdejaarskursus. Die taalhistoriese kursusse op honneursvlak was Taalgeskiedenis, Middelnederlands, Goties en Oudnoors. Tot my verbasing het Oudnoors deur die jare meer aftrek as Goties, en Goties meer as Middelnederlands gekry.

Die Taaljaar

My eerste jaar by RAU was ook die eeufees van die stigting van die GRA. Op 12 Augustus hou RAU sy taalfees en word ’n paar yslike granietrotse wat ontheem is na die bou van die Taalmonument en RAU toe vervoer is, op die binneplein as RAU se taalmonument onthul. Verskeie lede van die Departement word deur die jaar gevra om as feesredenaar op te tree; veral Jan Spies kon nie voorbly nie. My eerste beurt kom op 11 April, toe ek die Brixtonse Rapportryers in die “Blou Kamer” op die stasie toespreek, oor “Afrikaans – ’n nuwe of ’n ou taal?”. Ander voordragte volg by die Hoër Meisieskool Stoffberg in Brakpan, die Holy Cross-kloosterskool in Victory Park, ens.

Vergaderings

Gereelde en dikwels lang vergaderings – soms vyf uur aaneen – was van vroeg af ’n kenmerk van die Departement. Voor die koms van die rekenaar was daar vir elke jaargroep ’n afsonderlike puntevergadering waar al die gemiddeldes uit die kop bereken moes word, net soms met die kontrole van ’n optelmasjientjie. Die vinnigste en noukeurigste gemiddeldeberekenaar was Rika Preller. Maar rekenarisering was onvermydelik en die einde van puntevergaderings in sig. Willem Botha was hier die baanbreker, al het ek en Rika hom nog by geleentheid  probeer oortuig dat dit net meer moeite sal afgee.

’n Vergadering wat lank onthou is, is dié van die besoek van die rektor, prof. G. van N. Viljoen, aan die Departement op 3 Junie 1977. Naas al sy lof vir die Departement beskuldig hy ons tog van ’n gebrek aan ’n sekere “warmte”, wat studente byvoorbeeld by ander taaldepartemente ervaar. Dit is waarskynlik die oorsprong van ons “oopdeurbeleid” ― kantoordeure bly tot vandag toe meestal oop. Ek onthou ook die rektor se verontwaardiging, kort na my aankoms, dat die RAU in dié stadium al so R37/38 miljoen kos, maar ’n sekere pad in die Vrystaat R 32 miljoen.

Kollegas deur die jare

Vir prof. François Odendal, wat van tyd tot tyd departementshoof was en tussendeur hoof van die Taalkundeafdeling, kan ek net beskryf as kollegiaal. Hy het so onopsigtelik leiding gegee dat ’n mens nooit gevoel het jou doseervryheid word ingeperk nie, en kon inspireer nie net deur sy kennis ― en hantering ― van die Afrikaanse woord nie, maar ook as kultuurmens deur sy wyer belangstellings, soos die moderne kuns. Vir my persoonlik was hy ondersteunend dwarsdeur my loopbaan, en ons kon ook talle linguistekongresse saam bywoon, met die groot internasionale  Germanistekongres in Basel in 1980 ’n hoogtepunt. Einde 1989 moet ons van hon afskeid neem, en ons oorhandig aan hom ’n bundeltjie artikels met die titel Onomheinde sin.

Prof. FIJ van Rensburg, die eerste lid van die Departement en meermale departementshoof, is steeds binne en ook in ’n wye kring buite die Departement gerespekteer as uitdraer van die beste in die Afrikaanse letterkunde. 

Willem Botha, wat in 1981 by ons aangesluit het, was ’n waardige opvolger van prof. Odendal, altyd ’n koelkop-departementshoof en ’n kollega om op staat te maak. Hy verwerf internasionale bekendheid as kenner op die gebied van die Kognitiewe Semantiek. Einde 2007 neem ons van hom afskeid; later kon ons ook ’n festschrift aan hom oorhandig.

Harri Müller (van Literatuurwetenskap, maar prakties gesproke deel van die Departement) se roem het hom vooruit geloop; voor ek hom nog ontmoet het, het ’n ander kollega met ontsag gesê: Dit is nou ’n slim man daardie. Harri kon baie ernstig diskusseer, ook al wandelende, soos die Griekse filosowe van ouds; hoe ernstiger hy raak, hoe stadiger loop hy, tot hy later botstil staan en sy gespreksgenoot noodgedwonge ook. In 1984  spreek hy  die Leerganggroep ’n anderhalfuur lank toe oor metrum. Rika Preller merk lakoniek op: daar is twee groepe: dié wat dié dinge reeds weet en toepas, en dié wat dit nie wil weet of hoef te weet nie. Onkunde kon hy ook nie goed hanteer nie. Êrens in 1975 bied hy, met ’n beeld wat sy plaasagtergrond verraai, ’n unieke perspektief op studente: eerstejaars, sê hy,  laat hom dink aan ’n groot bak vleis wat ’n mens dringend in plastieksakkies in die diepvries moet sit voordat dit brommers trek.

Rika Cilliers Preller ― vanaf 1975 23 jaar lank my kollega  ―  het in haar eie wêreld geleef, maar dit moes ’n baie interessante, verwikkelde, mooi wêreld gewees het. Sy kon ’n skat van poësie aanhaal en het baie studente geïnspireer met haar groot liefde vir die Nederlandse letterkunde, veral van die 17de eeu. Rika wou die lewe vir ander  vermooi en versoet; een Lentedag deel sy vir almal wit angeliere uit, en pepermente is dikwels aangedra na vergaderings en kantore, met ’n bakkie vir elk dat ons ook die goeie gewoonte kan aanleer. Maar dit alles met ’n knippie eksentrisiteit: elke dag ’n ander sigeuneruitrusting, het ek soms gedink – miskien net nog ’n uiting van haar kunssinnigheid. Rika is oorlede op 27 Maart 1999. Op haar begrafnis lees At Botha die laaste gedig, “Ingebed”, in haar laaste bundel, Spirakel, voor – met die profetiese reëls: op hierdie Dinsdag kies ek / gedagteloos dood.

Jan Spies  was nie gebore in staat om by iemand verby te loop sonder om ’n storie te vertel nie, natuurlik in sy kenmerkende Namibiese ― of dalk Jan Spies-? ― variëteit van Afrikaans. Hy het self op ’n keer die sluier hieroor gelig, toe hy vertel dat prof. Meyer de Villiers destyds ’n ommekeer in sy lewe gebring het toe hy hom tydens ’n redenaarskompetisie op Stellenbosch effektief van sy Tukkies-filosofie-jargon afgekry het na sy  “soos jy is”-benadering. Hy was ’n woordmens soos min, maar ook uitermate prakties. Toe hy op ’n keer gevra word wat hy al gedoseer het, antwoord hy: omtrent alles van Fonetiek af tot by “Die Hond van God”. Met die Fonetiek was hy inderdaad heel behendig, al het studente soms van hom verskil oor wié se Afrikaans getranskribeer moes word. Een student het selfs daarop aangedring dat hy sy vinger in haar mond sit om haar presies te wys hoe die klanke gevorm word. Tekenend was sy oplossing van ’n praktiese probleem tydens een van die lang puntevergaderings, toe elke departementslid op elke rekenaarvel moes teken en die velle aan mekaar moes vas bly: ons rangskik al die tafels in die seminaarkamer in ’n lang ry, rol die meters rekenaarpapier daarop uit en beweeg in optogformasie met ons penne verby om te teken.

’n Aantal oudstudente word later dosente in die Departement of verwerf grade in Afrikaans terwyl hulle dosente is: Irene Coetzer (1982-3), Rhoda van Schalkwyk (née Venter) (1987-89), wat ’n verhandeling skryf oor Afrikaans in Argentinië, Anna Coetzee (vanaf 1990), wat later professor word en by geleentheid Departementshoof, en internasionaal bekend word as taalkundige, Regina Malan (tot 1992), Ina Vos (née Swanepoel) (tot 1996) en Thys Human, wat as student die Kanseliersmedalje verower en tans hoof is van die Departement. Kollegas vir korter periodes was Christine Burger (1984-5)  en Libé Pretorius (tot 1992). As gevolg van die ontbinding van die Taaldiens, sluit Elise van Staden, Susan Marx (wat ons in 1999 verlaat om TV-nuusleser te word) en, as taalversorger en vertaler, Tisa Viviers by ons aan.

Die sekretaresses was altyd ’n gewaardeerde aanvulling tot die Departement; in tye van swaarkry het daar ’n sterk persoonlike band ontstaan.  Ek dink hier veral aan Magriet Williams, Monica Botha (tot 1988) en Trudie Strauss ― vanaf September 1990 en nog steeds, dus al meer as 20 jaar.

Kongresse en simposia

Lede van die departement het deur die jare ’n paar maal die geleentheid gekry om taalkundekongresse aan te bied, soos die LVSA-kongres van Junie-Julie 1976 wat deur Willem Botha georganiseer is en weer een in Julie 1986, waar ek die leiding geneem het. In Julie 2003 reël Anna Coetzee die 21ste Wêreldkongres van die Fédération Internationale des Professeurs de Langues Vivantes (FIPLV) ― ’n formidabele onderneming, waaraan ook kollegas uit ander departemente meegewerk het. In April 2007 reël ek en Marthinus Beukes die 6de internasionale simposium oor Ikonisiteit in Taal en die Letterkunde, waar onder meer die kunsfilosoof Vincent Colapietro en die etimoloog Anatoly Liberman uit die VSA as gassprekers optree.

Ook aan die jaarlikse simposia van die Fakulteit se Studiegroep Middeleeue en Renaissance, wat ek baie jare lank gereël het, neem departementslede van tyd tot tyd deel. Prof. FIJ van Rensburg lewer byvoorbeeld in 1989 ’n lesing oor Abelard en Héloïse en die Afrikaanse letterkunde en Rika Preller praat in 1994 oor Bredero se “Boeren Geselschap”. ’n Hoogtepunt was die 1988-simposium oor Il nome della rosa van Umberto Eco, waarvoor die skrywer die Studiegroep spesiaal bedank het.

Die Departement het ook meermale buitekurrikulêre kursusse en seminare aangebied. Daar is byvoorbeeld van tyd tot aandag geskenk aan die behoeftes van Afrikaansonderwysers in Johannesburg en elders, soos die jaarlikse dagseminaar “Afrikaans in die Wending” in die jare rondom die eeuwisseling. In 2000 is dit by die Hoërskool Waterkloof in Pretoria aangebied. In die kursus “Nederlands vir Afrikaanssprekendes” wat ’n paar maal aangebied is (met die medewerking van Marijke Hilman), kon van personeellede van die Universiteit tot voornemende emigrante meer oor Nederlands te wete kom.

Buitelandse besoekers

Talle buitelandse besoekers het die Departement deur die jare aangedoen, selfs ondanks die kulturele boikot. Die dialektoloog Jan Goossens besoek ons in 1975, asook die letterkundige WAP Smit, wat ’n eredoktorsgraad van die Universiteit ontvang. Tydens ’n Neerlandistiekkongres besoek die taalkundige Jaap de Rooij (medeskrywer van die Algemene Nederlandse Spraakkunst of ANS) ons in 1980. Die romanskrywer WF Hermans lê op 14 Maart 1983 teen alle boikotte in besoek af by die Departement, en praat oor De donkere kamer van Damocles en Herinneringen van een engelbewaarder. Rika oorhandig ’n digbundel aan hom.

In  1984 is daar besoeke van prof. Lambert, ’n letterkundige uit Leuven, en mej. Beer van die Universiteit van Harare. In Augustus 1985 ontvang ons besoek van dr Jongsma, ook met ’n belangstelling in die historiese taalkunde, en ― uitvoerig ― van ’n baie uitgesproke Piet Paardekooper, die bekende Nederlandse strukturalis wat oor die jare ’n groot invloed op die Nederlandse sintaksis en indirek ook op die Afrikaanse sintaksis uitgeoefen het. Hy gee vir die derdejaars ’n lesing oor Nederlandse dialekverskynsels; die studente is volgens hom goed gekleed, maar hulle reageer swak! By die Missaksentrum praat hy oor “De rol van het Afrikaans in m’n leven”. In Oktober van dié jaar kom ontmoet die Sweedse Neerlandikus Ingrid Wikén-Bonde die Departement.

In Maart 1986 spreek Yvette Stoops, ’n Vlaamse taalkundige wat dosent was in Port Elizabeth, die Departement toe en hou sy ’n lesing by die derdejaars. In Augustus dié jaar bring die letterkundige Marcel Janssens en sy vrou uit Leuven ons een van meerdere besoeke.  In 1987 is dr Chris Janse, hoofredakteur van die Reformatorisch Dagblad, gesetel in Apeldoorn, aan die beurt. In 1988 ontvang ons besoek van Ward Thielemans uit België en by ’n later geleentheid van prof. Vlaschelaers uit Leuven, wat ons weer oor die postmodernisme ― ’n gewilde tema onder die Vlaamse besoekers ― toespreek. In 1989 is Piet Paardekooper weer hier, en het hy dit onder meer oor Oud-Hollands, Amsterdams en Afrikaans. Ons ontvang ook besoek van  Jos Wilmots, ’n jarelange vriend van Afrikaans. Clem Neutjens spreek ons weer uitvoerig oor die postmodernisme toe. In 1990 ontvang ons besoek van prof. Henrard van Louvain-la-Neuve. Dié jaar kom Stefan Coolen uit Vlaandere ’n jaar lank nagraads by ons studeer en vergelyk hy in ’n kort skripsie Nederlandse en Afrikaanse idiome.

Die besoek van Andrej Ignatenko, dosent aan die Moskouse staatsuniversiteit, en vyf studente in Oktober 1990 het ’n besondere indruk gemaak. Hulle was in wisselende mate Afrikaans magtig en party het blywende bande met Suid-Afrika gesmee. Die jaar daarop ontvang ons besoek van die Surinaamse taalkundige Hein Eersel, die Surinaamse skryfster Thea Doelwijt, die skrywer Bert Schierbeek en later van Robert Kirsner, wat Nederlands en Afrikaans doseer aan die Universiteit van Kalifornië. In 1994 is  Hugo Bousset en André Lefevre aan die beurt, en later dié jaar ’n afvaardiging van die Nederlandse Taalunie onder leiding van Greetje van den Berg. Toe ons hulle trots die Nederlandse versameling in die biblioteek gaan wys, was daar juis verskuiwings in die boekery aan die gang en lê al die Nederlandse boeke tot ons verleentheid op die vloer!

In 1995 ontvang ons die Poolse Neerlandikus Zofia Klimaszewska van die Universiteit van Warskou en later ’n afvaardiging van die Nederlandse onderwyskollege Windesheim, wat bande met RAU wou aanknoop. In 1996 is daar Jacqueline Bel van Leiden en later die Poolse letterkundige Jerzy Koch van Wrocław, wat later onder meer ’n Poolse literatuurgeskiedenis van Afrikaans sou skryf en gedigte van Ingrid Jonker in Pools vertaal het. In 1997 ontvang ons weer vir Marcel Janssens, asook die Japannese Germanis Takashi Sakurai (Dasai), wat jare tevore onder leiding van prof. Odendal Afrikaans begin leer het. Dié jaar bring ook besoeke mee van Rien Segers uit Groningen, Johan Beke uit België en ’n jong dosent uit Indonesië.

In 1999 besoek Clem Neutjens ons weer en het hy dit weer oor die postmodernisme, asook oor moderne kuns. In 2000 word ons toegespreek deur  die Nederlandse kognitiewe linguis Arie Verhagen. In 2003 maak Eep Franken hier ’n draai, en in 2004 vier Nederlandse skrywers: Willem van Toorn, Luuk Gruwez, K. Michel en Miriam van hee. Die Noorse historiese taalkundige Jan Terje Faarlund, vergesel van sy vrou, Marianna, ’n antropoloog, kom vertel van die komplekse taalsituasie in Noorweë. In 2005 besoek Jerzy Koch die Departement weer, en in 2007 lees Luuk Gruwez weer van sy werk aan ons studente voor, toegelig deur vertalings van Hennie van Coller; later ontvang ons ook Bart Moeyaert en Yasmine Alles.

Eie oorsese kontakte

Oor die jare was ek bevoorreg om benewens heelwat van die plaaslike jaarkongresse van die Linguistevereniging van Suider-Afrika, Neerlandistieksimposia en tweejaarlikse simposia van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Middeleeuse en Renaissancestudies, talle oorsese kongresse te kon bywoon, veral die tweejaarlikse ICHL (International Conference for Historical Linguistics) en die driejaarlikse Colloquium Neerlandicum van die Internationale Vereniging voor Neerlandistiek, van tyd tot tyd die jaarkongres van die Societas Linguistica Europaea en die tweejaarlikse Internasionale Simposium oor Ikonisiteit in Taal en die Letterkunde, twee maal (1980 en 2010) die vyfjaarlikse kongres van die Internationale Vereinigung für Germanistik, enkele internasionale kongresse oor Grammatikalisasie en selfs die 17de tweejaarlikse konferensie oor die “Pratique, développement et enseignement des langues de la Caraïbe et des Guyanes”. Ek kon op dié manier verskeie lande besoek: talle Europese lande, asook die Verenigde Koninkryk, die VSA, Kanada, Australië en Frans-Guyane. Ek kon ook ’n aantal  seminare en lesings oorsee aanbied. In 1993 bied ek ses weke lank ’n kursus oor Afrikaans by die ELTE-universiteit in Boedapest aan, in 1991 lesings in die vakgroepe van kollegas in die Neerlandistiek in Wrocław en Poznań in Pole, Olomouć in die Tsjeggiese Republiek, Debrecen in Hongarye en Milaan in Italië. In Julie 2005 bied ek saam met Ernst Kotzé die Seminarie Afrikaanse Taalkunde aan die Limburgs Universitair Centrum in Diepenbeek, België, aan.

Studente deur die jare

Vroeër jare was die klasse groot; begin 1976 sit die eerstejaars byna die hele D-les 101 vol. Daar was groepklasse vir almal, ook die groot eerstejaarsklas. Oor lang tydperke was daar aandklasse nie net vir die eerstejaars nie, maar ook vir die tweede- en derdejaars; een jaar is daar selfs meer aand- as dagtweedejaars.

Didaktiese beginsels moes ek maar algaande vir myself formuleer, om nie in die klasgeeproses onder te gaan nie. Rondom 1981 vererg ek my op ’n dag bloedig vir ’n eerstejaar wat openlik sit en koerant lees tydens die lesing. My pogings tot bytende sarkasme is tevergeefs; ek word kortasem en moet veg om voort te gaan met die lesing, terwyl meneer rustig aanhou lees. Die les is: sarkasme is nie ’n doeltreffende didaktiese instrument nie, en die beginsel: word nooit kwaad vir ’n student nie ― jou gesondheid is belangriker.

Die skriftelike terugvoering wat ’n mens in toetse en eksamens kry, gee dikwels ’n beeld van die omvang van die mistastings wat gekorrigeer moet word, as ’n mens ten minste die kans gegun word. Maar soms bring die neerslag van die ernstige bedoelings van die taaldosent in die jong gemoed, ’n gevoel van meewarigheid. Toe ek in 1979 by Wits waargeneem het en die kreoliseringsdebat gewoed het, moes ek verneem hoe “... het die matrose en boere met slawens verhoudings gehad en kinders begaan”. Die taalgeskiedenis gee dikwels aanleiding tot vindingrykheid. So kon ’n mens byvoorbeeld lees van “Hoogs-Hollands” en “krioelisering”, van Trigardt se “abdominale verbuiging”, en: “Hy [Trigardt] hou nie tred met sy tye nie”. Die Baldadiërs is ’n Nederlandse dialekgroep, en ’n paar ander variëteite om ― soms met vrees ― van kennis te neem, is  Sanskrik, Indigeems, Bergalies, Helleem en Faams. Eiegoed is “woorde wat gevorm is na aanleiding van ’n gaping in die volksmond”. Aan diachroniese insigte ontbreek dit nie: “Afrikaans ... die taal wat die vêrste gevorder het op die ontwikkelingsvlak van ’n sinistere vlak tot ’n analitiese vlak” en “Afrikaans het heel waarskynlik die verste ontwikkelingspad van ’n apatiese na ’n statiese taal”.

Ook demografiese faktore word geïmpliseer: “Die Duitsers het individueel na die Kaap gekom. Daar was min en ook min vroue. As gevolg daarvan was daar omtrent geen voortplanting nie.” En die Franse taal moet deurloop: “Frans is ’n taal wat afgestamel het van Latyns.” Die geskrifte van Franssprekendes aan die Kaap neem selfs hoëre dimensies aan: “Dit is meestal geskryf deur die Franse Hugenote en handel hoofsaaklik oor die opstanding van Estienne Barber wat in 1739 tereggestel is.” Die oorsprong van Afrikaans, daarenteen,  is heelwat nederiger: “Aan die Kaap was daar ’n verversingsstalletjie wat beheer was deur die VOC.”

In die sintaksis is daar soms merkwaardige insigte, byvoorbeeld: “’n Hulpwerkwoord ... help die hoofwerkwoord tot besinning” en: ’n massanaam “is soos bv. ’n bietjie pap. Nou hoeveel is ’n bietjie pap? Die is ’n voorbeeld van ’n massanaam”. ’n Potensieel gevaarlike woordsoort is die “naamwoord van mortaliteit”. Soms grens die antwoord aan die poëtiese, soos in die volgende onweerstaanbare stylwenk: “’n Goeie skrywer gebruik verskeie taal tegnieke en style sodat ’n leser nie in die luimering van ’n enkelvoudige sin sluimer nie.” 

Belangrike momente

Enkele gebeurtenisse uit die geskiedenis van die Departement in my tyd kan myns insiens uitgesonder word.

·     In die Afrikaanse taaljaar 1975, toe die RAU vir hom fisies ’n plek in die Johannesburgse landskap afgebaken het, kon departementslede ’n groot bydrae tot die bewusmaking van Afrikaans lewer.

·     In 1987 is NL Nkatini, met prof. Odendal as promotor, die eerste swart persoon ter wêreld wat ’n doktorsgraad in Afrikaans ontvang.

·     In 1988 verander die Departement sy naam na net “Afrikaans”, omdat  vermoed is dat voornemende studente deur die “Nederlands” in die naam ontmoedig word; onderrig in Nederlandse taal- en letterkunde gaan nietemin voort.

·     Andrej Ignatenko en sy studente uit Moskou lê in 1990 besoek af en praat Afrikaans ― ons eie klein deurdringing van die Ystergordyn.

·     In November 1994 doen die Departement (met ’n groot inset van prof FIJ van Rensburg) namens RAU aan die plaaslike owerheid ’n voorlegging oor ’n taalbeleid vir die PWV-provinsie. Engels, Afrikaans, Zulu en ’n Sothotaal word as amptelike tale vir die provinsie voorgestel.

·     16 Maart 1997, toe Elise van Staden haar doktorsgraad ontvang, Thys Human en Susan Marx hulle magistergrade en Thys die Kanseliersmedalje, en nog drie honneursstudente hulle grade, was ’n trotse dag.

·     Die aanbieding van die 21ste Wêreldkongres van die Fédération Internationale des Professeurs de Langues Vivantes (FIPLV) in Julie 2003 deur Anna Coetzee het die Departement op die wêreldkaart geplaas.

Daar was nie net hoogtepunte nie. Die Departement moes oor die jare ’n aantal talentvolle, selfs kleurryke, gewaardeerde kollegas aan die dood afstaan: Harri Müller, Johann Johl, Rika Preller en ― toe lankal nie meer lid nie ― Jan Spies. Dit was nie maklik nie. Ons eer hulle unieke bydrae.

Van voorgraadse student tot voorsitter (of: Van hierjy tot HOD)

Thys Human

In Januarie 2010 moes ek vir die soveelste keer van kantoor verskuif. Dié keer op versoek van die dekaan (prof. Rory Ryan), tot heel onder in die gang. Slegs departementele voorsitters – so wil dit altans blyk – word ’n uitsig op die binneplein en fontein gegun.

Die laaste paar jaar voor hy sy voorsitterspligte by ’n sustersuniversiteit aan die ander kant van die Jukskei gaan voortsit het, het Willie Burger “Rika (Cilliers) se ou kantoor” gebruik. Vir my was dié kantoor egter nie beskikbaar nie. Die Departement Linguistiek en Literatuurwetenskap is na daardie kant van die gang verskuif en as voorsitter moes prof. Anne-Marie Beukes dié kantoor kry. (Linguistiek se gang is omskep tot ’n suite vir die visedekane en ander administratiewe personeel.)

Ek moes dus in Jac se kantoor in. Die hele Desembervakansie het ek, meestal vergeefs, probeer dink aan planne om dié verskuiwing na ’n aantreklike opsie te laat klink. Toe ek die telefoonoproep uiteindelik vroeg-Januarie met groot voorbehoud maak, het Jac dit laat klink asof ’n skuif na B-Ring 508 (my vorige kantoor) die opwindendste ding denkbaar is. Binne dae het hy die hele kantoor ontruim. Hy het my vriendelik gewaarsku dat die kantoor in die somer behoorlik warm kan word, en gewys waar die winterson ’n bietjie verligting gee van die ysige koue wat jou in die gange van UJ kon oorval. Só is Jac: altyd tegemoetkomend, aanpasbaar en gulhartig. Hoe lekker is dit nie om hom nog steeds as kollega in die Departement te hê!

Trudie het my, doktervoorskrifte ten spyt, gehelp met die skuif van die meubels; met die oordra van die boeke; met die uitsoek van lêers. Sy het baie diskreet voorgestel waar die lessenaar, die stoele vir gaste of student en die drie boekrakke wat ek uit Willie se ou kantoor oorgeneem het, moes staan. Toe ons agterkom dat ek ’n lessenaarstoel kort, het sy die een uit Willie se kantoor oorgestoot. “Hy is lekker stewig,” het sy indieverbygaan opgemerk. Ek het gewonder of sy ook dink aan die student wat ’n paar jaar gelede na my verwys het as die “gesette dosent”, maar skielik onthou hoe lekker vér agteroor Willie op daardie einste stoel kon leun – met sy hande agter sy kop ingevou, een van sy bene gewoonlik oor die kant van die lessenaar. So die stoel was waarskynlik stewig! Maar die kleur (’n nogal aggressiewe blou) het beslis nie lekker ingeskakeer nie. Om die waarheid te sê, dit was ’n seer oog tussen die ligtebruin van die eikehoutmeubels en die groen mat en blindings. Dit was nou maar eenmaal die stoel wat ek aanvanklik moes volsit. Gelukkig kon die stoel in die rondte draai en op en af beweeg. Met genoeg verbeelding sou ek selfs effens vernaam daarin kon voel.

So van stoele gepraat…

Vandat ek in 1991 studente-assistent geword het, het ek al ’n verskeidenheid stoele in die Departement Afrikaans volgesit: as assistent, voorgraadse en nagraadse student, aflosdosent, kontrakdosent en uiteindelik ook as voltydse kollega.Om die waarheid te sê  het alles met ’n stoel begin. Of twéé stoele, om presies te wees…

In 1990 het ek as eerstejaarstudent vir die leergang BA-Regte by die destydse RAU ingeskryf.  My pa en ma het voet by stuk gehou dat ek eendag ’n “regte werk” moes kan doen en die bedryfsielkundige (of eerder sy aanlegtoetse) het dié loopbaanrigting as voorkeurkeuse uitgewys. Nodeloos om te sê, het dit my presies een jaar geneem om te besef dat ek my hart lewenslank rein sou wou hou van enige iets wat na privaat- of deliktereg klink.

Só beland ek toe aan die einde van my eerstejaar in ’n stoel aan die ander kant van die departementele voorsitter, prof. Johann Johl, se lessenaar. (As my geheue my nie in die steek laat nie, het my ma in die ander stoel gesit.) Wat prof. Johl daardie oggend alles vir my gesê het, kan ek ongelukkig nie meer onthou nie. Al wat ek weet, is dat hy vir my ’n studente-assistentpos aangebied het en my oortuig het om my studie(s) in Afrikaans voort te sit. Min het hy (en ek!) daardie dag geweet presies hóé lank ek hier sou bly sit! Dalk vassit? (Gelukkig het die Departement oor die jare soveel verander, dat dit dikwels vir my gevoel het asof ek my by ’n gans nuwe universiteit bevind.)

Prof. Johl het, soos prof. Botha na hom, die gawe van oorredig gehad. Nadat ek in 1995 my honneursgraad in die Departement voltooi het, het hy byvoorbeeld die volgende brief aan my (en seker ook die ander honneursstudente, so glo ek) geskryf:


Wie kan blameer dat ek die daaropvolgende jaar vir ’n magistergraad onder sy studieleiding ingeskryf het?[2]

Maar ek loop my herinneringe vooruit. Daar is ook ’n tweede stoel wat deurslaggewend was – die regterkantste een langs die klein tafeltjie in Trudie se kantoor. Daardie stoel het deur die jare biegstoel, terapiestoel, skinnerstoel, kla-stoel, wagstoel, geselsstoel én eetstoel geword. Dit is ook in daardie einste stoel wat een van my kosbaarste vriendskappe (naamlik dié met Trudie) sy beslag gekry het.  



As voorgraadse student het ek klas gekry by proff. Johan Johl, Willem Botha, Jac Conradie, Anna Coetzee, J.J.P. Benecke, Harrie Müller en mes. Rika Cilliers (later Preller) en Ina Vos. In my derdejaar het me. Libby Pretorius en dr. Regina Malan ook op aflosbasis vir ons klas gegee. Van my klasmaats is dit veral Rykie Pauw en Marcelle Hoogendoorn wat my bybly – en nie net omdat hulle albei slim en besonder aanvallig was nie! Hulle was, soos Righardt en Lynette, ook vir ’n hele paar jaar studente-assistente saam met my in die departement. As senior-assistent het Lina Vogel ons moederlik onder die vlerk geneem, terwyl Mada Mynhardt en Heidi Jacobs ons met arendsoë dopgehou het en gesorg dat ons nie grootkop kry of lyf wegsteek nie. Ek het onlangs toevallig op die volgende brief afgekom wat Heidi by geleentheid aan ons “aanstellerige ‘junior’-assistente” geskryf het:


Ja, dit was maar altyd ’n probleem – dié aanstellerigheid; dié gedagte dat ons spesiaal was. Hoe slim het ons byvoorbeeld nie gevoel toe ons ’n paar jaar later ’n skrywerskring gevorm het en weekliks ons eie kreatiewe werk voorgelê en ander se pennevrugte liederlik “gekneus” en “afgeskil” het nie? So erg het dit geraak, dat mev. Preller een week dié kwaai brief aan ons geskryf het (en sy was altyd so ’n liewe, dierbare mens):



Van dié skrobbering kan ek bittermin onthou. (Ek glo nou nog dat die brief eintlik aan die ander studente gerig was en dat mev. Preller mý eintlik probeer beskerm het.)

Wat my egter veel eerder helder bybly[3], is:

·     Prof. Johann Johl se passie vir die werk van Hennie Aucamp en Etienne Leroux, en hoe bevrees hy voor my vertrek na België was dat ek op Lettie Viljoen se eerste novelles sou besluit as stof vir my verhandeling (omdat dit volgens hom so “besonder vrot” was). Ek onthou ook die dag toe my suster, Elize, die voordeur oopgemaak het toe prof. Johl met my ma-hulle se leeskring kom gesels het en sy letterlik nie ’n enkele woord kon uitkry nie – later het sy teenoor my beken dat hy met sy swart rolnektrui “die mooiste man was” wat sy nog in haar lewe gesien het.

·     Hoe vriendelik prof. Willem Botha jou altyd genooi het om op die stoel oorkant sy lessenaar of teen die muur in sy kantoor te gaan sit; met hoeveel opregte belangstelling hy met jou kon gesels of net na jou kon luister; hoe hy jou siel soms behoorlik kon uittrek! Die krieketvoorbeelde wat hy gebruik het om “deiksis” meet e verduidelik en sy nasienterugvoer in rekordtyd, sal my ook altyd bybly.

·     Mevrou Rika Preller se hoede en hoendervleis-kort rokkies (soos dit by geleentheid deur ’n resensent beskryf is); die mandjievol klippe wat sy by haar in die klas gehad het toe ons Wilma Stockenström se “Die klip” behandel het; die honneursklasse in die Mixer (en ons verstomming as studente dat sy nie net vir Jannie du Toit nie, maar ook vir P.G. du Plessis, op voornaamterme geken het). En die vermoede wat ek altyd gehad het dat ek so ’n spesiale plek in haar hart gehad het as sy in myne.

·     Hoe versigtig ek vir prof. Harrie Muller was (veral wanneer hy individuele terugvoer ten opsigte van werkstukke in sy kantoor gegee het); sy bladsylange resensie van Casspirs en Campari’s in Beeld; dat hy eenkeer vir my in ’n werkstuk geskryf het dat dit makliker is om te “probeer” as om te “poog”; hoe lekker hy gelag het toe ek op my een-en-twintigste verjaardag opgemerk het: “Now I am at an age between adolescence and adultery”; maar ook sy ontydige hartaanval in die gang.

·     Die passie waarmee prof. Anna Coetzee klasgegee het, die Taal- en Teksbegeleiding-kursus vir tweedetaalonderwysers “bestuur” het en die moeite wat sy met Tydskrif vir Taalonderrig gedoen het. Ek onthou nou nog hoe vining sy ’n teesakkie in haar melkwater sou doop voordat sy dit gedrink het en hoe aansteeklik haar lag (en grappe) was. O ja, en dat daar ’n koffietafel én ’n bank in haar kantoor was – of so herinner ek my dit in elk geval.

·     Die kommentaar wat prof. Willie Burger altyd in sy byna onleesbare weerhaakskrif op my proefskrif (en ander dokumente) aangebring het; hoe lekker lank ons soms in die teekamer oor alles en nog wat kon gesels; sy snorklaggie as hy geamuseerd was; hoe hy gefluit het as hy gang-af loop; dat hy my Thyster genoem het (en vir Marthinus Tiens en vir Jac Jakkalas) en dat hy waarskynlik dié persoon is by wie ek die meeste oor die letterkunde en literêre kritiek geleer het.       

Die jare stap aan…

In my kop voel ek nog net so jonk soos daai onverskrokke, oningeligte, grootliks onbelese, jóng dosentjie wat met al die selfvertroue in die wêreld by sy eerste klas ingestap het - slegs ’n paar jaar ouer as die studente vir wie hy moes klasgee. Ek onthou ook nog, met ’n mate van verleentheid, die flou grappies wat ek vertel het, die stelligheid van my opmerkings en die onverdrote erns waarmee ek alles (van toetse opstel tot eksamennasienwerk) benader het. Ek het geglo dat ek die wêreld gaan verander! En vir ’n hele paar jaar het dit gevoel asof ek presies dít doen. Ek koester steeds elke paar studente-oë wat met ’n skynsel van begrip, entoesiasme, passie of vervoering geglinster het. Ek onthou nog elke dankie, elke kompliment. (Die kritiek het ek lankal vergeet.)

Al hoe meer besef ek dat daar ’n reusegaping tussen my en my voorgraadse studente is. Dat ons nie eens náástenby dieselfde verwysingsraamwerk deel nie. Erger nog, dat ek meeste van hulle se pa kon wees (ouderdomsgewys, natuurlik). As ek na die grensoorlog of feminisme verwys, na Bles Bridges of Abba, na Murder she wrote of die A Team, dan kyk hulle my aan asof ek van ’n vreemde planet kom. Maar, en dit is ’n groot maar, ek raak steeds opgewonde oor elke positiewe reaksie, elke interessante opmerking, elke insiggewende werkstuk, elke goeie eksamenvraestel, elke lig wat die letterkunde vir ’n student laat aangaan. Ek hou dus steeds baie van my studente, al laat hulle my soms oud en prehistories voel. En ek beskou my steeds geweldig geseënd en uiters bevoorreg om betaal te word om boeke te lees en met jongmense te bespreek.

Kyk ek gang-op uit my kantoor in die onderkantste regterhoek van die departement[4], sien ek die kantore van Jac Conradie, Marthinus Beukes, Marné Pienaar en Trudie Strauss. Tussen Marné en Trudie is daar nou ook ’n nuwe, deftige teekamer (waarin ons voortaan ons departementele vergaderings sal hou). Dit is goed om só uit te kyk, want dan besef ek hóé gelukkig ek is om elke dag saam met sulke talentvolle, aangename en gemaklike mense te werk. Solank húlle hier is, vervaag die fakulteitspolitiek, die uitdagings op universiteitsvlak en die groeiende administrasie-tsunami’s.

En wanneer ek uiteindelik terugdraai en my nou-nie-meer-so-nuwe kantoor betrag, dan is die eerste ding wat ek raaksien die nuwe lessenaarstoel wat met sy grysswart bekleedsel by alles anders pas en só gemaklik sit dat dit voel asof hy spesiaal vir my ontwerp is.                          

My kort avontuur: Herinneringe aan my meemaking van ’n stukkie vroeë begintyd van die Departement Afrikaans-Nederlands by die RAU

Karel Prinsloo

Skuif van UNISA af

Toe ek vyfentwintig was, was ek ’n lektor in Afrikaanse taalkunde (onder andere vir die kursus Praktiese Afrikaans) by UNISA. Daar was ’n mens deel van ’n groot en gelukkige personeel, oor die algemeen flukse dosente in hulle vakgebied. Omdat dit goed gegaan het met die departement, was daar massas en massas nasienwerk, veral vir die jong dosente by so ’n groot korrespondensie-universiteit. Soos Pirow Bekker, ’n kollega daar, eendag vir my gesê het: ’n mens gebruik jou oë skoon op van al die nasienery!

Een Saterdag in die rugbyseisoen van 1968 het ek tydens ’n groot wedstryd langs Herman Krige, ’n sielkunde-professor wat toe nuut by die RAU begin het, op die pawiljoen beland. Hy was ’n goeie geselser en het met geesdrif gepraat oor alles wat hulle by die splinternuwe RAU in Johannesburg beplan en doen. Dit het baie aanloklik geklink, ook toe hy sê dat daar ’n nuwe rondte van lektorate geadverteer gaan word nadat die senior personeel soos departementshoofde en professore onlangs aangestel is.

Die nuwe poste in verskillende RAU-departemente is geadverteer, ek het aansoek gedoen in Augustus 1968, is genooi vir ’n onderhoud en het in September-Oktober gehoor dat ek met salarisverbetering aangestel is in ’n lektoraat vir Praktiese Afrikaans.

Daardie tyd het ons as gesinnetjie (ek, my vrou Dioné en ons baba-dogtertjie Isabelle) naby Kyalami op ’n plot gebly. Die skuif na die RAU het beteken dat ons in Johannesburg blyplek moes soek want ek sou heelwat buitemuurse klasse gee en Dioné kan dan nie so alleen op die plasie bly nie. Huise naby die RAU was vir ons onbekostigbaar.  ’n Erf in Cresta was vir ons die beste oplossing, en om dan self te laat bou. Intussen was Dioné weer verwagtend en ons tweede kleintjie op pad.

’n Nuwe werk, ’n huis om te bou op ’n rou erf, ’n nuwe baba aan die kom: dit is hoe my skuif na die RAU prakties begin het. Ek het besluit om dit te beskou as ’n nuwe avontuur wat voorlê.

Vreugdevolle, harde werk

 

Daar was nie juis tyd vir behoorlik grondvat by die nuwe werkplek nie. Ek was nog voluit in diens by UNISA tot einde November 1968, onder andere met berge nasienwerk en ’n nuwe studiegids wat ek geskep het vir ’n B.A. Honneurskursus in sosiolinguistiek.

Intussen moes die Kernaantekeninge vir die eerste kwartaal van 1969 by die RAU in plek kom en biblioteekboeke wat aansluit by my doseerrigtings moes dadelik vir die RAU-biblioteek bestel word.

Die Kernaantekeninge wat ek vir die akademiese jaar van 1969 splinternuut moes beplan en opstel vir Praktiese Afrikaans, was die volgende:

Deel 1: Grondbeginsels van die geskrewe en gesproke Afrikaanse taalgebruik (Ses hoofstukke)

Deel 2: Stelwerk / Styltoepassing (Drie hoofstukke)

Deel 3: Letterkunde (Vier hoofstukke)

Behalwe vir die kursus Praktiese Afrikaans waarvoor ek alleen verantwoordelik was, het ek professor Francois Odendal ook gehelp in sy taalkunde-opdrag en vir professor FIJ. van Rensburg met groepklasse in verband met letterkunde. So was Francois Odendal en ek saam betrokke by die opstel van Kernaantekeninge vir die kursus Afrikaans-Nederlands Taalkunde 1B en ek was vir die tweede  semester van 1969 alleen verantwoordelik vir die Kernaantekeninge en kursusaanbieding van Sewentiende-eeuse Nederlands vir die tweedejaars.

Ek onthou nog goed hoe die tweedejaars dit dikwels maar moeilik gehad het met die vormleer (byvoorbeeld werkwoordvorme, persoonsvorme, verbuiging, vervoeging) van die Sewentiende-eeuse Nederlands. Die voorgeskrewe leestekste (1 000 reëls uit Van Riebeeck se Daghregister en 1000 reëls uit A Weijnen se bundel  Zeventiende-eeuwse Taal ) het hulle egter interessant gevind en selfs geniet: soos die aardsheid daarvan en direktheid van segging. Vir my as taalstudent met ’n agtergrond in Duits, Latyn, Grieks, Goties, Nederlands (en Semitiese tale) was dit ontnugterend om te sien hoe min die gemiddelde Afrikaanse student in die ou taalverskynsels belangstel. Hulle het baie meer van letterkunde gehou!

In die tydelike geboue van die RAU op die terrein in Braamfontein wat voorheen aan Ohlsson’s Cape Breweries behoort het, het ek ’n bekoorlike en seker enigsoortige kantoor gehad. Dit was ’n soort bo-vertrek aan die einde van die kantoorblok, met ’n staaltrap aan die buitekant na die kantoor se buitedeur. In die brouery-dae was dit seker ’n verhoogde toesighouerskantoortjie aan die einde van die lang fabrieksvloer.

Wanneer ek vroeg in die oggend of laat in die aand met die weerklinkende staaltrap op- of afklim, het ek gevoel asof die hele Braamfontein kan wakker word daarvan. In die dun lug van Johannesburg se prille winter trek klank mos ver, het ek gedink. Ons het heel vroeg soggens begin klasgee, ek dink dit was van ongeveer 6:30 of 7:00 af, vir die rekenmeester- of regstudente wat buitemuurs klas geloop het en voor die kantoordag hulle klas in Praktiese Afrikaans bywoon. Party aande was die laaste klas vir buitemuurse studente tot so nege-uur of halftien. Die groepklasse het dikwels smiddae plaasgevind. Die hoofstroom eerste- en tweedejaarstudente het in die gewone werksoggende klas geloop.

Omdat ek ’n taaldosent was, is van my verwag om party ouens uit ander departemente se kernaantekeninge te help taalversorg. Dié kollegas was uiteraard uitstekende akademici, maar hulle Afrikaanse taalgebruik in die kernaantekeninge moes, volgens professor Gerrit Viljoen, “’n bietjie taalkundig nagegaan” word.  Die “bietjie nagaan” het gelukkig heel gemoedelik verloop en ek het nogal goeie vriende bygekry in die proses.

Die mense, kollegas en vriende by die RAU en in Johannesburg

Na die korrespondensiestudente wat ek by UNISA gehad het, was dit ’n heerlike en stimulerende ervaring om deurlopend studente voor jou in die klasse te hê by die RAU. Oor die algemeen  (behalwe vir party na-uurse studente) was die mense in die klasse nog baie jonk, lewenslustig en tog belangstellend. ’n Sosiolinguistiek-kollega van WITS, professor Len Lanham, het eendag vir my van ons RAU-studente gesê: “They are so CLEAN!” “Clean” het vir hom waarskynlik beteken jonk, gretig vir die akademiese dinge, idealisties, gedissiplineerd en goedgemanierd, en ja, “skoon” ook van uiterlike voorkoms as ’n mens hulle met party ander studentegroepe in Suid-Afrika en die buiteland vergelyk. Ek onthou dat ek later jare ’n keer as gasdosent by die Universiteit van Leuven oor die Vlaamse studente ook gevoel het hulle is nog so jonk en “skoon”.

In daardie eerste jare was daar onder baie van die vroeë personeel van die RAU ’n pioniersgevoel: hulle was deel van ’n belangrike nuwe vestigingsprogram. Die universiteit het allerlei nuwe benaderings en metodes ingevoer wat die doserende en administratiewe personeel kon help deurvoer en verfyn. Die nuwe Afrikaanse universiteit onder leierskap van Gerrit Viljoen in die hart van Johannesburg as ’n wêreldstad, het baie Afrikaanse mense in die land opgewonde gemaak en laat voel dat ’n tipe triomf vir Afrikaans behaal word. Die Departement Afrikaans en Nederlands met sy klein personeel het in die beginjaar en later midde-in hierdie opwelling verkeer. Dit het waarskynlik groot eise aan die leierskap van die departement gestel.

Iets wat ek in die besonder onthou uit daardie vroeë tyd van die RAU is die vriendskappe en saamkuier tussen kollegas uit verskillende departemente. In die kafeteria van die RAU, by Die Transvaler se personeel-eetplek in Jorissonstraat en by huise is heerlik oor en weer gekuier. As jong akademikus het ek in dié tyd vriende gemaak met bekende geleerdes en skakelmense wat ek oor dertig tot veertig jaar vorentoe nog weer en weer gesien het: prof. Floors van Jaarsveld, Ockie Geyser, Sakkie van Rooyen, Pieter van Zyl, JC van der Walt, Herman Krige,Anna Steyn, Ben Piek, Willie Esterhuyse, Peter Engel, R R Arndt, Louw Alberts, Willem van Biljon, G J Hauptfleisch, Ben Cronjé, Neels Rossouw en Koos Roets.

Ook met John Kannemeyer, my letterkunde-kollega wat ongeveer dieselfde tyd as ek by die departement Afrikaans-Nederlands aangesluit het, het ek daardie tyd en nog vir jare later (toe ek by die RGN en by die Stigting vir Afrikaans ’n uitvoerende direkteur was) heelwat kontak gehad. Sy vrou Trix het dikwels by ons aan huis gekom om by Dioné te kuier.

Die Johannesburgse Afrikaners van daardie tyd was volgens my aanvoeling ’n redelike oop (toeganklike) en gemaklike gemeenskap, en hulle het ’n warm gevoel vir die RAU en sy mense gehad. Waar ons in Cresta in Gillardrylaan gewoon het, het ons heelwat vriende in die omgewing gehad, tot in Linden (waar ek op die kerkraad was), Darrenwood, Robindale en Blairgowrie.

’n Skielike keuse vir my: aanhou by die RAU, of eerder ’n pos in navorsingsbevordering by die RGN?

By die RAU het soms genooide sprekers opgetree, persone wat landwyd bekend was vanweë hulle rol in byvoorbeeld die sakewêreld of wetenskapsbeoefening.

Eendag in die tweede helfte van 1969 het dr. Paul Robbertse, die president van die nuut gestigde Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria, by die RAU met die personeel kom praat. Hy het vertel hoe dié Raad in die toekoms met universiteite landwyd gaan saamwerk en ook self grootskaalse navorsingsprogramme sal aanpak.

Na die toespraak het ek in teetyd met dr. Robbertse gaan gesels oor die uitdagings van grootskaalse taalnavorsing in Suid-Afrika soos ek dit sien. Dié onderwerp sluit aan by die honneurskursus in sosiolinguistiek wat ek ’n jaar tevore by UNISA uitgewerk het en by my eie nagraadse studies in die sosiologie naas my M.A.-graad in die taalrigting.

Dr. Robbertse het dadelik belanggestel en gesê hulle oorweeg om ’n Instituut vir Taal, Lettere en Kuns by die RGN te vestig. Hy het my genooi om in Pretoria verder te kom gesels.

Daaruit het gespruit dat die RGN aangegaan het met hulle planne vir die nuwe taal-en kunste-instituut en dat hulle vir dr. P G du Plessis van Wits en vir my poste aangebied het om die instituut te help vestig.

Dit het my voor ’n groot keuse gebring: wil ek aanhou om die “jong dosent” in die departement Afrikaans van die RAU te wees met Praktiese Afrikaans as doseeropdrag en ongeveer geen studietyd nie, of wil ek liewer landwyd met taaldepartemente skakel en self ook gevorderde navorsing doen?

Ek het laasgenoemde moontlikheid gekies en nooit daaroor spyt gewees nie.

Die “kort avontuur” by die RAU het vir my oorgegaan in ’n lang en durende uitdaging: om soos ’n soort deurlopende draad tot vandag toe (Maart 2011) met grootskaalse taalopnames te doen te hê. Die nuutste hiervan het as resultaat die reeks verslae uit die Afrikaanse Taalraad (ATR) se sogenaamde Taaloudit op verskillende gebruiksterreine van Afrikaans. Die jongste is die verslag oor die bestekopname van Afrikaans in die kerke in Suid-Afrika, 2010.

By die uitkomste van sulke grootskaalse taalopnames sluit aan die opstel van ’n Afrikaanse taalstrategie, ook genoem ’n omvattende taalplan vir Afrikaans, soos ek dit beskryf het in die RAU se Aambeeld-tydskrif van Junie 1996.  So ’n taalplan kry steeds aandag, nou die aandag van die Afrikaanse Taalraad.

Baie dankie aan die RAU se departement Afrikaans en Nederlands vir die kosbare ervaringsgeleentheid wat ek vir ’n kort rukkie by hulle gehad het en wat die res van my lewe vir my baie beteken het.

My herinneringe aan die Departement Afrikaans(-Nederlands)

Ronél Smit  (Inligtingsbibliotekaresse)

Die departement Afrikaans was nog altyd inspirerend en imponerend, maar by tye ook heeltemal oorweldigend – veral vir voorgraadse studente.

In 1972 het ek met die departement kennis gemaak op die ‘Ou kampus’ van die RAU in Braamfontein in die geboue van die bierbrouery.

In ons heel eerste lesing is dit wat die departement van die studente verwag, duidelik uitgespel. Jaar na jaar tot in my Honneursjaar het hierdie tradisie gebly. Pedagogies was dit uitstekend omdat niemand ooit in die duister gelaat is oor dit was ontoelaatbaar was of oor die standaarde wat gestel is nie. Sielkundig gesien, het dit gewoon vrees ingeboesem. Semester vir semester het hierdie voorskou oor die werk vir my na ver bo my vuurmaakplek geklink en het ek in vrees en bewing vir druip, skouer aan die wiel gesit en gewerk dat dit klap – sonder om te weet of dit goed genoeg sou wees!

Komiese verligting was daar in my eerstejaar darem ook en wel in die vorm van mnr. Jan Spies se Fonetieklesings. Ons het almal geskaterlag, maar so grappig, soos wat sy lesings was, so genadeloos was sy toetse en die eksamen. Ware rillers!

In Afrikaanse vakdidaktiek ’n paar jaar later het dr. Spies op ’n keer ’n gedig oor Adam en Eva met ons behandel en ek hoor hom nou nog sê: “Here, mense! Dat hulle nou vyeblare geneem het om hulle skaamte mee te bedek… Dink net hoe dit gebrand het!” Elke skildery, beeld, gedig of ander verwerking van hul verhaal, roep sedert daardie klas sy woorde by my op!

Prof. FIJ van Rensburg – alombekend as ‘Prof [fәi]’  en afgelei van sy voorletters – was nie die tipe mens wat in die alledaagse omgang tussen student en dosent  vriendskaplik of vrypostig as sodanig aangespreek kon word nie. Een en almal het hom altyd formeel aangespreek.

Van my eerste jaar onthou ek dat geen student ooit laat vir sy vroeë halfagt lesing durf wees nie en indien jy was, moes jy maar liewer wegbly. Een keer was my bus laat en het ek tog in vrees en bewing tien minute laat ingesluip. Groot was my verligting toe die klas gewoon normaal aangegaan het…

As eerstejaars het ons nie besef hoe bevoorreg ons was om self by professor Van Rensburg klas te loop in Afrikaanse literatuurgeskiedenis nie. Niemand wat ek ooit na hom ontmoet het, besig Afrikaans soos hy nie. Daardie rustige, duidelike stem het in ’n groot kabbelende stroom die mooiste, keurigste Afrikaans geuiter waarmee diepe literêre insigte verhelder is, voorgelees is of gewoon gepraat is. (Nie dat iets wat oor sy lippe gekom het, ooit vir my gewoon geklink het nie, maar tog!) Sy beleefdheid, statigheid en waardigheid is, soos toe, vir my hoe ’n hoogleraar behoort te wees!

Met ons eerste taalkundegroepsklas het mnr. Victor Webb – ja, dit was nog die tyd van die wonderlike, maar gevreesde groepsklasse – ons hele groepie die biblioteek gaan wys. Op die ou kampus moes ’n mens met ’n lang, smal gang tot feitlik aan die einde van die grondvloer van die biblioteek loop en dan met trappe afgaan na ’n redelik donker ondergrondse vlak waarin al die taalvakke gehuisves is. Dit was seker nie so donker nie, maar sonder daglig het dit nie toeganklik en vriendelik gelyk nie. Die versamelings van Linguistiek, Literatuurwetenskap en Nederlands is ook aan ons gewys.

Ek onthou dat Afrikaans links voor teen ’n muur was. Nadat mnr. Webb die rakkodes aan ons verduidelik het , is ons die vakbibliotekaresse vanaf ’n afstand gewys en is die klas afgesluit met die raad of opdrag dat ons die inhoud van hierdie, (vir ons oorweldigende), boekery ons eie moes maak.  Dit was wel oordryf, maar in later jare het ek dikwels gewens dat alle dosente hulle eerstejaars so aan die hand biblioteek toe moes lei om die belangrikheid van die biblioteek en vakbibliotekaresse te onderstreep en om die stelsel te verduidelik. Na daardie besoek was die biblioteek nie meer ’n vreemde plek nie en het ons geweet waarheen om te gaan en dat ’n mens dit maar die trappe af kon waag!

In my tweede semester op universiteit het ek vyf kosbare semesterweke verpas omdat ek na ’n motorongeluk nog moes aansterk. Dit het beteken dat ek in sowel Taal- as Letterkunde ’n semestertoets en ’n taak gemis het. Dit het ook beteken dat ek geen groepsklaspunt kon opbou nie. Een dag toe ek op my moedeloosste was, het my sussie vir my onverwags ’n indirekte boodskap vanaf prof. Van Rensburg via sy dogter, Iske, en ’n klasmaatjie van my sussie gebring wat vir my baie beteken het. Sy het aan my sussie vertel dat haar pa baie dink van die onderrig van juffrou Sommers (Helpmekaar Meisies se senior onderwyseres vir Afrikaans) omdat “jou sussie die beste in die eerstejaars se letterkunde-eksamen gevaar het.” Eers enkele jare gelede het ek die moed bymekaar geskraap om vir prof. Van Rensburg self te sê hoeveel hierdie simpatieke boodskap vir my beteken het en dat ek destyds geweet het dat dit vir hom iets heel buitengewoons was om te doen. Dit het van sy stille omgee vir sy studente getuig.

Terug op kampus moes ek mondelinge aflê en het ek die gedugte dr. John Kannemeyer in ons Nederlandse literatuurgeskiedenisklasse leer ken. Die Nederlandse gedigte het in sy klasse vanself oopgegaan, maar in sy groepsklasse het ons toegeslaan. Hy het die onmoontlike van ons verwag. Ons moes elke naam, elke datum en elke werk wat in die periode wat die betrokke week aan bod gekom het, in die groepsklas kon weergee. Juffrou Smit – met ’n bry uitgespreek – is gepeper met die vrae om te kon opmaak vir verspeelde tyd en was elke Woensdag ’n senuwrak voor, na en tydens die groepsklas!

Vir die mondelinge moes ek na die senaatsgebou gaan en was verbaas oor al die boeke in elke dosent se kantoor. Gedurende die dosente se spreekure kon hulle besoek word en kon ’n mens onduidelikhede wat uit die lesings of groepsklasse voortgevloei het, gaan bespreek. Die hulpvaardigheid van elke dosent in Afrikaans om werk te verduidelik, bly my by. In daardie beginjare het elke student werklik saak gemaak en was ons nie sommer net ’n naamlose massa nie.

Eers veel later het ek met die ander groot krag in die departement kennis gemaak: Prof. FF Odendal. Sy interessante werksopdrag aan ons in ons derde jaar om nuwe, onbekende woorde in koerante te vind en om hulle semanties te ontleed, was die prikkelendste taak wat ek ooit voorgraads moes voltooi. Ek vermoed dat hierdie woorde meegedoen het aan die korpus wat in HAT opgeneem is, maar is nie seker van hierdie vermoede nie. Teenoor die studente was hy baie gemaklik in sy omgang en ook toeganklik en vriendelik. Sy heerlike humorsin en veral sy rustigheid het hom vir my gekenmerk. Dit het vir my nooit gelyk of hy hom gehaas het nie! Ook hierdie heer met sy waardigheid en kennis van die taal was imponerend.

In ons derde jaar was die klasse kleiner en meer intiem. Dit het gelyk asof die dosente meer van ons begin dink het. Hul goedkeuring het soms geblyk uit hul gebruik van ons noemname en nie meer van ons titels en vanne nie. Wanneer dit gebeur het, het mens nogal ’n gevoel van aanvaarding beleef. Veral prof. Odendal het dit gedoen en ’n mens het dit waardeer. Ook as jy hulle buite die kampus raakgeloop het, is jy vriendelik gegroet en is ’n geselsie dikwels aangeknoop.

Mej. Burm is vir ons Middelnederlands vanaf Unisa ingekoop en ek moet sê dat sy ’n dosent duisend was wat werklik gehelp het om ons koppe vir die vreemdheid daarvan oop te maak. Sy was bereid om deur ons handgeskrewe pogings te werk om ons te help om vertaalvaardig te word en was altyd baie simpatiek, aanmoedigend en geduldig.

Tydens my voorgraadse studiejare het ons by mnr. Chris van der Merwe, wat later na Ikeys gegaan het, prosa gekry. By hom was dit bloedsweet, maar opwindend om slegs enkele jare na die Sestigers hul werk te bestudeer. Veral in daardie jare was dit die letterkunde wat ’n mens anders na die wêreld laat kyk het en anders daaroor laat dink het.

In een van sy Nederlandse prosakursusse is Harry Mulisch se werk bestudeer. In die betrokke werk was die ‘in beweging kom’ die Leitmotiv en was ek en van my klasmaats so laf om dadelik daarmee te begin spot wanneer ons lui of moeg was of net niks wou doen nie. Ons  het dan vir mekaar gesê dat ons darem nou in beweging moes kom. Aangesien ek nog met Franza von Hörsten uit daardie klas bevriend is, duur die spottery voort. En ja, ons weet dat ons ‘in beweging kom’ heeltemal anders is!

Na my gradeplegtigheid het elke personeellid verbonde aan die departement Afrikaans wat teenwoordig was, elke student en sy of haar ouers uitgesoek om hulle  geluk te wens met hul graad en gesê dat hulle trots op ons is. Sulke gebare van omgee en menslikheid het beslis vir ons, die studente, baie beteken.

In Julie 1978 is ek as vakbibliotekaresse vir moderne tale – en dus ook vir Afrikaans-Nederlands – by die RAU aangestel. Die universiteit het in 1975 die Aucklandparkkampus betrek en die vierde vloer van die biblioteek, met sy interessante maniere van vakgerigte boekeryruimtes skep, was my werkplek: Tussen die studente en omring deur my verskillende vakke se vaktydskrifte, naslaanwerke en algemene werke.  In hierdie hoedanigheid was ek nou ’n kollega in die departement  en moes ek baie nou met die departement saamwerk. In die proses het ek ’n nuwe sy van die departement leer ken. Die aanvaarding en kollegialiteit wat ek daar ondervind het, het vir my baie beteken.

Gelukkig was die groot kanonne nog daar, maar in die paar jaar nadat ek afstudeer het, het heelwat personeellede weggegaan en is daar intussen ander dosente, soos Rika Cilliers, Jac Conradie, Johan Botha, Dorothea van Zyl en dr. Beneke aangestel. Mnr. Harry Muller het van Literatuurwetenskap oorgeskuif na die departement Afrikaans toe.  Ek kon eintlik nie glo dat die departement in die paar jaar wat dosentekorps betref, feitlik totaal verander het nie. Hul persoonlikhede was ook heeltemal anders as die dosente in die vorige era en die gevolg was dat die studente meer gemaklik met hulle omgegaan het. Die afstand tussen student en dosent het merkbaar gekrimp.

In daardie tyd was Monica Botha die sekretaresse van die departement Afrikaans-Nederlands. Sy was ’n baie uitgaande mens en studente het graag by haar in die kantoor ‘gekuier’ en so seker maar moederliefde en warmte gekry. Sy het regtig die departement in ’n gesellige werksplek omskep. Trudie Strauss wat haar opgevolg het en nog deel van die span is, deel hierdie eienskappe en is ’n besondere knap en vriendelike dame wat in die stilligheid baie trane afdroog en die departement mooi op koers hou.

Daar is baie dosente wat kort by ons gebly het, maar wat uitstekende werk gelewer het. Irene Coetzer, Rhoda Venter en Ina Vos by Taalkunde was voorbeelde hiervan. Hulle entoesiasme en energie het ’n mens verbyster, maar het veel vir die studente en dus ook die departement beteken. Rhoda Venter het selfs in die media aandag gekry toe sy in die laat tagtigerjare in Argentinië navorsing gaan doen het oor Afrikaans daar.

Toe ek as groentjie-vakbibliotekaris begin werk het, was my eerste doktorale studente in die departement vir wie ek soektogte (sonder die rekenaar in daardie dae!) moes doen, Johann en Ronél Johl. Ek sal Johann se vriendelike, maar dringende briefies uit Natal nooit vergeet nie. Ek dink nie ek het ooit weer sulke mooi bedankings soos van hom en Ronèl ontvang nie.

Die jonger dosente het ’n nuwe gees in die departement gevestig. Daar was nog meer skeppende energie, maar ook meer toeganklikheid en openheid. Dit was gaaf om te sien dat hulle self vriende was en goed met mekaar klaargekom het en mekaar gehelp, geterg en ondersteun het. Hoogstaande akademiese werk is steeds gelewer en van studente is nog ’n pond vleis ge-eis, maar op ’n vriendeliker en dalk mensliker manier. Ek dink die fynbesnaarde studente se senuwees was buite gevaar. Die doseermetodes het ook verander en studente is meer na hul insigte en menings gevra wat ook met meer vrymoedigheid gelug kon word.

Miskien het ek hierdie verandering die meeste in die prosaklas van die Honneursgroep agtergekom. Week na week het een van my klasmaats – ’n onderwyser iewers – met die grootste selfvertroue vir dr. Botha vertel dat die betrokke aspek wat daardie week behandel is, vergelyk kon word met die karakters van Pinocchio en die eendjie, Gina, wat toe op televisie vertoon is. Hoe dr. Botha die weeklikse onsin kon verdra, weet ek nie. (Ek kon nie!) Was hy saam met my ’n voorgraadse student, sou hierdie siel die eerste keer met woorde tot niks vermorsel geword het en sou hy nooit weer ’n woord kwyt geraak het nie.

Tot vandag toe stel ek Jac Conradie se toegewydheid, vakkennis, deeglikheid en pligsgetrouheid hoog op prys. Ek was vir twee modules in Honneurs sy enigste student en hy het werklik bewys dat hy hare op sy tande het! Hy het werklik alles feil vir sy studente en vir sy vak.

By nabaat ’n groot dankie aan almal in die departement wat hierdie filosofie lewend gehou het. Dankie, Jac, dat jy die beste studieleier is wat ’n mens ooit vir ’n verhandeling kan hê. Jou deeglikheid, flinke terugvoer en omgee is en bly spesiaal.

Later het Johann Johl, Willem Botha en Anna Coetzee nie net by die departement aangesluit nie, maar ook sterk begin leiding neem en oorgeneem na die aftredes van proff. Van Rensburg en Odendal.

Hartseer tye het die departement ook beleef. Ons almal is tot stilstand geruk met die skielike en onverwagte dood van Harri Muller. Hoe Trudie Strauss daardie skok te bowe gekom het, weet ek nie. Toe ook nog ons vriend, Johann Johl, en ’n skamele paar jaar daarna ook ons vriendin, Rika Cilliers, – toe reeds Preller – oorlede is, het dit ons almal tot in ons fondamente geskud. Dit was dan juis die geslag wat die departement vorentoe moes neem!

Hul bydraes kan ’n mens nooit na reg verwoord nie. Ek weet net dat hulle uiters professioneel, briljant en kreatief was. Hulle was boekemense, taalmense en mens-mense wat ’n blywende indruk by hul studente en kollegas gelaat het, asook ’n groot gat in die lewens van almal wat agtergebly het.

Willem Botha was in daardie tyd die anker en steunpilaar in die departement. Van hom het die rustige krag uitgestraal wat almal op koers gehou het en gewys  het dat dinge nog normaal kan en moet aangaan. Sy opregtheid en wysheid het baie bygedra tot die bedaring van die storms. Daarby het hy in sy vakgebied groot internasionale bekendheid verwerf, maar het altyd nederig en menslik gebly. Ek dink menige student het ’n vader in hom gesien by wie hulle altyd goeie raad en ondersteuning kon vind.

Marthinus Beukes en prof. Anna (Coetzee) ja, ’n mens kon haar maar so noem – se aanstellings kom uit sy tyd. Albei is feitlik hiperaktief en eis reaksie, maar het veel bygedra tot die departement, die studente en die vak. Hulle  sterk persoonlikhede het gemaak dat hulle hul individuele stempels in die departement afgedruk het. Albei se opgewondenheid oor hul vakgebied bly inspirerend – en prof Anna bly ’n formidabele vrou wat veel reggekry het! Gelukkig kan die studente nou nog na Marthinus se mooi stem luister. Helaas het beide proff. Coetzee en Botha afgetree en groot leemtes gelaat.

Op ’n stadium het van die departement se assistente ook kom diens doen by my in die biblioteek. Ek is baie trots daarop dat ek toe Thys Human sy vrees vir ’n rekenaar ontneem het en is baie bly dat hy ’n aanstelling na sy studies in die departement gekry het. Dis met trots dat ek lees en hoor hoe hy sy vakgebied bemeester en verder presteer.

Willie Burger ken ek minder goed, maar bewonder hom vir die feit dat hy die departement weer meer bekend gemaak het met sy skryfwerk in Beeld en elders en met sy moderne aanslag en nuwe energie. Dit is gaaf om te weet dat die departement se standaarde nog nooit gedaal het nie en dat dit in goeie hande bly. Onder sy leiding is die sluimerende konsep en geld wat reeds daarvoor bewillig is, verwerklik tot pryse vir skeppende skryfwerk in Afrikaans wat die afgelope agt jaar tot die luister van die departement bydra.

’n Hoogtepunt op die akademiese kalender van die universiteit, was en is die jaarlikse NP van Wyk Louw-gedenklesing. As vakbibliotekaresse moes ek jaarliks tot in die negentigerjare van die vorige eeu ’n uitstalling saamstel wat by die tema van die aand se spreker sou aanpas. Gelukkig was Amalie von Maltitz toe nog die uitstallingsbeampte wat dit kon help verwesenlik. Dit was altyd ’n vreeslike geskarrel om alles betyds klaar te kry, maar die lesing daarna was altyd pure akademiese plesier.

Die universiteit se pryse vir skeppende skryfwerk in Afrikaans wat sedert 2001 toegeken word, plaas die universiteit, maar ook die departement Afrikaans in die kollig. Dit vul my elke keer met trots wanneer ons letterkundedosente – Willie, Marthinus en Thys – die commendatio lees en die werk verhelder.

Die departement Afrikaans het oor die jare heen vir my dierbare en liewe vriende opgelewer, wat ’n sterk anker in akademiese en persoonlike onweer en oorstromings was.  Daarvoor is ek hulle dankbaar – ook al is ek nie meer hul vakbibliotekaresse nie.

Die feit dat die departement nog nooit polities ingestel was nie, het baie agting by hul studente gewek. Die departement het met eerlikheid en integriteit op hul werk gekonsentreer en die fyn balans tussen klasgee en navorsing gehandhaaf.

Groot dank aan een en almal in die departement oor die jare heen vir hulle interessante leerplan, die hoë eise wat hul aan hul studente gestel het en vir hul deeglikheid. Dankie aan almal  vir die handhawing van hul hoë standaard, hul werksetiek, hul professionaliteit, kreatiwiteit en liefde vir hul vak. Dankie dat elke student saakgemaak het, iemand was en ondersteun is. Dankie vir die inspirasie, die kennis en toewyding.

Die departement  hoef nie daaroor te twyfel dat hulle studente steeds hierdie waardes aan ander oordra saam met ’n geloof in en ’n liefde vir ons pragtige taal nie. Dit is, na alles hul nalatenskap aan ons, hul studente.

Twee legendes van die jare sewentig

Jaap Steyn

Hierdie stuk skryf ek eintlik as buitestaander, want ek was nooit lid van die Departement Afrikaans en Nederlands nie. Een semester, terwyl prof. Francois Odendal met verlof was, het ek darem sintaksis vir die derdejaars gegee, en dit baie geniet – eintlik meer as my eie vak, algemene taalwetenskap.

Maar soos by die meeste ander histories Afrikaanse universiteite was daar altyd ’n goeie verhouding tussen ATW en Afrikaans en Nederlands. Gevolglik was ek goed bevriend met die meeste van die Afrikaans-mense in die tyd dat ek by die RAU was --  van Julie 1970 tot Junie 1974, en toe weer Augustus 1975 tot Maart 1985. (Die rukkie tussenin was ek by Rapport.)

Daar was ’n gedurige kom en gaan van dosente, want Afrikaans en Nederlands was nog ’n groot vak aan al die universiteite, en goeie poste het telkens goeie mense weggelok.

Nie almal het ter wille van bevordering gegaan nie. Chris van der Merwe was ’n lektor toe hy ’n lektoraat aan die Universiteit van Kaapstad aanvaar het, al sou hy by die RAU waarskynlik baie gou senior lektor geword het. Maar hy het ’n groot heimwee na die Boland gehad, en wou buitendien wegkom van die gejaagdheid van Johannesburg.

Chris het in elk geval in die Boland grootgeword, en die UK was nie vreemd aan die Van der Merwes nie. Sy oom, Izak van der Merwe, die skrywer Boerneef, was ook dosent in Nederlands en Afrikaans, die naam wat die departement nog in die jare twintig tot veertig gehad het.

Reeds aan die RAU het hy al begin werk aan Tromboniusdagboekenkaart: ’n Boerneefboek wat waardevolle inligting oor Boerneef en sy tyd bevat. Ek vermoed Chris is self jammer dat hy nie ’n volwaardige biografie geskryf het nie. Maar ons was in die 1970erjare nog ’n bietjie in die ban van Van Wyk Louw se Mens agter die boek-vermaning al was Louw nie anti-biografie nie.

Wanneer iemand ’n “karakter” of “legende” is, of selfs “’n legende in sy eie leeftyd”, weet ek nie. Daar is heelwat willekeur in die aanwysing van legendes.

Maar vir my was daar in die jare sewentig veral twee figure in die departement wat as “legendes” sou kon deurgaan, naamlik Harri Müller en Jan Spies.

Hulle twee was ook baie goed bevriend. Albei was byna van nature filosofies ingestel, en albei het ’n skerp insig in die letterkunde gehad. Jan se proefskrif, met prof. Frans Van Rensburg as promotor, het gehandel oor die motiewe van ondergang en verlossing in die werk van DJ Opperman. Een van die gedigte waaroor hy insiggewend geskryf het, is “Paddas”, die slotgedig van Blom en Baaierd. Dit eindig met die strofe: “Ons wat uit die slym / berg en ster berym / roep oor die borreling van die moeras / deur die eeue in ons sange, / toesange en teensange / op Hom ons groot hosannas”.

Meer as twintig jaar nadat hy die proefskrif voltooi het, sê hy aan Van Rensburg: “Professor, ek wens ek kon daardie gedeelte van my proefskrif oorskryf. Ek besef nou ek was nog nie ryp genoeg vir die gedig nie.” Uit die gesprek het dit geblyk dat hy kort vantevore in ’n boek oor die prehistorie gelees het dat die heel vroegste geluid uit die keel van ’n lewende wese op aarde van die padda afkomstig was.

Jan het my voor die indiening van die proefskrif gevra om taalfoute reg te maak – hoekom weet ek nie, want egte taalfoute het hy nie gemaak nie. As beloning sou ek ’n gebonde eksemplaar kry.

As gevolg van sy perfeksionisme – ’n eienskap wat hy met Harri gedeel het – het ek daardie proefskrif nooit gekry nie. Hy het dit wel laat kopieer, maar het nooit so ver gekom om dit te laat bind nie. Ek het aangebied om self die los blaaie te sorteer en te laat bind, maar hy het geweier. Hy wou dit self netjies en behoorlik doen. Dit vermeld ek maar net omdat ek dit as ’n groot verlies beskou dat ek daardie proefskrif nie ’n tweede keer kon lees nie.

Jan was reeds vermaard as storieverteller by die RAU toe die Afrikaanse diens van die SAUK hom in die vroeë jare sewentig gevra het om van sy stories in die nuusprogram “Monitor” te vertel, wat toe pas begin het. ’n Klompie jare later het hy saam met PG du Plessis in ’n geselsprogram oor die televisie opgetree.

Sy stem het baie bygedra tot die snaaksheid van sy stories, en mense het hom probeer na-aap en selfs sy stem vervals. Eers baie jare nadat ek hom leer ken het, sou ek lees hy sê: “Ek het tog so ’n ou k*k stem.”

Dit was in ’n gesprek met die skrywer André le Roux, wat destyds verbonde was aan die redaksie van Die Burger. Le Roux het in die jare tagtig verskeie briljante onderhoude met skrywers gevoer, onder andere met Jan (Die Burger, 5 September 1987).

Op skool in Namibië -- op Stampriet in Mariental se omgewing, en ook in Windhoek -- “ is ek gespot oor my stem, jááre lank. Ek het oor my stem ’n vreeslike selfbewustheid gehad”, het hy gesê.

Die besondere aksent het hy blykbaar geleer by bure wat van Namakwaland gekom het, mense wat kon vertel en kon gesels. En terwyl ander kinders speel, het hy in die geselskap sit en luister. Gelukkig maar, dat sy mense hom nie weggejaag het omdat hy “tande tel” nie. Dis iets wat kinders van sy generasie (soos ek) maar alte dikwels moes hoor.

Jan is in 1977 Namibië toe omdat hy gevoel het dis sy plig om ’n bydrae te lewer tot die bevryding van sy geboorteland. Dit klink seker ongeloofwaardig polities korrek om dit só te stel, maar die altyd onkonvensionele Jan was ’n teenstander van apartheid terwyl die beleid in Suid-Afrika en Suidwes nog baie aanhangers gehad het.

Hy is in 1963 aangestel aan die Indiër-onderwyskollege in Johannesburg. In ’n onderhoud met Elsa Krüger van Beeld (19 September 1987) het hy gesê dat hy van sy gelukkigste jare by die Indiërs deurgebring het. Die houding van dié groep teenoor hom het hy gekontrasteer met dié van die liberale studente van Wits met wie  hy destyds ook te doene moes kry. Dié wou hom nie aanvaar nie omdat hy ’n Afrikaner was. “Die sogenaamde liberal minded people het die minste toleransie waaraan jy maar kan dink. As jy nou ’n verkrampte dôner wil hê, dan’s dit ’n sogenaamde liberalis.”

Hy was van sy studentedae aan die UP bekend as teenstander van apartheid. “Ek was nooit ’n apartheidsdogmatikus nie. Ek was ’n rebel. Maar ek was nooit op so ’n manier ’n rebel gewees lat my anner vriende van wie ek verskil het, my as ’n verraaier beskou het nie. Ek het nie politieke vyande nie, en elke ou weet hoe ek voel.”

Jan was ’n bloedsap; Harri was weer so min of meer ’n Cape liberal Nat, maar ek moet dadelik byvoeg dat Harri beslis nie daarvan sou gehou het dat ek hom so noem nie. Wat ek bedoel, is dat hy oor kleursake liberaal was, oor die taalkwessie onberispelik vriendelik maar ferm.

Hy was ’n produk van Bonnievale, die UOVS en Oxford. Op Bonnievale het hy grootgeword en skool gegaan, en aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat sy BA behaal met onderskeidings in drie hoofvakke, Afrikaans-Nederlands, Engels en Duits. Hy het met Engels voortgegaan en onder prof. J.R. Wahl ’n uitstekende M.A.-tesis geskryf, en ge-cum, oor die literêre tydskrif Scrutiny en dié se literatore. Onder meer op grond daarvan is ’n Rhodes-beurs aan hom toegeken om in Oxford te gaan studeer.

In party opsigte was Harri ’n egte Scrutiny-man. Ook hý het baie aandag gegee aan ’n verskeidenheid aspekte van taal, veral, soos die Scrutiny-mense dit genoem het, “the poetical use of language”. Ten tweede het hy soos dié groep ’n hewige afkeer gehad van “literary coteries and the clique spirit in criticism” en die “social-personal’ values or, in another sense, the ‘associational spirit’” wat so ’n verderflike rol kan speel wanneer skrywers, kritici en joernaliste mekaar op sosiale vlak persoonlik ken. Ten derde het hy soos FR Leavis die “creative quarrel” verwelkom en verskeie kere aan skerp polemieke deelgeneem.

Hy skryf op 6 November 1979 in Beeld dat wat in die literêre kritiek nodig is, “(en deesdae is dit byna volslae afwesig: ’n mens het die indruk dat dit op rare wyse beskou word as nie ‘goeie maniere’ nie) is dat kritici oor dieselfde werk of saak in dieselfde blad ’n indringende en selfs skerp polemiese debat voer. Op hierdie wyse kan nader aan ’n juister besef van literêre waardes beweeg word – nie net maar deur geïsoleerde opinies wat ’n leserspubliek self moet versoen nie.”

Later in dié polemiek (met Chris Barnard) skryf hy: “In ons soort werk is redelike broedertwis altyd beter as sosiaal-persoonlike aanvly en verbroedering. Wees dus gerus indringend en skerp i.p.v. vaag en salwend, want laasgenoemde verwag ek nie” (Beeld, 10 November 1979). In ’n ander polemiek het hy te velde getrek teen “selfbeskermende” en “selfbehoedsame” vaagheid (Beeld, 8 en 17 Mei 1980).

Ná sy dood het ek in ’n artikel (“Polemiese werk van HCT Müller”, Stilet VI (2), 1-28, 1994) daarop gewys dat hy veral in een opsig kritiek van sy medeliteratore gekry het, en dis die feit dat hy as staatsgetuie in ’n sensuurverhoor opgetree het. Hy was in 1974 een van die letterkundiges wat skerp kritiek gehad het op die verbod van André P Brink se Kennis van die aand. In Standpunte van Februarie 1978 het hy ernstige bedenkings oor die sensuurstelsel uitgespreek en betoog daar bly niks anders oor om te doen as om voort te gaan met gefundeerde protes daarteen nie.

Tog was hy in 1981 een van die staatsgetuies in ’n saak teen Dan Roodt. Roodt het in die landdroshof verskyn op aanklag dat hy ’n ongewenste publikasie voortgebring het. Dit was die tydskrif Taaldoos, waarvan Roodt een van die redakteure was. Harri se mening was dat die Taaldoos-stukke, op een na, sonder enige literêre waarde is. Hy is ná die verhoor onder meer skerp gekritiseer op die boekeblad van Die Vaderland, maar hy het op briljante wyse daarop geantwoord.

In die verhoor is hy ook ondervra oor wat pornografie is; die kwessie was destyds omstrede, en het in die verhoor ter sprake gekom. Pornografie is nie “aanstootlik” of “onwelvoeglik” omdat dit afkeer of seksuele begeerte opwek nie, het hy gesê. Die bedenklike aspek van pornografie lê in die aantasting van menslike waardigheid, meestal deur inbreuk op die waardigheid van die seksualiteit, die privaatheid en eienheid van individue. Dit alles word bepaal deur die wyse waarop daar met die materiaal gewerk word.

Johann Johl het ná Harri se dood verwys na sy perfeksionisme, wat eintlik verhinder het dat hy meer gepubliseer het. Wat hy wel geskryf het, was altyd formidabel. Hy het werk van hoë standaard verwag, was ook nooit tevrede met sy eie werk nie. Hy het self getik – en talle velle papier met net een of twee reels getik voordat hy dit uit die tikmasjien gepluk, opgefrommel en weggegooi het. Dit was natuurlik voor die dae van ons gerieflike woordverwerkers en rekenaars.

Harri en Jan se betreklik vroeë dood was ’n slag vir die Afrikaanse intellektuele lewe.

Groete

Diek van wyk

Waaroor skryf iemand wat in 1994 aan die einde van sy akademiese loopbaan gekom het, by die herdenking van die 40ste bestaansjaar van ’n departement waarmee hy noue bande gehad het? Natuurlik oor die ou dae, oor die beginjare, toe dinge nog anders was. Oor tye waaroor jou geheue jou die minste bedrieg en oor magneetvelde wat jou gedagtes die dwingendste trek.

En waaroor kan jy dit hê as dit gaan om ’n tweeluik-departement en jy ’n taalkundige was? Natuurlik, by al jou groot waardering vir die letterkunde-luik, hoofsaaklik oor jou kontak met en ervarings van die taalkunde-luik. Dit is deur dié luik wat ek vir ’n wyle na die verlede wil loer.

’n Tweeling, soos die taalkunde- en letterkunde-luike, sou jy die Departement Afrikaans-Nederlands en die nou lank reeds getransformeerde Departement Algemene Taalwetenskap nie kon noem nie. Bloedfamilie was hulle egter wel. Van die dag in 1969 toe dit my gegun was om ATW as Departement aan die RAU te vestig, was daar dié soort resonansie tussen die twee departemente wat net tussen gesinslede kon plaasvind. Dié resonansie het voortgeduur ook nadat die Departement ATW tot ’n nuwe entiteit omvorm is en ek later na Afrikatale verhuis het.

Pas na my aankoms is ek gevra om ’n kursus in ATW vir Afrikaans-Nederlands-studente aan te bied. Ek moes hulle inwy in die geheime van die organonmodel van Bühler, die strukturalisme van De Saussure, die Praagse skool van Trubetzkoy, die TGG van Chomsky, en so meer, dit alles as agtergrond vir hulle studie van Afrikaans.

In die klas was daar ’n student wat, via ’n kortstondige assistenskap in ATW, lektrise aan die Universiteit van Witwatersrand geword het. Dit was my voorreg om deur prof François Odendal genooi te word om as mede-studieleier van haar MA-verhandeling oor die reëlpatrone agter nasalering in Afrikaans op te tree, ’n studie wat in dié stadium op die voortpunte van die fonologie in Afrikaans gestaan het. Later sou Anna Coetzee, na voltooiing van haar proefskrif in die sosiolinguistiek, as professor na haar tuisbasis, die RAU, terugkeer.

Anna se verhandeling was nie enigste wat nuwe weë betree het nie. Leon Louw, vir wie ek ook mede-studieleier kon wees, het ’n empiriese ondersoek gedoen na ’n aantal toe nog resente uitspraakverskynsels in Afrikaans aan hoërskole aan die Rand. Dit het gehandel oor verskynsels wat nie voorheen opgeteken was nie, en wat bestudeer is aan die hand van ’n metodologie wat toe nog nuut was.

’n Ander baanbreker-studie was NL Nkatini se proefskrif oor die Afrikaans van Tsonga-sprekers, waarby ek ook betrokke kon wees. Afgesien van die oorspronklikheid van die onderwerp, was Nkatini, sover bekend, die eerste Swartman wat ’n doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde behaal het.

In ander gevalle was dit nie nodig om formeel by studies betrek te word nie, maar slegs om my “fonetiese oor” uit te leen. Toe Rhoda Venter haar MA-verhandeling oor die stand van Afrikaans in Argentinië gedoen het, moes ek in die taallaboratorium luister na bandopnames om uitspraakeienaardighede te help identifiseer. Ook weer toe Dirk van Schalkwyk sy doktorale navorsing oor Rehoboth-Afrikaans voorgelê het.

’n Departement wat hom nie deur grense laat afskrik het nie. So sou ek die Departement Afrikaans-Nederlands van ons gedeelde jare, ons familie-jare, beskryf: nie bang vir uitdagings nie, nooit huiwerig om nuwe terreine te betree nie, met ’n vakkundige bereik wat van Argentinië oor Namibië via die Rand na Gazankulu kon strek, ’n departement wat hom nie deur die eng beperkinge van fonetiek, fonologie, morfologie, semantiek, sintaksis, sosiolinguistiek laat inperk nie. En wat die twee luike betref, ook nie deur afsonderlike dissiplines nie. Daar was by voorbeeld die geleentheid toe ek op uitnodiging van prof Frans van Rensburg, wyle Harri Müller se doktorale eksamen as eksaminator moes bywoon.

’n Pioniersdepartement sou ek die Departement Afrikaans-Nederlands ook wou noem. Beslis op vakkundige gebied, waar my twee kollegas, hul makkers en hul opvolgers diep spore getrap het. Maar net so seker ook binne die breër opset van die universiteit as instelling. Toe die Randse Afrikaanse Universiteit in 1968 tot stand gekom het, het dit op talle terreine vernuwing in die universiteitswese in Suid-Afrika ingelui. Baie van die innovasies waarmee voor die dag gekom is, is later deur ander universiteite nagevolg.

In die vestiging van nuwe strukture en ’n eie etos het die Departement Afrikaans-Nederlands ’n leidende rol gespeel. Daar is veral in die gestaltegewing van die onderrigkode, wat die grondslag van die universiteit se onderrigfilosofie sou word, leiding geneem. Sonder die insette van professore Frans van Rensburg en Francois Odendal, om hulle by die naam te noem, sou daardie grondslag nie vorm kon aangeneem het nie.

Die Departement het sy bydrae nie net in die bedink van die nuwe beginsels en strukture gelewer nie, maar ook in die bestendiging daarvan. Albei my kollegas was by geleentheid voorsitter van die Leerganggroep Tale en Dekaan van die Fakulteit Lettere en Wysbegeerte. En oor die jare het hulle en hul kollegas en opvolgers in die Departement in die kritiese gees van akademiese onafhanklikheid op fakulteit, senaat en in komitees sorg gedra dat die akademiese wyn nie met water gemeng word nie.

Sedertdien het die akademiese landskap verander. Die RAU is omvorm tot ’n  omvattender Johannesburgse Universiteit met ’n nuwe etos en nuwe strukture wat aansienlik verskil van dié waaraan hierdie pioniersdepartement vorm help gee het. Verskeie akademiese loopbane in die Departement is deur die tyd ingehaal. Enkele dosente se uurwerke het helaas ook tot stilstand gekom. Die grondslag van akademiese onafhanklikheid en kritiese afstand, van vakkundige waagmoed en vernuwende denke wat deur hulle gelê is, het egter onveranderd gebly. Die Departement bly op die voorpunt.

Doe zo voort!

Dit was heerlik om bloedfamilie te kon wees en die familieverwantskap na soveel jare te kon herleef.

Stories uit vroeër dae by die R.A.U.

Dorothea van Zyl

Toe ek in Oktober 1973 op 24 jarige leeftyd as junior lektrise in Afrikaans en Nederlands begin by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg het ek nog net my tuisdorp Graaff-Reinet en studentedorp Stellenbosch geken. Die grootstad was dus vir my geweldig opwindend, maar het my ook volgens my destydse aanstaande  Wium van Zyl – inmiddels my eggenoot van 36 jaar  – in voorheen ongekende tale leer praat in die verkeer. Hoe kon dit ook anders in ’n blou Volkswagen Kewer met nommerplaat CAZ 2008? Alle vragmotorbestuurders het by voorbaat getoet, of ek nou reg gery het of verkeerd.

Dit was ’n besondere aankoms. Ek het ’n woonstel gedeel met Elmien Spies en ’n kantoor met Jaap Steyn, maar het die twee gegewens gereeld per ongeluk omgeruil – tot groot verleentheid van ons latere goeie vriend Jaap. Die universiteit was nog in Braamfontein gevestig, binne stap-afstand van die woonstel. Dit was ’n lelike ou gebouekompleks van buite, maar wat ’n gesellige plek. Wat my bybly, is die rollende lagbuie as ek soggens daar instap, van my kollegas Harri Müller, Chris van der Merwe en Jan Spies in die kamer aan die bokant van die trap bo my kantoor. Natuurlik is daar teetye die wonderbaarlikste stories in die teekamer vertel – nog lank voor Jan bekendheid verwerf het met Spies en Plessis. Ek kon nie in ’n lekkerder departement beland het nie.

Ek was pas by die R.A.U. (ons het nooit sommer van RAU gepraat nie, maar keurig in hoofletters), toe protesteer ons dosente in Afrikaans en Nederlands almal vuriglik saam met die kollegas van Wits teen die verbod op André P. Brink se Kennis van die aand. Dit het gevoel of ek skielik in die middel staan van Sake van die Dag, ’n destydse radioprogram. Ek onthou hoe ’n kollega in Teologie met ’n sober boek oor Christelike sake rondgeloop het, maar ons gou guitig laat merk het die stofomslag is eintlik ’n reisjassie vir sy Kennis van die aand.

Uit hierdie veelbewoë tyd bly veral my eerste kennismaking met die breër universiteitsgemeenskap my by. Ek het reeds tydens my werksonderhoud ’n besondere bewondering en geneentheid begin ervaar vir prof. Gerrit Viljoen, wat elke dosent nie alleen by name geken het nie, maar ook elkeen se hele storie. Toe ek dus kort na my aankoms ’n uitnodiging kry na ’n verwelkomingsete by die rektorspaar aan huis was ek verras en verheug.

Op daardie betrokke namiddag, terwyl ek besig is om aan te trek, het ’n vriendin ’n groot probleem wat sy (langdurig) met my wil deel. Ek gee so tussendeur aandag en simpatie sover ek kan, maar moet uiteindelik verskoning vra en my haas na my blou Volksie om nog betyds te kan wees. Dis klaar te laat, ek ken nie die nuwe stadsomgewing nie en boonop steek daar ’n enorme donderstorm op wat die lug in ’n ommesientjie pikswart laat verkleur. Teen die reënstrome en duister maak die Volkswagen se flou hoofligte en nog flouer ruitveërs nie juis hond haaraf nie.

Die rit is ’n nagmerrie. Ek vind Auckland Park, maar die groot, boomryke buurt blink geensins uit in straatnommers nie. Boonop het ek in my halsoorkoppige haas nie ’n sambreel gegryp nie. In een straat waar ek moet wees, het ’n yslike boom reg oor die pad geval en ek moet terug. Dit is al tyd dat die ete moet begin toe ek gelukkig darem die regte straat vind. Ek sit en bespiegel wat is die ergste: om heeltemal weg te bly en agterna te bel, of om laat te kom. Ek besluit die tweede is ’n fraksie beter.

Ver weg brand ’n liggie by ’n huis met ’n aantal motors. Ek korrel ’n slag benoud en hardloop dan deur die stortreën tot by die voordeur (sonder dakkie). Binne sekondes is ek deurnat, maar niemand antwoord die klokkie nie. Verkeerde huis.

’n Entjie laer af in die straat is nog ’n huis met ligte en motors. Weer ’n blitsige wedloop; gelukkig ’n dakkie, maar toe mev. Viljoen die deur oopmaak, staan ek druipend, met my voorheen netjiese hare in slierte en my gesig skoongewas van enige grimering. Sy neem my gou kamer toe, ons druk ’n handdoek of wat teen my kop en klere, en dan neem sy my na die groot sitkamer.

Voor my sit ’n veel groter vergadering as wat ek verwag het, met sowat dertig kollegas – almal mooi aangetrek, én droog. “Hallo Dorothea, ons wag net vir jou”, sê prof. Viljoen. “Kyk, hier is nog ’n stoel vir jou”. Doodskaam en deurnat, gaan sit ek. En daar breek die stoel!

Van die res van die aand onthou ek min, maar ek het dit nogtans geniet. Ek weet wel nog dat die val onderom my donker sigeunerromp met die fyn blompatroontjie kort voor huistoegaantyd steeds natswaar was. Of my wit hempie deurgeskyn het, sal ek gelukkig nooit weet nie – ek het nie gewaag om in ’n spieël te kyk nie. Irriterend vir my was veral dat, toe die liewe mev. Viljoen die volgende dag bel om te vra of ek nie siek geword het nie, ek nie eens die geringste kuggie kon laat hoor nie! Die gebeurtenis het my blakend gesond gelaat, maar ek was om die een of ander rede daarná baie bekend by ’n hele groep kollegas wat my telkens met ’n groot glimlag gegroet het.

Klasgee was van die begin af vir my heerlik (kom nie verniet uit ’n onderwyshuis nie) en die Randse Afrikaanse Universiteit was in die sewentigerjare ’n dinamiese plek, soos die Departement Afrikaans en Nederlands, met proff. F.I.J. van Rensburg en Francois Odendal aan die hoof. Met die hulp van kollega Chris van der Merwe wat sy aantekeninge gewilliglik met my gedeel het, kon ek my werk met vrymoedigheid aanpak.

Hy het ook baie hulp verleen met besonderhede oor die Rijksuniversiteit Utrecht, want my jare in Johannesburg, van 1974 tot 1978, is onderbreek deur twee jaar doctoraalstudie in Nederland saam met Wium, met wie ek voor ons vertrek getroud is. Omdat my kollegas en vriende nie al die pad na Graaff-Reinet kon reis vir ons huwelik nie, het ons ’n skyntroue met ’n twintigs-tema in Johannesburg gehou, met Jan Spies as seremoniemeester. Onvergeetlik!

Reeds die tweede week op R.A.U. het ek, met die voortvarendheid van die jeug, vir die registrateur gaan vra of die Universiteit buitelandse studie voor- of teenstaan, en tot my verligting gehoor hulle moedig dit sterk aan. Ook agterna gesien dalk vermetel van ’n junior dosentjie, het ek my, saam met die professor in Frans en dosent in Klassieke Kultuur, sterk beywer het vir vroueregte. Dit was destyds nog by alle universiteite wet dat vroue moes bedank sodra hulle trou, waarna hulle op kontrak aangestel is. Sodra ’n vrou verwag, moes sy egter heeltemal uit haar pos bedank, sonder enige keuse op heraanstelling. Ons is saam na prof. Viljoen wat ons vriendelik ontvang het, aandagtig geluister het en toe gesê het sy vrou sal 100% aan ons kant wees. Die RAU was kort daarna een van die eerste universiteite waar permanente aanstellings vir vroue, ongeag huwelikstatus of gesin, ’n gegewe was.

Ek het ook die Groot Trek na die nuwe kampus beleef, ’n splinternuwe betonfabriek van kennis, met ’n lekker gemeenskaplike teekamer waar ’n mens kollegas van ander departemente beter kon leer ken – een van die universiteit se vernuwings.

Op die nuwe kampus het ek selfs ’n middagkonsert in ’n volgepakte ouditorium aangebied om my sangdosent, die voortreflike Sarie Lamprechts, tevrede te stel. Oor enkele van my prestasies was sy baie positief, maar een van die Lieder in die siklus Frauenliebe und Leben was volgens haar ongeveer die ergste uitvoering van haar lewe. ’n Koerantberig in Beeld het vooraf groot aangekondig: “Dorothea sing by RAU”, asof ek bekend was. Dalk was dit omdat Wium toe daar in die nagkantoor gewerk het, maar ek vermoed dit is veral omdat “Labuschagne” heeltemal te lank was vir ’n opskrif.

Ook by die nuwe kampus het prof. Van Rensburg my een oggend gestuur om ’n afkondiging by die groot tweedejaarsklas te gaan maak dat hy laat is. Ewe vernaam laat hoor ek toe: “Prof. Van Rensburg vra dat u asseblief ’n rukkie moet wag; hy is vanoggend ’n bietjie vertraag”. Dawerende lagbuie het my gou laat besef iets is ietwat anders oorgedra as wat ek beplan het – en ek het nogal maklik gebloos.

Ons het baie lekker by die gesellige en kunstige Odendals gekuier. Ek onthou hoe mev. Odendal ’n keer gelag het daaroor dat sy met appelkoosboom en al omgeslaan het in hulle tuin, toe sy in die boom klim wat heeltemal ontwortel is na kwaai reën. Harri Müller het weer smaaklik vertel hoe prof. Odendal gekla het oor die probleme wat hulle gehad het met al die skrootyster in die tuin van hulle splinternuwe huis. Toe skop Harri veragtelik aan juis so ’n stuk afvalmateriaal om sy instemming te toon, maar dit is toe mooi ’n skepping deur Eduardo Villa wat hulle ten duurste aangekoop het! Dit was voor my studie in Nederland en kennis van beroemde ekspressionistiese skilders soos Karel Appel dat prof. Odendal ons een aand wys op ’n skildery aan die muur: “Dit is ’n Appel”, verduidelik hy trots. Hoewel die ontwerp so ietwat ronderig gelyk het, sukkel ek toe baie lank om die kloutjie by die oor te kry, oftewel die ontwerp by die appel!

Die Randse Afrikaanse Universiteit was ’n uitstekende plek om by te begin as jong dosent, want ’n mens het die hele tyd gevoel dat beweeg word op die voorpunt en dat alles moontlik is. Die goeie dissipline van ’n deeglike studiegids en behoorlike werksplan vir elke kursus het ek saamgeneem, later jare na Stellenbosch.

Dit is hierdie universiteitskultuur, maar veral die heerlike ervaringe met gewaardeerde kollegas (van hulle, soos Harri, Jan, Rika Cilliers – en prof. Viljoen – lank nie meer met ons nie) wat die Randse Afrikaanse Universiteit ’n spesiale plek in my geheue laat behou. Dié spesiale band en (Afrikaanse) universiteit verklaar die besondere gevoel wat ek ervaar het toe prof. Van Rensburg my baie jare later onverwags bel om my te bedank vir wat die US Woordfees vir Afrikaans beteken.

Dit het ook meegebring dat ek lang trane gehuil het toe ons weens Wium se nuwe pos by die Universiteit van die Oranje Vrystaat Bloemfontein toe moes verhuis. Ons het ’n jaar lank opspraak verwek in daardie konserwatiewer tyd deurdat Wium in Bloemfontein gewoon het en ek in Johannesburg, maar dit was nie volhoubaar op die duur nie. So kon ek as vrou dus nie lank die voordele benut waarvoor ek help stry het nie, maar gelukkig het heelwat ander verworwenhede wat my loopbaan en my persoon help vorm het, saam met my verder gereis.

Dorothea van Zyl is mede-professor in Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch, voorsitter van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek en direkteur van die US Woordfees.

1998 tot 2008 – tien lekker jare!

Tisa Viviers

Na drie jaar as ’n vertaler en taalversorger in die destydse Taaldiens, is die Taaldiens gesluit en moes al die personeel ’n ander heenkome in die Universiteit vind. Drie van ons, dr. Elise van Staden, Susan Marx en ek, is na die Departement Afrikaans oorgeplaas. Ek is egter nie met ope arms verwelkom nie, aangesien ek nie deel van die akademiese korps was nie en ook nie ’n spesifieke diens in die Departement as sodanig kon lewer nie; ek het immers die res van die Universiteit bedien – almal wat vertalings uit Engels in Afrikaans wou hê. Dit het beteken dat ek kliphard moes werk om myself te bewys, nie net as vertaler/taalversorger nie, maar ook as mens en kollega.

Ek is gelukkig spoedig as een van die Afrikaanse span beskou. Ek het dit waardeer dat al die geleerde professore en ander dosente my as ’n kollega en nie as ’n mindere wese behandel het nie. Ek het ook baie goeie vriende daar gemaak, wat nou dat ek nie meer fisies daar sit nie, steeds my vriende is.

Prof. Willem Botha was op daardie stadium die voorsitter en het my al die vergaderings laat bywoon, wat my op hoogte van alles in die Universiteit gehou het en gesorg het dat ek by al die Departement se aktiwiteite betrokke is. Prof. Botha was altyd rustig, min dinge het hom op hol gejaag, mens kon altyd wyse raad en ondersteuning by hom kry. Hy was ook baie gewild onder die studente en is deur kollegas gerespekteer, nie net in die Departement nie.

Prof. Conradie, wat hom as Jac aan my voorgestel het, was my buurman oorkant die gang. Jac is in my oë een van die beste akademici wat die Universiteit het en ek het geweldige respek vir sy toegewydheid en kundigheid. Ek kon altyd by hom inval wanneer ek met ’n vertaling gesukkel het, en sy leiding en hulp het my in my werk geslyp.

Prof. Anna Coetzee het haar as PROFESSOR Coetzee aan my voorgestel. Hoewel ons soms koppe gestamp het, het ons oor die jare mekaar aanvaar soos ons is.

Dr Martinus Beukes is ’n briljante dosent in poësie en kon ’n baie moeilike gedig “oopbreek” sodat almal dit verstaan. Hy is die een wat altyd by kantoor ingestorm het en my gevra het om hom met taalversorging en/of vertaalwerk (in Engels) te help van sy opsommings van referate, ensovoorts.

Prof. Thys Human, destyds nog net meneer Human, was die jongste dosent in die Departement. Hy is ’n uitstekende dosent en geniet dit om met die studente te werk. My herinnering aan hom is die hulp wat hy aan studente verleen het wat hom in sy kantoor kom spreek het. Thys het ’n baie harde stem en dus is die hele gang onderrig in een of ander letterkundige aspek. Ek was dus dikwels ten volle voorberei vir die eksamen!

Dr. Elise van Staden en ek het ’n langer pad saamgekom. Sy het by die destydse Taaldiens as hoof waargeneem na die afsterwe van prof. Ninon Roets. Elise is ’n kreatiewe wese en kon met woorde toor (moontlik vanweë haar joernalistieke agtergrond). Sy het die vermoë gehad om ’n vervelige verslag soos ’n literêre werk te laat klink.

Prof. Willie Burger en ek het saam in die Departement Afrikaans begin. Hy het alles met entoesiasme aangepak en nuwe lewe in die Departement probeer blaas. Hy het nuwe en vars idees na die Departement gebring en sy stempel deeglik afgedruk.

Rika Preller en ek was vir ’n baie kort tydjie kollegas. Rika was plat op die aarde en baie vriendelik met almal. Dat so ’n vermaarde digter so nederig was, het my beïndruk. Sy het altyd gestraal van trots op haar seun. Haar voortydige dood was baie ontstellend.

Susan Marx was nie baie lank in die Departement nie. Na die geboorte van haar dogtertjie het sy bedank om by die kleinding te wees. Vandat ek haar ontmoet het, het ek haar spontaniteit en “naïwiteit” bewonder. Sy was destyds ongekunsteld en maklik om mee te gesels.

Laastens is daar my groot vriendin en vertroueling, Trudie Strauss, die Departement sy sekretaresse. Jy kan haar enigiets vra en sy weet waar dit is, wie om te skakel, watter vorm om in te vul, ensovoorts. Sy is altyd bereid om die tweede myl te loop. Sy doen so baie dinge buite haar pligte en dra die Departement. Ek onthou die chaos toe sy vir ’n rugoperasie gegaan het. Sy het alles perfek voor die tyd gereël en gesorg dat al die vraestelle gereed is. Maar omdat almal so gewoond was dat sy sekere dinge doen, het hulle soms soos afkophoenders rondgeskarrel. Dit was vir my lekker om te sien dat hulle haar mis en dat hulle haar daarna baie meer waardeer het.

’n Klomp uiteenlopende karakters wat mekaar geskuur en geskaaf het. Maar soos die spreekwoord sê, verskeidenheid krui die lewe. Dit sou baie vervelig gewees het as ons almal dieselfde was – hoe groei en ontwikkel mens as almal soos jy dink en voel?

Dit was werklik vir my ’n voorreg en wonderlike ervaring om tien jaar deel van ’n dinamiese span te wees. Ek kyk met dankbaarheid terug na my jare in die Departement Afrikaans en waardeer elkeen se inset om my te vorm en ontwikkel.

Herinneringe: RAU 1970-1975

Vic Webb

Die Departement Afrikaans-Nederlands van die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg, of soos wyle Johan Combrink dit genoem het: Die firma Nienaber, Nienaber, Nienaber(-Luiting) en N.O.G. Een, was vir my ’n plek van geleenthede. In April 1970 was ek die N.O.G. Een, en daarvoor was ek dankbaar – want dit het aan my toegang gegee tot die geleerdheid en die intellektuele krag van die Nienabers, tot verdere studie, tot klasgee in ’n ondersteunende en uitdagende konteks en, gelukkig, en dit het my ook tot die besef laat kom dat die lewe nie begin en eindig met die letterkunde nie (maar dalk is ek maar net ’n teleurgestelde letterkundige vandag).

Maar die belangrikste geleentheid (van my lewe) wat die Natalse Universiteit my gebied het, was die geleentheid om te kon uitkom by die RAU, aangestel word as lektor in Afrikaans-Nederlands, vanaf Julie, 1970. Oom Gawie het my die begin gegee, maar die RAU die rigting en momentum.

En dus om uit te kom by F F Odendal, FIJ van Rensburg, John Kannemeyer, Jan Spies en Harri Muller (en later ook by Chris van der Merwe en Dorothea van Zyl).

En net so belangrik (dalk belangriker, as ek dink aan my eintlike akademiese toegeneenthede van daardie tyd): by die vermaerde EB van Wyk en by Jaap Steyn, en die wêreld van die teoretiese linguistiek. Dat ek Jaap Steyn kon opvolg in die Departement  Algemene Taalwetenskap, laat my nou nog goed voel.

Ek is baie dank verskuldig aan die RAU, die universiteit met ’n missie, ’n taak, gelei deur die ontsagwekkende Gerrit Viljoen. Dáár:

·     Het ek leer werk – hoe anders, met sulke kollegas?

·     Het my denkhorisonne uitgebrei – hoe anders, met Jan en Harri en Jaap?

·     Het ek ontslae geraak van my engerige verbintenis tot die Afrikanersaak, wat gebore is in die “last outpost of the British Empire”, met sy sterk negatiewe sentimente oor Afrikaans – hoe anders, in die teenwoordigheid van kollegas met sterk intellekte

·     Is ek verryk deur ervarings soos dié met wyle prof. Floors van Jaarsveld van Geskiedenis, wat uitgestorm het uit ’n besoeker van Stellenbosch se gaslesing, omdat dié se stem “die stem was van die Cape Times en die Rand Daily Mail.

·     Kon ek eerstehands kontak hê met kundiges uit ’n wye verskeidenheid van vakrigtings – JC van der Walt van die regsfakulteit, Johannes Heidema van Wiskunde, Willie Esterhuyse van Filosofie, Louw Alberts van Fisika, Ryno Arndt van Chemie – rare belewenisse, maar weer: hoe anders? Ons was almal saam ingedruk in tydelike geboue op die terrein van die voormalige SA Brouerye, en het sáám tee gedrink

·     Kon ek vriendskappe vestig met Paul von Staden van Bantoetale, Bill Henderson van Latyn, en talle ander – hoe anders, want ons het sáám gewerk aan ’n opwindende eksperiment: die konstruksie van ’n klein bastion in ’n “vyandige” grootstad

·     Kon ek leer funksioneer in die grootstad, en selfs tuisvoel in verkeer wat jou (aanvanklik) hoofpyn gegee het van al die gedruiste; die grootstad, wat eens so oorweldigend was

En dan moet ek darem ook die verrykende ervaring noem van toegang tot boeke, in Markus de Jong se boekwinkel, net oorkant die straat in Braamfontein, voor ons vertrek na die doolhowe van Aucklandpark.

RAU het my vakkundige selfvertroue só laat groei dat ek op 1 Julie 1975 kans gesien het om sonder EB van Wyk en FF Odendal alleen te gaan staan in die Departement Algemene Taalwetenskap aan die voormalige Universiteit van Port Elizabeth, iets wat sonder die RAU nie moontlik sou gewees het nie. En daarvandaan die wêreld van die internasionale linguistiek.

Dit was goed aan die RAU. Hoe anders, want standaarde is gestel, en gehandhaaf, ’n roeping is vervul, en ’n diens is gelewer.



[1] Dit dien hier vermeld te word dat gedurende Johann Johl se eerste termyn as voorsitter die Departement besluit het om die naam van die departement te verander vanaf Departement Afrikaans-Nederlands na die Departement Afrikaans. Een van die redes daarvoor was dat die Nederlands-komponente binne die onderskeie kursusse nie meer dieselfde gewig gedra het as die Afrikaans-komponente nie.

[2] Terwyl ek navorsing ten opsigte van my magisterverhandeling aan die Katholike Universiteit van Leuven gedoen het (1996/1997), is prof. Johan Johl onverwags oorlede. Dit was vir my ’n geweldige groot skok en terugslag. Gelukkig het prof. Ronél Johl onmiddellik aangebied om as studieleier oor te neem. Ek het die verhandeling uiteindelik in 1998 onder die besonder vriendelike en bekwame studieleiding van proff. Ronél Johl (as studieleier) en Willem Botha (as mede-studieleier) voltooi.

[3] Aangesien ek steeds saam met Marthinus, Marné, Jac en Trudie werk (en watter voorreg is dit nie!) spaar ek my herinneringe aan húlle vir ’n volgende departementele publikasie!

[4] Omdat Trudie nog altyd my regterhand was, en haar kantoor ook aan dié kant van die gang is, sal ek altyd daaraan as die regterkant van die departementele gang dink.